Moet hierdie
'lelike' goed waai? 

Sommige glo windturbines kan ons red van beurtkrag. Ander meen dit raas, kap voëls dood en clutter die einders van hul geliefde platteland. Waar lê die waarheid?
Francois Williams en Le Roux Schoeman doen verslag.

Suid-Afrikaners is gemaklik met die getroue ou windpomp wat al 'n Karoo-simbool geword het. Waarom dan sy meer moderne eweknie skeef kyk?

Dit was die vraag in ons gemoed toe ons onlangs teen die Weskus op is om te ondersoek hoe die gemeenskap windkrag sien. Sommige kritici het terloops selfs 'n probleem met die woord windplaas. Hulle meen dis eenvoudig 'n eufemisme vir wat die werklik sou wees: 'n windaanleg… As groensake-verslaggewer het ek al heelwat gelees en gehoor van die omvang van ons land se kragtekort, asook die nuwe maniere om dit op te los, van sonkrag tot windkrag. Praat jy met mense soos Peter Venn van die windplaasontwikkelaar Windlab of Herman Oelsner van die Darling-windplaas, hoor jy dié optimisme, die moontlikhede, voordele en die groot geld wat te maak is.

Dan is daar die kritici. Mense soos die ingenieur Andrew Kenny, wat meen kernkrag is 'n beter idee en aanvoer dat die windplase net subsidies se geld insuig… En dan is daar die stemme van die mense in wie se agterplase die turbines se lang lemme sal kap…Die boere en die mense van, byvoorbeeld, die winderige Weskus. Gaan praat jy met Ryan Engelbrecht by Klawer, of John Robinson anderkant Paternoster, hoor jy 'n kommer wat deels groei uit onsekerheid, frustrasie en miskien ook onkunde. Laasgenoemde groep is die einste mense wat die Venns van die wêreld van hul saak sal moet oortuig indien hulle nie plakkaatswaaiers langs hul windplase wil hê nie. Kom ons begin by die kritici…Geraas en doodslagDit gaan nie net jou uitsig versteur nie, maar jou ook kopseer, slaaploosheid, bewende lippe en 'n reeks ander kwale gee. Die draaiende rotorlemme gaan duisende vlermuise en voëls doodslaan, en net sowat 30% van die krag lewer as waarvoor die masjiene ontwerp is. En jy gaan duurder vir jou krag moet betaal.

Dis die argumente wat kritici van windkrag die meeste ophaal. Van die kritiek is geldig, maar sommige daarvan is nie wetenskaplik bewys nie. Vat maar diegene wat sê dit maak hulle mal, of wat dink windturbines lyk lelik. Is dit nie maar altyd die mense wat geen nie direkte voordeel trek uit die windturbines nie? Mense op wie se plase die goed gebou word (en wat honderdduisende rande per jaar se inkomste daaruit kan kry), kla niks oor geraas of gesondheidsprobleme nie. En dink selfs dis mooi.

Boere soos Engelbrecht is besorg oor die effek van windturbines op veral vlermuise en voëls. Vlermuise se longe “ontplof” glo wanneer hulle naby 'n windlaaier verbyvlieg weens die vibrasie van die draaiende lemme, vertel Engelbrecht vir my met sy growwe kontrei-brei toe ons by hom op die plaas gaan kuier. Vlermuise is belangrik vir vrugteboere oor hulle as natuurlike pesbeheer soveel motte opvreet, verduidelik hy.

Hy wil ook weet wat van sy lammers gaan word wat daarnaby gebore sou word, indien die windturbines by hulle gebou sou word. Hoeveel werk gaan die nuwe goed nou eintlik skep? Gaan dit 'n einde maak aan beurtkrag? Gaan ons goedkoper krag kry?…Die vrae stroom oor sy lippe soos water by 'n bergstroom af.

