Romney wen ook in Nevada
2012-02-06 01:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
LAS VEGAS. – Die Republikeine se voorloper as presidentskandidaat, mnr. Mitt Romney, is die wenner in die Nevada-koukus, sy tweede oorwinning oor opponente wat skielik sukkel om by te bly.
Gister se koukusse het min aandag getrek, maar Nevada sal waarskynlik in November ’n slagveld word in die hewige stryd tussen die verkose Republikeinse kandidaat en pres. Barack Obama.
Romney het ’n skerp aanval op Obama ontketen, wie se ekonomiese beleid volgens hom “hierdie moeilike tyd langer laat duur”.
“President Obama glo blykbaar Amerika se rol as wêreldleier is uitgedien. Ek glo die 21ste eeu sal en moet Amerika s’n wees,” het Romney aan juigende ondersteuners gesê.
Romney, voormalige goewerneur van Massachusetts, geniet ’n tweesyfervoorsprong in ’n staat waar sy mede-Mormone ongeveer ’n kwart van die totale koukuslede uitmaak.
Die voormalige speaker van die parlement, mnr. Newt Gingrich, en die Texas-Republikein, mnr. Ron Paul, het om die tweede plek meegeding.
Gisteroggend het uitslae van 16 uit 17 wyke aangedui Romney geniet amper 48% steun, Gingrich omtrent 23%, Paul 19% en mnr. Rick Santorum 11%.
’n Voorlopige peiling van Republikeinse koukuslede in Nevada toon amper die helfte se belangrikste oorweging by ’n finale besluit is ’n kandidaat se vermoë om Obama in die winter te verslaan – ’n bevinding wat strook met dié in ander state. – Sapa-AP
- Die Burger