Almodóvar dwing jou om te kyk
2012-01-20 06:00
The Skin I Live In
Drama
4/5
Met Antonio Banderas, Elena Anaya, Marisa Paredes
Regie: Pedro Almodóvar
In elk van sy rolprente gebruik die Spaanse rolprentmaker Pedro Almodóvar dieselfde boustene: geslag, seks, begeerte en identiteit.
Sy prente is soos ’n onbekende wêreld wat die kyker betree. Al waarborg wat jy het, is dat die auteur se blik eksoties en dwarsweg eksentriek gaan wees.
Hier dwing hy die kyker om te kyk, eerder as om waar te neem. Soms wil jy regtig nie meer nie, maar jy kyk. Van die beelde sien ons deur ’n toesigkamera. Jy het toegang tot ’n binnekamer, iemand se intieme ruimte. Ons hoort nie daar nie. ’n Vrou in ’n vleeskleurige spanpakkie doen joga, maak kleibeeldjies en teken teen die wit mure. Alles is modern, sjiek; tog voel jy die onheil aan voordat ’n druppel bloed spat.
Die suksesvolle dog obsessiewe snydokter Robert Ledgard (Banderas) hou Vera (Elena Anaya), ’n pragtige vrou, gevange in sy moderne villa buite Toledo. Is Vera sy pasiënt, wonder jy aanvanklik so half onskuldig. Een van die talle rykes wat ’n ander gesig en lyf by die wonder-dokter bestel het?
Of is hier veel meer op die spel? Die verhaal maak gru-kronkels wat in die riller- en gruwelgenre tuishoort, maar getrou aan Almodóvar beloon hy jou aan die einde met ’n eksistensiële drama.
Hy draai die spieël terug na sy kyker (manlik of vroulik) en vra prontuit: “En jy? Wat is die boustene van jóú identiteit?”
Almodóvar speel weer slinks met “maskers”: ’n Verlore seun klop aan, geklee in ’n kind se tierpakkie, Vera dra ’n masker wat later ’n pragtige, vlekkelose gelaat openbaar, Banderas se gesig is deurentyd ’n strak masker. Wie is die karakters dan nou eintlik? Net in die heel laaste toneel identifiseer die hoofkarakter haarself.
Ook opvallend, soos altyd, is die dubbel-rol van die ma. ’n Soort piëta-figuur wat die smart van haar seun op haar neem – of dalk eerder die bose medepligtige? Die prent is Almodóvar se verwerking van die Franse skrywer Thierry Jonquet se riller Mygale. Hier word nie mooi broodjies gebak oor die politiek van die liggaam of geslag nie.
The Skin I Live In is so openhartig en eiesinnig soos ons eie Skoonheid . Lank lewe dié vreeslose regisseur wat die skuiwergate in ons kosbare sekerhede wys.
- Nie vir sensitiewe kykers nie; weens inhoud van grafiese seksuele geweld.
Ouderdomsperk: 18GNSD.
Tydsduur: 120 minute.
- Soortgelyke prent: Talk to Her