Ghaddafi se seun eersdaags aangekla
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PRETORIA. – Kol. Moeammar Ghaddafi se “troonopvolgerseun” kan eersdaags in ’n hof aangekla word weens misdrywe wat onder sy pa se bewind gepleeg is – veral dié wat verlede jaar in Ghaddafi se laaste bloedige maande begaan is.
In ’n Libiese hof kan Seif al-Islam, die seun, die doodstraf kry as hy skuldig bevind word.
Intussen het 41 van Ghaddafi se volgelinge wat by die onderdrukking van die opstand in Libië betrokke was, vir die eerste keer in ’n militêre hof verskyn.
Die Nasionale Oorgangsraad, wat Libië tans regeer, het besluit om mense wat van misdrywe in opdrag van Ghaddafi aangekla word, in ’n militêre eerder as ’n siviele hof te laat verhoor.
Mnr. Fawzy Abdilal, Libië se minister van binnelandse sake, het in ’n onderhoud met CNN gesê die verhoor van Al-Islam, wat allerweë as sy pa se opvolger beskou is, kan binne weke of dalk maande begin.
Hy het met die hulp van ’n span huursoldate, onder wie Suid-Afrikaners, ontvlug die dag toe sy pa se konvooi in Oktober verlede jaar voorgekeer en sy pa doodgeskiet is.
Al-Islam is daarna in ’n afgeleë woestyngebied vermoedelik op pad na Niger aangekeer en word sedert November in Zintan, suidoos van Tripoli, aangehou.
Verteenwoordigers van Human Rights Watch het Al-Islam vroeër besoek en aanbeveel dat hy ’n prokureur kry. Volgens Abdilal wil hy blykbaar nie ’n prokureur hê nie, want hy het nog nie vir een gevra nie.
Hy het ontken Al-Islam of enige ander Ghaddafi-ondersteuner word in aanhouding mishandel of aangerand – ondanks gerugte tot die teendeel.
Die Internasionale Strafhof het Al-Islam saam met sy pa van misdrywe teen die mensdom aangekla. Hy gaan egter eers in Libië verhoor en gevonnis word.
Die militêre hof se eerste sitting het die naweek begin, maar is tot 15 Februarie uitgestel.
Die 15 prokureurs wat die 41 mans verdedig, het gepleit dat ’n militêre hof weens die onverbiddelikheid daarvan nie die gewenste plek is om die mans te verhoor nie.
Hulle wil die getuienis teen hul kliënte ook eers bestudeer.
Volgens Abdilal is die ondersoek na die omstandighede wat tot Ghaddafi se dood gelei het, ook feitlik afgehandel.
- Die Burger