My hond se gedagtes

2011-02-19 06:00

Dalk resiteer dié meneer stilweg ’n gedig van William Blake: “Tiger, tiger, burning bright, in the forests of the night ... ” Foto: ameliakinkade.com

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Ek was 25 jaar oud en het op Stellenbosch gewoon toe ek ’n klein basterhondjie aangeneem en haar Kwam Oem – na die Koreaanse god van liefde – genoem het.

Kwam Oem was ’n steekhaarbrakkie met ’n eienaardige klein koppie, maer beentjies en ’n nare gewoonte om weg te loop en in slegte reuke te rol.

Ek was ongetroud en kinderloos en het in daardie tyd ’n boek deur Yogi Yogananda gelees waarin hy onder meer vertel het ’n mens se waarde word gemeet aan hoeveel sorg jy aan jou hulpelose medeskepsels gee. Die diertjie wat met hartseer bruin oë by my voordeur opgedaag het – duidelik op soek na die ma wat haar weggegooi het – was hulpeloos en ek het besluit om haar geestelik ruimhartig aan te neem en vir haar te sorg.

Op ons eerste aand saam, het ’n reënstorm losgebars, weerlig het oor die Helderberg geslaan en Kwam Oem het stilletjies van haar matrassie opgestaan, op my bed geklim en in my armholte kom lê asof ek die moeder is waarna sy gesoek het.

Van toe af leef ek en sy maar saam.

’n Lidmaat van die Shofar-kerk op Stellenbosch het my vertel alle name beteken iets en het bonatuurlike krag, en jy moet jou kinders of diere name gee wat iets opbouend beteken. Ek het my hondjie Kwam Oem genoem omdat ek gedink het die liefde en die kalmte van die Koreaanse godin is wat sy in haar lewe nodig het.

Maar ek dink nie die spreuk werk nie, want oor die jare het Kwam Oem al hoe meer simptome getoon van een of ander senuweetoestand wat sy moes opgetel het in haar rondloperdae voordat ek haar gevind het. Sy raak bang vir die geringste geraas. Tydens donderstorms piepie sy haarself soms nat. Een dag het mense naby ons huis klappers geskiet en Kwam Oem het soos ’n apie teen die ogiesdraadheining uitgeklim en in die straat afgehardloop, waar sy opgetel is deur lede van ’n sekte wat my gebel en geëis het dat ek haar naam moet verander.

Hoekom? “Meneer, deur dié hond daai lelike naam te gee, het jy ’n binding op haar geplaas waardeur die demoon van rondlopery haar lewe ingekom het,” het die vrou gesê.
Uiteindelik moes ek my hond uit hul huis gaan red en ’n ekstra heining om my agterplaas oprig.

Ek het deur die jare al meer teleurgesteld in my eie ouerskap gevoel. Yogi Yogananda het gesê alles wat jy vir die weerloses doen, is uiteindelik gawes van die gees, maar al wat ek vir my steekhaarbrakkie gegee het, was neuroses en ’n naam wat bindings veroorsaak het.

In parke of op strande het ek afgunstig gekyk hoe ander honde rondspeel. Ek het ’n foeitog-kind gehad wat tjank as ander honde naby haar kom. Ander honde- eienaars het my aangekyk asof ek ’n kindermishandelaar is.

Een dag het ek vir Rapport, waar ek werk, ’n onderhoud met ’n hondefluisteraar genaamd Naomi Pretorius gedoen. Naomi woon in Hermanus en kan telepaties met diere kommunikeer. Sy het vertel hoe sy met bobbejane by rehabilitasiesentra gedagtes uitruil en in die gees binne die lyf van die molle in haar tuin kan inbeweeg (“dit voel heerlik klam en bedompig”).

Ek het nie regtig ’n probleem met telepatie nie, al is wetenskaplikes verstaanbaar skepties. Indien telepatie bestaan, sou dit beteken die meeste wetenskaplike toetse (wat op blinde toetsing berus) is verdag.

Dis egter nie net dom mense wat in telepatie glo nie. N.P. van Wyk Louw het in sy rubriek “Oop Gesprek” geskryf dit is iets wat “nie sommer as onmoontlik afgewys mag word nie”. C. Louis Leipoldt het breedvoerig daaroor geskryf. En prof. F.J.M. Potgieter, lank teologieprofessor op Maties, het in die 1950’s in ’n reeks radiolesings vir die SAUK genaamd “Heldersiendheid, goëlery en ander okkulteverskynsels” ’n eienaardige verklaring vir telepatie gelewer toe hy vertel het indien die mens na God se beeld geskape is, en indien God ekstrasensoriese waarnemingsvermoëns het, is dit nie onmoontlik dat die mens soms telepaties sou kon kommunikeer nie – soos Eva met die slang.

