Afrika-leiers bedink verkiesing-slaggate
2011-05-06 01:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad - Hy sal nie wraak neem as hy president word nie en hy sal instem tot ’n beperkte ampstermyn.
Só het mnr. Morgan Tsvangirai, premier van Zimbabwe, gister geantwoord op ’n vraag oor of hy bepaalde voorwaardes sal aanvaar as hy eendag president van Zimbabwe sou word.
Tsvangirai het saam met mnr. Raila Odinga, Keniaanse premier, asook dr. Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), by die Wêreld Ekonomiese Forum kopgekrap oor demokrasie in Afrika en die geldigheid van verkiesings.
Dr. Raenette Taljaard, politieke ontleder aan die Universiteit van Kaapstad, het die gesprek gelei.
Odinga en Tsvangirai was albei slagoffers van verkiesings wat op geweld uitgeloop het omdat die vorige president nie die uitslae wou aanvaar nie.
In Zimbabwe is ’n ooreenkoms tussen pres. Robert Mugabe en Tsvangirai van krag wat deur oudpres. Thabo Mbeki bemiddel is nadat Mugabe die uitslag van die 2008-verkiesing verwerp het.
Ook in Kenia moes ’n koalisieregering met bemiddeling van Annan tot stand kom nadat pres. Mwai Kibaki met die land se 2008-verkiesing die uitslag betwis het.
Mnr. Richard Dowden, direkteur van die Royal African Society, het aan Odinga en Tsvangirai gesê daar is ’n sterk moontlikheid dat hulle binnekort staatshoofde kan word.
“En ek wil by elkeen van u weet of u tot ’n beperkte ampstermyn sal instem en hoe u opposisiepartye sal behandel.”
Tsvangirai het gesê die mens het die geneigdheid om te wil wraak neem as hy vantevore onderdruk is. “Maar ’n mens moet vergewe om die land vorentoe te neem.”
Odinga het gesê: “’n Sterk opposisie is nodig om die heersende regering verantwoordbaar te hou.”
- Die Burger