Kaapstad Verander Area
  • Vandag

    19°C / 14°C

    Wind 33km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 55%

  • Donderdag

    22°C / 12°C

    Wind 15km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 41%

  • Vrydag

    21°C / 14°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 54%

  • Saterdag

    20°C / 14°C

    Wind 24km/h

    Reënval 1.5mm

    Humiditeit 62%

  • Sondag

    22°C / 14°C

    Wind 22km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 44%

  • Maandag

    24°C / 14°C

    Wind 12km/h

    Reënval 0.0mm

    Humiditeit 35%


By

Teengif van oneerbiedige komedie

Danie Marais
Dinsdag 09 April 2013
Sommige flieks, musiek en boeke voel eerder na tweedehandse trauma as verheldering. Hoeveel diep insigte in die menslike natuur het ’n mens in een leeftyd nodig? Juis daarom is komedie die koning van alle genres, skryf ’n aspirant-dude met die naam Danie Marais.
Die Dude (Jeff Bridges) in die Coen-broers se fliek The Big Lebowski.Foto: Wikipedia

‘Ghostbusters is die grootste fliek tot nog toe en nie Star Wars nie,” verklaar die Britse joernalis, TV-persoonlikheid en kultusfiguur Caitlin Moran in haar onderhoudende rubriekbundel Moranthology (2012).

Erg soos ek is oor min of meer enige fliek met Bill Murray in, is dit ’n stelling wat moeilik is om ernstig op te neem. Die topverkoper-skrywer van How to Be a Woman (2011) het egter ’n paar punte beet.

Sy wys daarop dat Ghostbusters in 1984 $229,2 miljoen (meer as R2 miljard) by die loket verdien het, wat dit die mees suksesvolle komedie ooit maak en, beklemtoon sy, komedie is die koning van alle genres.

Ja, daar is diegene wat sal redeneer kuns moet klinkende waarhede oor die menslike toestand onthul, en dit kan ook, soms, as dit wil, maar hoeveel diep insigte in die menslike natuur het jy in een leeftyd nodig, vra sy.

“Sodra jy besef almal anders het ook nie ’n idee wat hulle besig is om te doen nie en dat liefde geheel en al sinloos kan wees, raak enige verdere insigte in die menslike aard regtig neerdrukkend.”

En hier kan ek nie anders as om met Moran saam te stem nie. Hoe ouer jy word, hoe wilder woed die werklikheid blykbaar buite én binne jou huisie van strooi; hoe meer voel sekere flieks, musiek en boeke eerder na tweedehandse trauma as verheldering. Ek het, byvoorbeeld, onlangs die hoogaangeskrewe The Stoning of Soraya M van my PVR afgevee, want ek kon my eenvoudig nie ’n aand voorstel waarop ek kans sou sien om te kyk na die “ware verhaal” van ’n vrou wat gestenig word deur fanatiese godsdienstige fundamentaliste nie. Ek verstaan ook al hoe beter hoekom ons geteisterde mense Schuster se platvloershede en poetse verkies bo die 7 uur-nuus of die jongste bekroonde, maar triestige, drama met onderskrifte.

Toe my ma ná ’n breinbloeding in die waakeenheid gelê het, was Molly en Wors al televisie wat ek en my pa kon verteer.

Dit is eintlik, soos Nick Hornby in 31 Songs (2003) skryf, ’n eienaardige fenomeen dat kritici so dikwels net kunswerke wat “gewaagd”, “skrikwekkend” of “gevaarlik” is, as noodsaaklik ag. Dit is moeilik, meen hy, om nie tot die slotsom te kom dat hierdie obsessie met gevaar nie bloot ’n luukse is wat deur vrede, welstand en oor-opvoeding moontlik gemaak word nie.

Daarom, meen Moran, het ons – veel eerder as insigte in die ongeneeslike ou menslike toestand – “amusante, triviale goed nodig, wat soveel as moontlike mense in ’n vertrek so ontspanne en gulhartig as moontlik laat voel”.