Eva en die slang? Telepatiese kontak met diere?

Ons het in Johannesburg gewoon (waar Kwam Oem een keer tydens ’n donderstorm in Weltevredenpark weggehardloop en later in Randparkrif opgespoor is) toe ’n medejoernalis my van Amelia Kinkade vertel.

Amelia is ’n Amerikaanse aktrise met ’n beskeie loopbaan (sy is veral bekend vir ’n rol in die griller Night of Demons, maar sommige lesers sal haar dalk as Vivian in The Bold and the Beautiful onthou).

Sedert sy egter deur haar tante Rue McClanahan (Blanche in The Golden Girls) aan die dierebeweging bekend gestel is, het Amelia al meer aandag aan diere bestee en later psigiese kontak met diere begin maak.

Deesdae spog sy op haar webwerf dat sy al op The Top 100 Psychics in Amerika opgetree het en dat sy met honde, leeus, tiere, olifante en minstens een keer met ’n witdoodhaai gekommunikeer het (“?’n haai is net ’n vis met ’n baie breë glimlag”).

Volgens my kollega was sy by toe Amelia tydens ’n vorige besoek aan Suid-Afrika deur ’n honde-eienaar dié tergvraag gestel is:
“Wat is my hond se gunsteling-kossoort?”

Amelia se oë het glasig geword. “Ek weet nie hoekom die hond dit sê nie,” het sy geantwoord, “maar ek kry ... vanieljeroomys.”

Blykbaar het die diep ontroerde besoeker ná die tyd gebieg sy neem haar hond een keer ’n week na McDonalds vir ’n vanieljeroomys.


Twee Vrydae gelede het ek en Kwam Oem Amelia, tans in Suid-Afrika om werksessies oor psigiese dierekommunikasie in onder meer George, Kaapstad en Johannesburg aan te bied, langs die swembad van die Clico-gastehuis in Rosebank ingewag. Clico is gewild onder buitelanders en terwyl ek en my gebruiklik senuweeagtige hond vir Amelia gewag het, het ’n groep Nederlanders luidrugtig in die sitkamer dronk geword.

’n Mens weet heelwat van Amelia as jy haar webwerf lees. Sy is na eie bewering deels Cherokee-rooihuid. Sy bring heelwat tyd in die “droomtyd tussen wêrelde” deur, waar sy met afgestorwe diere kommunikeer. Sy is glo al ingeroep om met koningin Elizabeth II se perde te kommunikeer.

Maar as sy in die skemerdag uit die huis opdoem – haar hare woes, haar bewegings stokkerig en ’n pienk string rooskwarts om haar nek – verras sy jou nogtans. Jy dink onwillekeurig aan die reëls uit A.G. Visser se “Ruiter van die Skimmelperdpan”:
En dan eenklaps van uit die vervalle gebou
Kom ’n vreeslike skrikbeeld gevaar,
Al die hare orent – ’n waansinnige vrou.

Amelia se oë val op Kwam Oem. Haar lyf begin bewe en haar gesig vertrek. Dis nie opgewondenheid nie, besef ek. Dis pyn.

“Hierdie hond se hele ding is kleintjies,” weeklaag sy. “Dis ’n pyn. Sy wil kleintjies hê. Sy móét kleintjies hê.”

Maar Kwam Oem is kleintyd reggemaak.

“Sy soek haar kleintjies. Sy soek oral en kan hulle nie kry nie.” Die toon is beskuldigend.

Wel, ek het niemand se kleintjies gesteel nie!

“Koop vir haar klein speelgoedjies. Koop poppies wat soos klein hondjies lyk. Sy sal hulle ronddra en met hulle speel.”

Amelia verander skielik koers. “Die hond sê Charlotte. Wie is Charlotte?”

Ek het ’n suster genaamd Charlotte.

Amelia gooi haar kop terug. Dit lyk of sy wil huil. “Hierdie hond soek na Charlotte! Sy verlang na Charlotte.”

Ek het ’n dierbare suster, maar ek is taamlik seker my hond verlang nie na haar nie. My suster het raserige seuntjies wat die hond soms rondjaag en as ons in dieselfde huis kuier, kruip Kwam Oem soms onder die bed weg.

Is sy seker?

Amelia beur voort. “Wie is Beatrice? Ek kry ’n Beatrice.”

Ek ken g’n Beatrice.

“ ’n Vrou wie se naam begin met ’n B dan, ek kry ’n B.”

