Ramsay se vasvat is verslawend
2012-01-20 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
As daar nou een program op televisie is wat jou sal laat herbesin oor restaurant-etes, dan is dit Ramsay’s Kitchen Nightmares.
Dié reeks, wat op BBC Lifestyle en BBC Entertainment uitgesaai word, is verslawend. Wees dus gewaarsku as jy dit nog nie raakgekyk het nie. Wanneer jy een episode gesien het, wil jy meer sien.
Ek het per ongeluk daarop afgekom en nog voordat ek daardie eerste episode klaar gekyk het, het ek geweet ek wil meer sien.
Baie kykers sou die reeks al gesien het, dis nie nuut nie. Die huidige episodes is ook nie nuut nie, dis herhalings. Maar ek gee nie om nie.
Dit werk só: Restaurant-eienaars wie se ondernemings in die moeilikheid is, kontak Gordon Ramsay om hul plekkies te kom regruk.
Ramsay volg in elke episode dieselfde resep. Eers proe hy die kos, wat sonder uitsondering oneetbaar is.
Dan gaan krap hy in die kombuise en stoorkamers en yskaste rond. Dis meermale ’n nagmerrie. Mens wil amper nie eens uitbrei daarop nie. Kom ons volstaan dus deur te sê Ramsay moes al ’n paar keer vinnig badkamer toe hol terwyl jy in jou sitkamer voel hoe jou maag saam draai.
Dan kyk hy hoe ’n eetsessie verloop. Gewoonlik is dit chaos. Dit het selfs ’n paar keer gebeur dat hy midde-deur die aand alles stopsit omdat die eienaars bederfde kos probeer voorsit.
Glo my, jou mond hang deurentyd oop.
Hierna stuur Ramsay die eienaars en personeel huis toe terwyl hy en sy span deurnag werk om die plek ’n nuwe voorkoms te gee en ’n splinternuwe spyskaart uit te werk. Die laaste aand is die herbekendstelling van die restaurant.
Jy sou dink die eienaars is in die sewende hemel oor hierdie sjef (met sy 12 Michelin-sterre) wat hul bas kom red.
Maar moenie glo nie. Hulle stry en baklei met hom: Die kos is glad nie sleg nie. Die klante hou daarvan. Tot Ramsay en die kyker se stomme verbasing. Watter klante? Die restaurant is dan dolleeg!
Mens kan nie help om Ramsay te bewonder nie. Sy geduld is eindeloos, al is dit vermeng met ’n hele paar gekruide woorde en passievolle handgebare.
Dis duidelik dat hy werklik vreugde daaruit put wanneer die restaurant daarin slaag om ’n suksesvolle ommeswaai te maak.
En dit gebeur nie altyd nie. ’n Paar restaurante het steeds ondergegaan. Maar moenie dink dit keer hom nie. Al wat ons nou vra, is dat die episodes nie sal ophou kom nie!