Breivik wou ‘kulturele vernietiging’ keer
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
OSLO. – Die man wat verlede jaar 77 mense in Noorweë afgemaai het, het gister gesê die slagting was noodsaaklik om sy land se kulturele vernietiging te keer.
“Ons in die Noorse beweging sal nie sit en kyk hoe ons ’n minderheid in ons eie land word nie,” het mnr. Anders Behring Breivik in ’n volgepakte hofsaal gesê.
Dit was sy tweede openbare verskyning sedert die aanvalle in Julie.
Die 32-jarige het erken hy het ’n kunsmisbom by ’n regeringsgebou laat ontplof wat agt lewens geëis het, en dat hy ure daarna op ’n skiettog by ’n jeugkamp van die Arbeidersparty op Utøya-eiland gegaan het waarin 69 mense omgekom het.
“Ek erken my dade, maar pleit onskuldig. Die etniese Nore sal in die volgende tien jaar ’n minderheid in Oslo wees. Ek verteenwoordig die Noorse weerstand,” het hy in die hof gesê.
Die aanhoudingsverhoor was Breivik se vyfde. Sy amptelike verhoor sal op 16 April begin.
– Reuters
- Die Burger