Ek ken nie juis vroue van wie die name met B begin nie.

“ ’n Van wat met ’n B begin?”

Wel, ek het ’n vriendin met die van Bezuidenhout.

“Dis sy!” roep Amelia. “Dié hond soek vir Bezuidenhout!”
Gmf.

In die sitkamer is die dronk Nederlanders stil. Hulle loer na ons. Frons. Giggel.

Hoe weet sy wat diere dink?

“Jy kyk en jy weet. Die eerste keer toe ek na ’n tier geloop het, het hy gesê: ‘Hoekom hoor jy my – ek dog alle mense is doof?’ ”

Haar lip bewe weer. Dit lyk of sy gaan huil, ek raak ongemaklik en begin babbel, vertel haar van ’n kinderboek wat ek en ’n kollega besig is om te skryf oor ’n orang-oetang wat in die 1870’s in die Suid-Kaap uitgespoel het toe die skip waarop hy onderweg van Asië na Europa was, gesink het. Dis ’n ware storie.

Nou bewe Amelia se onderlip eers. “Daai orang-oetang ...” sê sy stadig. “Dis jy!”

Huh?

“Daai orang-oetang ... was jy!”

Later vertel sy Kwam Oem is ’n gereïnkarneerde Tibettaanse monnik. “Sy is hier om jou iets te leer.”

Ek raak geïrriteerd. Vir wat altyd ’n Tibettaanse monnik? Hoekom nie ’n Ugandese tandarts of ’n Peruviaanse ginekoloog nie?

Wat wil die hond my leer? vra ek.

Amelia is lank stil.

“Sy wil jou leer hoe dit voel om te sorg vir iemand wat magteloos is. Sy wil jou leer wat alle diere vir ons probeer sê: Dat ons eerste taak is om die onskuldiges te beskerm. Met al ons mag.”
Ek wil uitvra, maar Amelia kry weer ’n kyk. “Ek kry ’n Simon, wie is Simon?”

Ek ken nie ’n Simon nie.


Later die aand ry ek en Kwam Oem huis toe.

Kwam Oem lyk beteuterd, maar ek is nie seker of dit Amelia se skuld is nie. Kwam Oem lyk altyd beteuterd.

Ek is jammer ek kon nie ’n oplossing vir jou emosionele probleme vind nie, probeer ek ’n telepatiese boodskappie.

Ek dink nie Amelia is ’n besonders goeie medium nie. Maar iets van wat sy gesê het, steek in my gemoed vas terwyl ek deur die donker strate ry, my bewende hondjie op die sitplek langs my.

“Sy wil jou leer hoe dit voel om vir iemand te sorg wat magteloos is ... dat dit ons eerste taak is om die onskuldiges te verdedig.”

Ons stop by ’n rooi verkeerslig in Parktown, maar daar is geen ander motor nie en dis donker, ek glip oor.

Dis ’n gewoonte wat ek ook al gesien het by vriende wat rondry met hul kinders in die motor. Jy staan maar nie lank rond in die donker nie, want saam met jou in die motor is ’n klein persoontjie wat aan jou toevertrou is, ’n weerlose lewetjie wat jy moet beskerm.

  • Johannes de Villiers is ’n joernalis by Rapport. Sy boek Agter die Somber Gordyn, ’n geskiedenis van psigiese mediums in Suid-Afrika, verskyn later vandeesmaand by Griffel Media. 

Die Amerikaanse dierefluisteraar Amelia Kinkade lees die arme Kwam Oem (op haar skoot) se gedagtes terwyl Kaaspasteitjie veilig in Johannes de Villiers se arms skuil.Foto: Denzil maregele


Wat sou dié kêrel dink? “Wie gaan die Drie Nasies wen?” Foto: ameliakinkade.com


Kwam Oem was nog altyd ’n hond wat moeilik deur die lewe gaan – met hoeveel neuroses en ’n naam wat bindings veroorsaak, kan dinge ’n bietjie donker raak.


binne die burger

Weer
Lotto
Ksd: 13-19°C Sunny. Mild. Pta: 6-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 3-17°C Sunny. Cool. Bfn: 3-20°C Sunny. Cool.
Dbn: 15-26°C Sunny. Mild. PE: 16-24°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Sharan 1.8 Turbo MPV MY01
2006
R 219,995.00

LEXUS

IS 250 AT
2006
R 239,990.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 69,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Fifty Shades Trilogie

deur E.L. James

Romanties, bevrydend en totaal verslawend, die Fifty Shades Trilogie sal jou vermaak, verslaaf en vir altyd by bly. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.