‘Merkozy’ span saam vir belange
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Iets merkwaardigs is in die Europese politiek aan die gang. Maandag het die Duitse bondskanselier, dr. Angela Merkel, en agt van haar ministers in die Elysée-paleis in Parys met pres. Nicolas Sarkozy en agt van sy ministers vergader.
Verskeie kommentators het daarop gewys dat dit byna ’n gesamentlike kabinetsvergadering was. En op die nuuskonferensie daarna het die twee regeringshoofde voortdurend na mekaar gekyk en vir mekaar geglimlag.
Nog nooit was die betrekkinge tussen die Duitse en die Franse leiers so hartlik soos nou nie. En dit nadat die twee aanvanklik op persoonlike vlak nie vat aan mekaar kon kry nie.
Maar agter dié persoonlike hartlikheid gaan harde politieke belange skuil.
Sarkozy loop in die meningspeilings duidelik agter by sy Sosialistiese mededinger in die presidentsverkiesing oor minder as drie maande, mnr. François Hollande. En die moontlikheid dat Hollande die volgende bewoner van die Elysée-paleis kan wees, is vir sowel Merkel as Sarkozy ’n vooruitsig wat hulle byna teen elke prys wil vermy.
Hollande is ’n tipies linkse sosialis wat niks van begrotingsdissipline wil weet nie, maar baie geld wil uitgee om meer gelykheid te bewerkstellig. Sy ekonomiese ideologie is baie soortgelyk aan dié van die ANC in Suid-Afrika.
Vir Merkel en Sarkozy is dit ’n gruwelike vooruitsig. Die twee werk só nou saam om die ekonomiese krisis deur begrotingsdissipline te bestry dat hulle al as “Merkozy” bekend staan.
Die laaste tyd het ’n interessante nuwe klem in hul openbare optredes na vore gekom, naamlik die stimulering van die ekonomie en werkskepping deur ekonomiese liberalisering en hervorming. Dis ook iets waarvan Hollande niks wil weet nie.
Vir Merkel en Sarkozy is dit dus belangrik dat Hollande nie die verkiesing wen nie. En dus gaan Merkel iets ongehoords doen: As leier van die Duitse Christen-Demokrate, nie as kanselier nie, gaan sy Sarkozy aktief steun deur van sy belangrikste verkiesingsvergaderings by te woon. Vir haar is Frankryk amper nie meer buiteland nie.
As Hollande verkies word, sal dit ’n yslike slag vir Berlyn-Parys wees. Maar nou ja, state het geen permanente vriende nie, slegs permanente belange, en dus sal ook Merkel en Hollande mekaar moet probeer vind – maar maklik sal dit nie wees nie.
- Die Burger