Eenvoudige onskuld en slaplag-jolyt
2012-01-27 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
The Muppets
Komedie
4/5
Met Jason Segel, Nicholas Stoller, Chris Cooper, Amy Adams, Rashida Jones
Regie: James Bobin
Dié nuwe Muppets-rolprent, bloot met die titel The Muppets, laat jou nie brul van die lag nie (dis uiteraard net Kermit se voorreg!), maar is weliswaar uiters vermaaklik en bowendien gepeper met ’n ouwêreldse sjarme.
Dit is lanklaas dat enige prent jou so goed laat voel het sonder dat jy daaroor hoef na te dink, of jou met enige skuldgevoelens gelaat het. Dié Disney-produksie doen baie om die verwaterdheid van talle Muppet-TV-produksies, wat die wêreldmarkte oor dekades oorspoel het, te herstel.
Jim Henson se geesteskinders gaan nou op loop of ’n Renaissance op hulle wag. Indien op dié peil voortgebou kan word, sal dit beslis so wees dat ’n nuwe geslag kleuters tot hulle aangetrokke is.
Tog het Henson se benadering tot sy hele Muppet-produkreeks ook altyd daarvoor gesorg dat volwassenes daardeur gefassineer word; sommige kommentators het genoem dat dit van tyd tot tyd bo die vuurmaakplek van baie kleintjies begin hang het.
Niks is so lekker as om weer ou vriende te (her-)ontmoet nie, al is hul name Kermit, Miss Piggy, Fozzie, Gonzo (en die res).
Die musiekspel-formaat wat hulle hier gebruik, maak nie net die stembande los nie, maar laat ook plek-plek die voete jeuk.
Wanneer drie Muppet-aanhangers verneem dat Tex Richman (Chris Cooper) onder die Muppet-teater wil boor op soek na olie, probeer Gary (Jason Segel), Mary (Amy Adams) en Walter om die ou poppe terug te kry wat vir jare wyd verspreid in bewaring gehou is.
Kermit het in ’n depressiewe toestand sy eie herehuis in Hollywood gehad, maar was vreeslik eensaam. Gonzo was ’n vername loodgieter met die slagspreuk “Gonzo’s Royal Flush”, terwyl Fozzie in ’n orkes gespeel het wat net ou ou liedjies ken: The Moopets.
Miss Piggy het intussen die “plus-grootte”-moderedakteur van Vogue Paris geword, terwyl Animal hom by ’n angsrehabilitasiesentrum vir BBP’s in Santa Barbara bevind het.
Almal van hulle span saam om te keer dat geldgierige oliemagnate nie hul kans bederf om weer almal op ’n verhoog te kan verskyn nie.
The Muppets is ’n jolige affêre; met oomblikke van skerp humor, soms wonderlike ironie en bowenal ’n aansteeklike samehorigheid. Dis geskik vir die hele gesin, maar los dalk tog maar moeilike tieners tuis.
Ouderdomsperk: A. Tydsduur: 103 minute
- Soortgelyke prent: Hop.

Amy Adams en Jason Segel en hul pop-vriende span kragte saam in The Muppets.