Weste se reaksie op Sirië ‘is histeries’
2012-02-09 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
DEN HAAG. – Europa en die Weste kyk met toenemende frustrasie, maar basies magteloos toe hoe die bewind van pres. Basjar al-Assad van Sirië massamoord teen sy eie bevolking pleeg om sy eie politieke toekoms te beveilig.
In die proses het die betrekkinge tussen Rusland en China enersyds en die Weste andersyds kwaai versleg.
Volgens skattings van die Verenigde Nasies het die Siriese leër reeds sowat 6000 burgerlikes doodgeskiet. Die laaste dae is berigte ontvang van tenks, artillerie en masjiengeweerskutters wat op groot skaal op die Soennitiese woonbuurte van die stad Homs losbrand.
’n Konsep-resolusie in die Veiligheidsraad is Sondag deur Rusland en China geveto. Daarna het die Russiese minister van buitelandse sake, mnr. Sergei Lawrof, ’n besoek aan Assad in Damaskus gebring, en die president ná afloop geprys vir sy bereidwilligheid om ’n dialoog aan te gaan. Hy het die Westerse reaksie “histeries” genoem. Dieselfde nag is weer swaar bombardemente op Homs uitgevoer.
Die rede vir Rusland en China se houding, meen kenners, is baie eenvoudig. Hulle vrees dat daadwerklike optrede teen Sirië na aanleiding van menseregteskendings later as voorbeeld kan dien vir optrede teen húlle – hul nakoming van menseregte is nou ook nie van die voorbeeldigste nie.
Bowendien is Sirië een van Rusland se grootste kliënte wat wapenaankope betref.
In die Weste is erg verontwaardig op die veto gereageer. In die afwesigheid van ander middele het heelparty Westerse lande, waaronder Amerika, Duitsland en Frankryk, hul ambassadeurs teruggeroep, terwyl Duitsland gister sy sanksies teen Sirië verskerp het.
Amerika gaan nou probeer om internasionale optrede teen Sirië buite om die Veiligheidsraad te koördineer. Een voordeel uit sy perspektief is dat die Arabiese Bond ook sterk krities teenoor Assad is, en die verwagting is dat die liggaam op sy spitsberaad van Sondag af bykomende maatreëls sal afkondig.
’n Herhaling van die militêre ingryping soos in die Libiese geval lyk – voorlopig altans – onmoontlik. Dit kan slegs deur die VN gebeur, en dit lyk nie of Rusland en China hul toestemming sal gee nie.
- Die Burger