‘Wonder-Tsjeg’ seëvier
2012-02-06 01:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PRETORIA. – Die 25-jarige Tsjeggiese pianis Lukáš Vondrácek het Saterdagaand die 12de UnisaVodacom- internasionale klavierkompetisie gewen.
Hierdie oorwinning het aan Vondrácek – of tereg die “wonder-Tsjeg” – nagenoeg R262500 verseker; en met vier spesiale pryse op die koop toe het hy R300000 verdien.
Dié pianis, wat uitermate beïndruk het in die eindronde met sy weergawes van concerto’s van Mozart en Rachmaninof, was boonop die eerste ontvanger van die John Roos- spesiale beoordelaarsprys van R250000, geskenk deur die Unisa-direktoraat.
Hierdie prys is in die lewe geroep om mnr. John Roos, adjunk-direkteur van Unisa se musiekstigting en jarelange artistieke direkteur van Unisa se internasionale musiekkompetisies, te vereer vir sy uitsonderlike bydrae tot die universiteit en musiek. Prof. Mandla S. Makhanya, vise-kanselier van Unisa, het dit aangekondig.
Die jongste finalis, Heejae Kim (24) van Suid-Korea, het die tweede prys (R187500) verower. Die Rus Stanislaf Khristenko (27) het derde geëindig en R150000 verdien. Sebastian De Bin (30) van Italië het R112500 vir sy vierde plek ontvang en Enrique Bernaldo de Quiros (30) van Spanje en Christopher Janwong McKiggan (26) van Brittanje het onderskeidelik vyfde en sesde geëindig en elk R75000 gekry.
Die wenners van die spesiale pryse is:
- R65000: die belowendste Suid-Afrikaner, wat ’n Dietmann-klavier ontvang (geborg deur die Klaviersentrum): Megan-Geoffrey Prins (SA);
- R10000: die belowendste halfeind-finalis wat nié die eindronde gehaal het nie (Unisa-direktoraat): Luka Okrostsvaridze (Georgië);
- R3000: vir die beste vertolking van ’n Barok-werk in die eerste ronde (James Verwey-trust): Stanislaf Khristenko (Rusland);
- R2500: die beste weergawe van Graham Newcater se Tokkate (Desmond Willson-trust): Prins;
- R2500: die beste weergawe van Peter Klatzow se Dazzle (Desmond Willson-trust): Vondrácek (Tsjeggië);
- R5000 (Marc Raubenheimer-prys): die beste weergawe van ’n sonate uit die klassieke periode in die tweede ronde (Damaris Loubser): Gehui Xu (China);
- R10000: die beste solo-uitvoering in die halfeindronde (Desmond Willson-trust): Vondrácek;
- R12000: die beste weergawe van ’n concerto in die eerste deel van die eindronde (Unisa-musiekstigting): Vondrácek; en
- R12000 vir die beste weergawe van ’n concerto in die tweede deel van die eindronde (Unisa-musiekstigting): Vondrácek.
- Die Burger