Man skiet drie regters en homself dood in Chinese hof
2010-06-01 23:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Beijing. – ’n Man het gister met ’n ligte outomatiese wapen by ’n hofkantoor in sentraal-China ingebars en drie regters doodgeskiet en drie ander personeellede gewond voordat hy homself doodgeskiet het.
Die aanvaller is geïdentifiseer as ’n sekerheidshoof van die Lingling-distriksposkantoor in Yongzhou in die Hunan-provinsie.
Hy het glo aan ’n medewerker gesê hy neem die wapen en twee pistole na die stadsowerhede vir inspeksie, maar toe na die Streekhof van die Volk gegaan, berig die amptelike nuusagentskap Xinhua.
Volgens ’n woordvoerder van die propaganda-afdeling van die stad se Kommunistiese Party, net bekend as Tang, het die man by ’n kantoor op die vierde verdieping ingebreek en begin skiet.
Hy het gesê die regters was besig om ’n saak te bespreek wat geensins met die man verband hou nie.
Die aanvaller is geïdentifiseer as Zhu Jun (46). Hy wou hom glo op die hof wreek oor ’n beslissing oor eiendom drie jaar vantevore in sy egskeiding, wat hy as onregverdig beskou het. Hy het ná die egskeiding by sy bejaarde ouers gewoon.
Hoewel private wapenbesit grootliks in China verbied is, ervaar die land ’n toename in geweldsmisdade te midde van die onlangse vryemark-hervorming en die verslapping van sosiale beheermaatreëls.
Gewelddadige massa-aanvalle is skaars in China, maar die land gaan deesdae gebuk onder ’n vlaag aanvalle op skoolkinders deur geweldenaars gewapen met messe en in een geval ’n hamer.
The Harbin Daily het gister berig ’n vrou in haar veertigs het nege medepassassiers op ’n oornagtrein tussen die noord- oostelike Harbin- en die sentrale Hebei-provinsie met ’n stuk yster in die arms en bene gesteek voordat die polisie haar in hegtenis geneem het.
Haar oudste slagoffer was ’n 73-jarige vrou. Drie van die slagoffers is ná behandeling in die Jiamusi-spoorweghospitaal ontslaan. – Sapa-AP
- Die Burger