Gerugte loop dat Israel Iran sal aanval
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
DEN HAAG. – Israel gaan Iran binne enkele maande – moontlik al teen April – aanval om sy kernwapenprogram te vernietig voor dit te laat is.
Dit het gister gegons van dié soort bespiegelings in die internasionale media. Maar dit was nie sommer uit mense se duim gesuig nie.
Moontlik die beste aanduiding was ’n toespraak van die Israeliese minister van verdediging, mnr. Ehud Barak, op ’n veiligheidsforum in Herzliya.
Daar het hy reguit gesê die tyd loop uit om Iran te keer. “Wie ook al sê ‘later’, kan vind dat later te laat is.”
Gister het die Washington Post eweneens, klaarblyklik op grond van binne-inligting uit die Amerikaanse regering, berig dat dié land se minister van verdediging, mnr. Leon Panetta, vrees dat Israel in April, Mei of Junie ’n reeks lugaanvalle op kerninstallasies sal doen.
Israel het Amerika glo verlede maand versoek om militêre oefeninge wat in Mei sou plaasvind, uit te stel omdat hy nie hulpbronne daaraan kon afstaan nie.
Die Amerikaanse reaksie was om die hoof van die weermag, genl. Martin Dempsey, na Jerusalem te stuur om die Israeli’s te waarsku dat Washington nie só ’n aanval sal steun nie.
Pres. Barack Obama wil die sanksies wat sy land en die Europese Unie onlangs teen Iran afgekondig het (dit sluit onder meer ’n olieboikot in) eers kans gee om te werk. Die Israeli’s wil egter nie te lank wag nie.
Die Britse Daily Telegraph haal die Israeliese hoof van staf: inligting aan, wat gesê het hy is daarvan oortuig dat Iran reeds genoeg uraan verryk het om vier kernbomme te vervaardig.
Kenners van die Midde-Ooste wys daarop dat Israel vir sy voortbestaan vrees.
Pres. Mahmoed Ahmadinedjad van Iran en die ajatollas wat oor Iran regeer, maak geen besonder rasionele indruk nie, en die Israeli’s is bang dat die afskrikkingstrategie wat goed in die Koue Oorlog gewerk het, nie op Iran van toepassing is nie.
Een groot kernbom op Tel Aviv kan twee-derdes van die Israeliese bevolking uitwis.
Volgens die Washington Post meen die Israeli’s dat hul eie veldtog binne sowat vyf dae afgehandel kan wees. Hulle verwag ’n stortvloed missiele van Hisbolla in die suide van Libanon en van Hamas in die Gasastrook, wat tot sowat 500 Israeliese dooies kan lei, maar dis beter as totale uitwissing, sê hulle.
Dis in dié stadium onmoontlik om te sê wat gaan gebeur. Maar die temperatuur is aan die styg.
- Die Burger