iPad maak aflaai van gunstelinge maklik
2012-02-05 21:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Soos alle eienaars van ’n iPad is ek nie seker watter nut die ding het nie: Dis ’n foefie sonder funksie.
Maar die een ding wat hy onteenseglik kan doen, is om boeke af te laai – verniet, as jy iets kies waarvan die kopiereg verstryk het.
Dus kan ek nou baie van my ou gunstelinge in ’n splinternuwe formaat lees, sonder al daardie onderstrepings, kantaantekeninge en bladsyverwysings uit my akademiese dae.
As ons aanneem dat die eerste boek wat ek afgelaai het my gunsteling moet wees, dan is my gunsteling- (verniet) roman sonder twyfel George Eliot se Middlemarch.
Ek het jare lank hierdie boek gedoseer en het dit seker al 20 keer gelees, maar ek kan steeds met genot die boek (of dan nou my iPad) oopslaan by daardie wonderlike openingsin: “Miss Brooke had that kind of beauty which seems to be thrown into relief by poor dress.”
En dan, 896 bladsye later, steeds Miss Brooke, nou Mrs. Ladislaw en ouer en wyser, in ’n tour de force van ’n slotsin: “But the effect of her being on those around her was incalculably diffusive: for the growing good of the world is partly dependent on unhistoric acts; and that things are not so ill with you and me as they might have been, is half owing to the number who lived faithfully a hidden life, and rest in unvisited tombs.”
Ondanks die boek se sobere oortuiging dat jeug-idealisme al te maklik tot niet gaan in die kompromieë wat ’n siniese wêreld vereis, bly daar tog dít oor: die geloof in “the growing good of the world” en die hulde aan die heldemoed van die daaglikse, “the number who lived faithfully a hidden life”.
Dié boek omsluit en ontsluit ’n wêreld.
En my tweede aflaai?
Emma van Jane Austen, met ’n openingsin amper lynreg teenoor Eliot s’n: “Emma Woodhouse, handsome, clever and rich, with a comfortable home and happy disposition, seemed to unite some of the best blessings of existence; and had lived nearly twenty-one years in the world with very little to distress or vex her.”
Die statige Dorothea Brooke en die stuitige Emma Wood- house.
Kan daar twee meer uiteenlopende heldinne wees?
Maar daar staan hulle sy aan sy op my virtuele boekrak, verenig deur die elektronika – en deur die wonderbaarlike uitvindsel van die roman.
***
Michiel Heyns is ’n oud-akademikus, nou skrywer en vertaler.
Sy mees onlangse publikasies is die roman Lost Ground (Jonathan Ball, 2011) en die vertaling van Etienne van Heerden se 30 nagte in Amsterdam (Penguin, 2011).
Sy jongste roman, Invisible Furies, verskyn vanjaar by Jonathan Ball, asook sy vertaling van John Kannemeyer se biografie van J.M. Coetzee.