Ernst Gouws boor pinot noir raak in die Koekenaap-omgewing
2010-07-02 12:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Koekenaap is maklik net so ver van Boergondië af as wat die naam klink, maar hierdie afgeleë wynstreek aan Suid-Afrika se Weskus, sowat 300?km noordwes van Kaapstad, is besig om te bewys dat dit ’n geskikte tuiste is vir die edel Boergondiese pinot noir-variëteit.
Volgens mnr. Ernst Gouws, wynmaker by die Stellenbosse familie-wynmakery Ernst Gouws & Co, is Koekenaap se nabyheid aan die yskoue Weskus se Atlantiese oseaan en die gebied se “lieflike” kalksteen-brokstukke net waarna pinot noir soek.
Ernst Gouws & Co. het pas sy tweede pinot noir uitgereik wat uitsluitlik van druiwe van Koekenaap berei is. En volgens Gouws is die gehalte van hierdie 2007-oesjaar reeds strate beter as die eerste 2006-oesjaar. Dit onderstreep die potensiaal van hierdie streek sedert die maatskappy die eerste wynmakery gemaak het om pinot noir van Koekenaap-druiwe te produseer.
“Die wingerde is tans 10 jaar oud en begin om geweldige karakter aan die vrugte te gee,” sê Gouws. “Die grond is sanderig en dreineer maklik, wat toelaat dat die wingerde se wortels letterlik met kalksteen, wat in blokke op die bo-grond lê, gespoel word.
Dit is werklik ’n uitsonderlike pinot noir-terroir en lewer wyne wat ’n interessante kombinasie van klassieke pinot-struktuur toon asook ’n effense maritieme invloed vanweë die kort afstand van agt kilometer van die see af. Ondanks ’n oorvloed water, beperk die streek se koel klimaat die opbrengs tot onder vier ton per hektaar.”
Gouws wys daarop dat die nagtemperature tydens die oestyd, wat aan die begin van Februarie is, tot 5°C koeler is as op Stellenbosch, waar die wyn berei word. Na die druiwe gepluk is, word dit in die nag teen konstante temperature na Stellenbosch vervoer.
Om genoeg kleur uit die druiwe te haal is een van die groot uitdagings vir die pinot noir-produsent en om hierdie probleem te bowe te kom, bloei Gouws sowat 10% van die sap voor gisting af om ’n hoër sap-tot-dop-verhouding te verseker. “Na gis-enting word die wyn droog gegis, gewoonlik oor 10 dae in oop tenks met gereelde drukpersing met die hand. Ná gisting, bedek ek die tenk, loop weg en laat die wyn vir nog twee weke op die doppe, want vir my het die pas-gegiste wyn en doppe effens rustyd nodig na die spanning van gisting! Net genoeg tyd om alles mooi te laat balanseer.”
Die wyn kom dan in vate. Slegs Frans, waarvan 30% nuut is. Die res word in tweedevul- en derdevul-vate gelaat. Veroudering geskied oor twee jaar.
“Die vate het ’n fyn grein en met die aksent op gebruikte hout, verouder die pinot noir stadig en gee die hout wynstruktuur en gebalanseerde tanniene,” sê hy.
Volgens Gouws is gekneusde braambessies en veldkruie prominent op die neus, terwyl die wyn in die mond oorwegend vol-vrugtig is met fyn geure van sampioene en sagte woudagtigheid. ’n Lang nasmaak wat jou bybly dui op ’n wyn van uitsonderlike struktuur en balans. Hy stel voor dat hierdie pinot noir geniet word saam met beesbredie, coq au vin of gerookte vleis.
Ondanks ’n groot vraag na pinot noir in Amerika, Ernst Gouws & Co se grootste uitvoermark, het Gouws besluit om hierdie wyn uitsluitlik in Suid-Afrika beskikbaar te stel.
“Plaaslik is daar opwinding rondom ons eie pinot noirs met al hoe meer wynliefhebbers wat dié wonderlike druifsoort ontdek,” sê hy. “Ons wil graag glo die pinot noir van dié besonderse streek komplementeer die reeks uitstekende pinots wat plaaslik beskikbaar is.” Die kleinhandelprys is in die omgewing van R107.