’n Lewe ryk aan verhale en erkenning
2010-03-15 22:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die doyenne van Afrikaanse kinderliteratuur, Alba Bouwer, is vandag 90 jaar oud.
Haar dekades lange skrywerslewe (sy was ’n tydgenoot van onder andere formidabele vroueskrywers soos Audrey Blignault en Rykie van Reenen) lewer ’n ryk oes aan erkenning en bydraes op.
Die uitgewer Danie Botha vertel hy was bevoorreg om soms by haar aan huis in Oranjezicht te kom, eenmaal om vir Die Kaapse Bibliotekaris ’n onderhoud te voer. “Daardie somermiddag gebruik sy beelde om haar skryfwyse te verduidelik. Sy praat van ’n sin waarin die woorde soms opdam soos water in ’n sloot en jy moet die water weer laat loop. Of jy stap in die veld en tel houtjies op vir latere vuurtjies. Daarmee was ek terug op ons plaas by Brandwacht met sy waterstrome en renosterbosse.”
Oor die skrywer van die klassieke Rivierplaas-stories (die Alba Bouwer-omnibus is onlangs heruitgereik met illustrasies deur Katrine Harries) vertel Botha hy dat hy by Tafel- berg-Uitgewers aangesluit het ’n rukkie ná die verskyning van ’n Hennetjie Met Kuikens. “Ek kom agter hoe hoog sy as skrywer waardeer word, hoe elke boek van haar ’n gebeurtenis is, hoe dikwels sy bekroon is.”
Marina le Roux, ’n jare lange vriendin van Bouwer en kenner van kinder- en jeuglektuur, vertel in 1963 met die verskyning van Stories Van Bergplaas, het Bouwer met Hubert Coetzee, destyds besturende direkteur van Nasionale Pers, in die huwelik getree. Sy word die ma van twee, Hubert se kinders, Annalette en Leon. In 1975, ses jaar ná Coetzee se dood, trou sy met Jan Hofmeyr, ’n prokureur van Riversdal.
Leon Coetzee sê oor sy stiefma: “Alba se invloed in my lewe is vandag my grootste bate. Ek dink vandag op haar 90ste verjaardag met groot bewoënheid terug aan die wonderlike jare wat ek gehad het saam met een van die merkwaardigste vroue in Suid-Afrika.”
Le Roux vertel welverdiende toekennings vir Bouwer se baanbrekerswerk het nie uitgebly nie. “Vir die twee Rivierplaas-boeke is die Scheepers-prys in 1959 aan haar toegeken. In 1965 ontvang sy die prys die tweede keer in drie boeke: Katrientjie Van Keerweder, Stories Van Bergplaas en Stories van Ruyswyck. Bouwer verower die C.P. Hoogenhout-toekenning drie maal. Met Vlieg Swaeltjie, Vlieg Ver word sy die eerste ontvanger van die gesogte M.E.R.- prys, ingestel deur Nasionale Pers in 1984. In 1987 stel die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n nuwe toekenning bekend: die Alba Bouwer-prys, ’n welverdiende huldeblyk aan die doyenne van die Afrikaanse kinderliteratuur.”
Botha vertel sy het Thielicke vertaal, en het gebedeboeke onder ’n skuilnaam geskryf. “Ek werk met haar saam met haar kinderboekvertalings en met Afrikaans 100. Sy vertrou haar enigste roman vir volwassenes, Die Afdraand Van Die Dag Is Kil, aan my toe vir ’n keuringsverslag. Maar blykbaar het ek herskrywings verwag wat sy nie nodig gevind het nie. Charles Fryer het uiteindelik dié belangrike werk oor die ouderdom vir ons letterkunde gered. In 1995 versorg ek ’n bundel letterkundige essays onder redaksie van Thomas van der Walt ter viering van haar 75ste verjaardag, Die Blink Uur Van Mooi Dinge”.
Le Roux vertel Bouwer was net soos Blignault en Van Reenen, ’n kundige en prolifieke skrywer. “Haar indrukwekkende oeuvre sluit in tien oorspronklike kinder- en jeugboeke. Sy het ook talle kinderboeke uit Engels, Duits en Nederlands in Afrikaans vertaal en verwerk, die bekendste miskien Winnie-die-Poeh (1985). Voorts het Bouwer ook kosbare bydraes gelewer tot tydskrifte en verskeie versamelbundels.”
Hennie Aucamp wys daarop dat Bouwer een van die fynste stiliste is wat Afrikaans al opgelewer het. “Wanneer ’n mens ’n galery van onsterflike karakters in die letterkunde oproep, sal kinderkarakters in kinder- en jeugboeke ’n plek opeis, en dit geld ook die Afrikaanse letterkunde. ’n Mens dink aan die ‘monsters’; aan Brolloks en Bittergal van Langenhoven, aan Waterbobbejaan van Ben Venter. Maar jy dink ook aan die fynsinnige kindergestaltes uit die pen van Alba Bouwer, soos Alie van Rivierplaas en Abdoltjie van die Bo-Kaap, wat blywend en tydeloos geword het in die herinnering; kortom klassiek. Haar aanvoeling vir woorde en hul toonwaardes, haar onfeilbare sin vir ritme, behoort weer aan die hoë klok gehang te word, in ’n tyd waarin onpresiese segging die reël en nie die uitsondering nie geword het.
“Bouwer het in die laaste fase van haar skryfloopbaan oor ‘daardie ander kind, die ou mens’ – háár woorde – begin skryf, en haar beklemmende roman, Die Afdraand Van Die Dag Is Kil, laat geen twyfel oor die beproewinge van oudword en oudwees nie.”
Besoek www.http://blogs.die burger.com/boekredaksie25.
- Die Burger