Die trekkrag van die onbekende

Op die pad tussen Vredenburg en Paternoster is daar 'n afdraai na die miskien ietwat ongewone geval van John Robinson en die tuiste wat hy hier geskep het vir sowat 50 verstandelik gestremde volwassenes. “Hulle het stilte nodig. As die horison rondom ons met draaiende windturbines gevul word, bedreig dit die rus en minimum stimulasie wat hierdie inwoners broodnodig het. ”Ook Robinson (soos talle “anti-wind” gesindes) het hard ge-Google om te kom waar hy vandag is. En dit is naamlik: sterk gekant teen enige plan om sy einders met turbines te deel.


Mense wat honderdduisende rande uit windplase kry, kla niks oor geraas of gesondheidsprobleme nie...

Hy vertel van 'n oorsese windprojek wat glo gestaak moes word toe twee outistiese kinders aanhoudend na die turbines “weggehardloop” het. Hulle is glo gelok byna aangetrek - deur die aardige voorkoms daarvan…Wat sal van die outistiese inwoners hier by hom word, vra Robinson, indien voorleggings om hierlangs met wind te boer, nie finaal gestuit kan word nie? Andrew Kenny bly nie in die platteland nie, maar hy vind homself op dieselfde werf as teenkanters soos Engelbrecht en Robinson. Weliswaar vir ander redes.

Kenny spesialiseer in energie en meen windkrag is 'n mors van geld omdat dit nie op dieselfde vlak kan meeding met kernkrag en steenkoolkrag om daaglikse betroubare kraglading te gee waarmee fabrieke bedryf kan word nie.

Hy sit nie om dieselfde vuur as mense soos Herman Oelsner nie. Trouens, Oelsner, wat homself as windboer beskryf, sit glad nie om “vure” en steenkoolaanlegte nie. Vir hom is groen die antwoord… Oelsner is die hoof van die Oelsner Groep en aandeelhouer in die Darling windplaas. Hy stap trots tussen die vier windlaaiers van 50m hoog rond, soos 'n boer tussen vet dorpers. In Duitsland braai en kuier hulle dan reg aan die voet van die turbines, vertel hy wanneer ons hom pols oor gewaande gesondheidsgevare. Oelsner vergelyk sy teenstanders graag met Don Quixote - die windmeulbestormer uit Cervantes se beroemde werk. Dis sinoniem met optrede gegrond in vrees- of onkunde, het hy in sy kantoor se raadsaal aan ons verduidelik. In daardie raadsaal pryk 'n eksemplaar van die einste boek in 'n ereplekkie vermoedelik as waarskuwing teen diegene wat onberedeneerde idealisme sou koester.

Nog iemand wat korte mette maak van die aanslae van die Don Quixotes van die Weskus is Windlab se Peter Venn. Hy glo nie windkrag se wisselvalligheid is 'n probleem nie en dit het nie rugsteun-krag nodig nie. Windplase word verspreid beplan van die Weskus tot die Overberg, die Oos-Kaapse kus, asook in die Karoo en in die Noordoos-Kaap. Die idee is dat die wind ten minste altyd êrens waai, en met windplase geografies verspreid sal daar dus altyd 'n minimum hoeveelheid windkrag gelewer word.

Venn glo dus windkrag kan help om beurtkrag af te weer. Dit kan vinnig binne 18 maande opgerig word vergeleke met die jare en jare van steenkool- en kernkragstasies.

En die punt is...

Ons indruk is tweeledig: Dat die kritici en voorstanders van windkrag dikwels leef op twee verskillende planete. (En wedersydse verdagmakery, help nie juis hierteen nie). En, tweedens, dat die era van windplase aangebreek het - of jy daarvan hou of nie.

Die vraag is nou of die krag wat teen 2030 uit meer as 4000 windturbines in Suid-Afrika opgewek sal word, die geld werd is wat daarop bestee is.


Bron: HowStuffWorks
Grafika: Tyronne Herring, Jaco Grobbelaar, Francois Williams, Grafika24

Wind: waarvoor wag ons?

