Vuvuzela laat voëls en bobbejane vlug
2011-02-11 04:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Stanford - ’n Boer van hier het ’n innoverende gebruik vir die vuvuzela uitgedink: ’n doeltreffende afskrikmiddel.
Voëls en bobbejane word sedert Desember verwilder met die getrompetter van dié eg Suid-Afrikaanse instrument op die plaas Weltevrede van die Stanford Hills-landgoed.
Mnr. Peter Kastner en sy vrou, Jami, het dié wapen begin benut “toe die druiwe begin deurslaan”.
“Die eerste gaste wat gekla het oor die lawaai het eintlik self voorgestel ons gee hulle afslag, want hulle wóú hier bly,” verduidelik Kastner.
Die kothuis naaste aan die wingerde, genaamd A Touch of Plaas, is in die spervuur omdat ’n groot boom langs dit sitplek bied vir witogies en Kaapse spreeus wat druiwetrosse verniel. Nou word dié blyplek (een van drie kothuise) sommer by voorbaat teen R100 per nag minder aangebied.
Maar die grootste voordeel van die vuvuzela se gebulk is bobbejane wat halsoorkop laat spaander. Mnr. Phumlani Lose, die “kampioenblaser”, lag te lekker oor die konsternasie onder die kese. Hy vertel ook hoe hy al moes voet in die wind slaan toe ’n bobbejaanwyfie haar kleintjie in haar haastigheid verloor het van skrik en hy wou nader staan om te help.
Dan beduie hy – self ’n sokkerspeler – van die werkers op buurplase kon eers nie die stadion-atmosfeer verstaan nie. “Hulle het gevra of ons dan die hele dag speel.”
Kastner het gesê die twee of drie werkers wat op ’n slag aan’t blaas is, is eintlik heel ingenome met hul taak. Nie net kry hulle ekstra geld nie, maar daar is nie sprake van handearbeid as jy op so ’n skof is nie.
“Die halfgeëte druiwe en verwoesting van die wingerd het drasties verminder.”
- Die Burger