Min ligpunte lei tot ’n flou poging
2012-01-27 08:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
The Darkest Hour
Riller
2/5
Met Emile Hirsch, Olivia Thirlby, Max Minghella, Rachel Taylor, Joel Kinnaman
Regie: Chris Gorak
Die eerste ding wat die regisseur Chris Gorak moet doen, is om sy draaiboekskrywer af te dank.
Tweedens moet hy beslis ’n ander redigeerder kry.
En derdens moet mnr. Gorak dalk self maar teruggaan fliekskool toe. Want die hemel weet, The Darkest Hour is ’n flou poging.
Die storie, kortliks: ’n Paar jong Amerikaners bevind hulle in Moskou vir werk en plesier wanneer die kragtoevoer skielik uitsny en die stad in donkerte gehul word.
Soos een man storm almal na buite, waar hulle vasgenael staan voor iets wat lyk na die Noorderligte in die hemelruim en duisende spikkels “vuurwerk” wat stadig aarde toe daal.
Vriendelike vuurvliegies is dit nié; dit sien ons wanneer ’n polisieman ondersoek instel en die nou onsigbare gedoente hom netso in ’n kolletjie as omtower.
Dis oorlog. Die mens staan nie ’n kans nie, maar ons spul jonges leer darem dat die buiteruimtelike wesens enige elektriese toestelle in die omgewing laat flikker en dis dus veiliger om in die nag te beweeg. Die spel is middelmatig en meestal ongeïnspireerd.
Emile Hirsch, wat so beïndruk het in Into the Wild, moet dalk ook vir hom ’n ander agent kry, want dié prent doen hom geen gunste nie.
Oor die dialoog kan ’n mens ook heelwat skryf, maar laat staan dit om te sê dat die soetsappige aard daarvan genoeg is om die gehoor op verskeie (dramatiese) oomblikke te laat skater van die lag.
Die fliek word in 3D uitgereik en minstens kan daar genoem word dat die skeppers jou nie oordonder met hul effekte nie.
Maar dan benut hulle dit ook nie ten volle nie – veel meer spanning kon geskep word indien hulle daardie soekende, elektriese “voelers” van die wesens hier onder jou neus kom laat vat-vat het.
Net van waarde in die prent is dat dit ’n interessante ligging bied.
Dis min dat Moskou in die kollig beland, buiten as agtergrond vir een of ander spioenasie- of James Bond-drama. Ondanks die feit dat dié nou kosmopolitiese stad maar afgetakel daar uitsien weens die aanvallers se verwoestende uitwerking, kry jy tog ’n glimps van hoe dit moet wees om dié opkomende stad te verken.
Ouderdomsperk: 13TG. Tydsduur: 89 minute.
- Soortgelyke prent: War of the Worlds

’n Groep jong mense moet vinnig grootword wanneer Moskou deur buiteruimtelike wesens ingeval word in The Darkest Hour.