SA verskaf satellietfoto’s van vloedskade in Namibië
2011-04-21 01:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad - Suid-Afrika het ná ’n noodoproep van die Namibiese regering satellietfoto’s van die vloedskade in dié land met behulp van SumbandilaSat verskaf.
Die dringende versoek om satellietfoto’s is verlede week ontvang, en die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (Sansa) se afdeling ruimte-operasies het binne 24 uur gereageer. ’n Foto van Oshakati is met SumbandilaSat geneem, en die data is afgelaai en aan Namibië gestuur.
SumbandilaSat neem foto’s van ’n gebied wat 60km by 50km groot is. Die beeld wat verkry word wys die gebied soos wat die satelliet dit uit sy wentelbaan 500km bo die aarde sien.
Die owerheid kan dus ’n geheeloorsig van die gebied kry, iets wat andersins onmoontlik is. Mnr. Jan-Albert Koekemoer van SunSpace, die instansie wat die satelliet gebou het, het verduidelik hulle het ook ’n ander foto wat in April 2007 geneem is, beskikbaar gestel. Dit is van ’n Franse satelliet, genaamd Spot 5.
Hoewel die foto’s nie dieselfde resolusie het en op skaal met mekaar vergelyk kan word nie, kan daar op dié ouer foto gesien word hoe droog dit voorheen was. Net enkele dele (pikswart op die foto) het destyds water gehad.
Verlede week se SumbandilaSat-foto toon twee parallelle lyne aan – dit is die paaie wat na Oshakati loop. Nog ’n pad wat uit die dorp loop is te sien. Oshakati is omring deur vloedwater en oral kan vleie gesien word, het Koekemoer gesê.
Mnr. Wolfgang Lück, bestuurder van navorsingsontwikkeling en implementering by Sansa se aardobservasiesentrum, het gesê die voordeel van ’n satellietfoto tydens ’n natuurramp is dat dit tot onmiddellike hulpverlening kan lei.
Die inligting wat akkurate ruimtekaarte gee, is van deurslaggewende belang wanneer rampbestuurspanne besluite moet neem, het hy voorts gesê.
SumbandilaSat het al sowat 1400 foto’s geneem sedert sy lansering in September 2009. Volgens Lück sou dit meer as R10 miljoen gekos het indien Suid-Afrika dié beelde elders moes koop.
- Die Burger