Caledon wil ook wind ‘oes’, maar vele twyfel nog

Hoekom kry wind-energie so so ’n klein happie uit die
energiekoek, vra Bongani Ndaba

Op die oggend van Woensdag 8 Mei het ek ’n besoek aan die Klipheuwel-Dassiesfontein-wind-energieplaas, so 5 km buite Caledon, gebring. Hierdie aanleg is gebou op grond wat as weiding vir grootvee gebruik is, beslaan 602 hektaar. Daar is nege turbines wat elk 100 m die lug in strek. Volgens Charl Brown, die terrein-ingenieur vir die projek, is ’n windplaas soos Dassiesfontein groot genoeg om maklik in die vraag na elektrisiteit van ’n klein dorp, soos byvoorbeeld Caledon, te voorsien…Gelukkig vir Brown sal ons eers na 20 jaar – soos die duur van die aanleg beraam is – weet of dit ’n sukses of mislukkig was!

Wat kry die boere?

Vir energie-maatskappye is wind-energievervaardiging potensieel voordelig, maar hoe gaan boere hierby baat?

Boere kan ongeveer R100 000 tot R120 000 per turbine per jaar verdien. Maar die vraag is ook hoe wind-energie die aard van landbou langs die kus sal verander. Volgens Pieter Berkis, die eienaar en boer by die Dassiesfontein-aanleg, was daar nog geen beduidende veranderinge aan die landskap nie en sal die windplaas inderdaad sy plaas bevoordeel omdat die groot strukture ’n windskerm vorm wat uiteindelik daartoe sal lei dat weiding langer gebruik sal kan word.

Wat sê die minister?

Die African Utility Week is in Mei vanjaar by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum aangebied. Dit was die 13de jaarlikse konferensie – waar konsultante, vervaardigers en voorlopers in energievervaardiging van oor die hele kontinent bymekaar gekom het.

Me. Edna Molewa, minister van water en omgewingsake, het by daardie geleentheid aangevoer dat hernubare energiebronne genoegsame aandag kry, gesien in die lig van die verskeidenheid van vervaardingsbronne in Suid-Afrika. Sy het aangedui onmiddellike groei in die voorsiening van wind-energie is voortydig aangesien die land onlangs eers daardie rigting ingeslaan het. Ek het bietjie meer windgeesdrif by die minister verwag – veral wanneer sy hier in die winderige Moederstad moet kom praat!

Gelukkig het Brian Dames, hoofuitvoerende beampte van Eskom, by dieselfde geleentheid gesê daar is ’n behoefte aan groter voorsiening van alternatiewe bronne vir krag asook ’n skerper fokus op hernubare energie.

Waarvoor wag ons dan?

Een van die meer behoudende stemme in die wind-debat is dié van prof. Phillip Lloyd van die Kaapse Universiteit van Tegnologie (KPUT). Hy meen dis nog early days vir windkrag. En dat ons die kat eers goed uit die boom moet kyk.

Waar pas skoon, hernubare energiebronne in by die groter energiegesprek? Volgens die internasionale energie-protokol (International Energy Protocol) voldoen die verskeidenheid van bronne in Suid-Afrika nog nie aan globale standaarde nie aangesien ons steeds swaar staatmaak op die gebruik van steenkool. Steenkool is verantwoordelik vir 74% van ons elektrisiteitsvoorsiening. Die wêreldgemiddeld hiervoor is 30%, terwyl die 0,5% voorsiening uit son- en wind-bronne ook agterloop by die wêreldgemiddeld van 8%.

So, waarom sou ’n land soos Suid-Afrika met voordelige weersomstandighede en ’n stabiele klimaat nog langer wag om pap te skep as dit pap reën?


Bronne: Redcap, African Clean Energy Developments, South African Mainstream Renewable, BioTherm, GE Global Research