En in hierdie opsig, reken sy, is Ghostbusters ’n wenner. Wanneer iemand byvoorbeeld reken jy’s besig om iets mals aan te vang, veral in die kombuis, sê jy eenvoudig: “Back off, man – I’m a scientist.” Wanneer jy ’n ete voorberei en wonder oor die tafelplasing, onthou: “Never cross the streams.” Wanneer jy met platsakvrinne aansit vir ’n laatnag-wegneemete, lig jy jou blikkie bier en sê: “This magnificent feast represents the last of the petty cash.”

Moran praat natuurlik tong-in-die-kies-twak, maar dit is dikwels flieks met die mees aanhaalbare dialoog wat die grootste kultusaanhang geniet. ’n Goeie aanhaling, veral wanneer dit effe absurd buite konteks ingespan word, skep nie net ’n gesellige atmosfeer nie – dit verleen ’n tikkie waardigheid aan die aanhaler en laat hom/haar ’n oomblik in beheer voel van ’n lewe wat die meeste van ons gereeld oorweldig en magteloos laat steier.

Ghostbusters is egter nie in hierdie opsig die grootste komedie ooit nie. Daardie eer moet die Coen-broers se meesterstuk The Big Lebowski (1998) toekom. Tussen The Dude (Jeff Bridges) en sy kegelbal-kameraad Walter (John Goodman) is daar genoeg aanhalings om hierdie vreemde lewe met waardigheid af te lag. In Amerika kan ’n mens immers selfs as ’n Dudist-priester kwalifiseer en mense in die huwelik bevestig. (Google “Dudeism” of “The Church of the Latter-Day Dude”).

Want Die Dude en sy onambisieuse kegelbalmal-vriende het ’n semi-Taoïstiese, half-hippierig-gelate antwoord op alles. Wanneer iemand jou aan die strot wil gryp en jou intiem persoonlik beledig, antwoord jy rustig: “Yeah, well, you know, that’s just, like, your opinion, man.”

Wanneer dit tyd is om grense neer te lê – privaat of by die werk – sit jy jou sonbril op en sê: “I do mind, the Dude minds. This will not stand, ya know, this aggression will not stand, man.” Of jy haal vir Walter aan: “This is not ’Nam. This is bowling. There are rules.”

Wanneer konflik steeds onafwendbaar bly, onthou jy Walter se woorde aan die stomme Donny (Steve Buscemi): “Pacifism is not something to hide behind.” Wanneer die pôpô die goedkoop-tafelwaaier op jou bedkassie tref, gebruik jy die woorde van die sogenaamde Stranger: “Sometimes you eat the bar and sometimes, well, the bar eats you.”

Wanneer die lewe of jou baas jou dwing om iets onaangenaam en vernederend te doen, behou jy jou waardigheid deur te verklaar: “The Dude abides.” En as alles regtig te veel raak, sê jy: “Dude, let’s go bowling.”

Woody Allen was waarskynlik reg toe hy geskerts het: “Life doesn’t imitate art, it imitates bad television.” Daarom het ons die teengif van oneerbiedige, vergewensgesinde komedies soos The Big Lebowski (en selfs Schuster) net so nodig soos goeie skole en meer werksgeleenthede. Maar ignoreer gerus – dit is maar net my mening, man.

• Danie Marais is weekdae van 13:00 tot 16:00 te hoor op die nuwe Kaapse radiostasie Smile 90.4 fm. Hy het onlangs van pure uitputting ophou wonder wat hy gaan doen as hy eendag groot is.



  • leefstyl

    Met CarPlay kan jou kar en iPhone gesels

  • leefstyl

    ’n Storiehuis met ’n hart

  • leefstyl

    Sterretjie floreer in roetine

  • leefstyl

    Klets alte lekker en kyk weer

  • leefstyl

    Plan met oorskiet

  • leefstyl

    Blooskwale wat maak dat jy die dokter vermy

  • leefstyl

    Kies die regte blaaier