Web gons oor Joost-skandaal
2009-11-04 11:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dorette Marais/Nuus24
Kaapstad - Ondersteuning vir die sanger Amor Vittone het op die web ingestroom nadat dit aan die lig gekom het dat haar man, die rugbyspeler Joost van der Westhuizen, wel die man in die omstrede seksvideo is en dat hy haar ook glo met oud-Bokatleet Charmaine Weavers (Gale) verkul het.
Vittone het gister in trane in ’n onderhoud op Jacaranda 94.2 gesê haar hart is “uitgeruk”. Sy het gesê sy het haar man “elke dag” gevra of dit hy in die video was.
Van der Westhuizen het Sondag gesê sy kontak met die jong vrou in die omstrede seksvideo was “die eerste en enigste keer” wat hy ontrou aan Amor was, maar Weavers het Maandag bevestig dat sy ’n verhouding met Van der Westhuizen gehad het.
Sommige van die sowat 427 aanhangers van Vittone se Facebook-groep het op dié blad hul meegevoel met die sangeres en haar ‘situasie’ getoon.
“Ek het pas na Amor se onderhoud met Jacaranda geluister, hierdie vrou is gebreek. Asseblief Suid-Afrika gee hulle, en haar, spasie om te genees,” het een aanhanger geskryf.
“Alle Sterkte Amor. Jy sal sterker anderkant uitkom. Die mense is so maklik om te se skei, maar nee, dit bly jóú besluit. (Om te) vergewe sal die Here jou mee help. (Maar) vergeet dink ek nie gebeur ooit nie, die seer word wel mettertyd minder”, skryf ‘n ander.
Aanhangers het ook ‘n Facebook-bladsy op dié gewilde sosiale netwerk vir die sogenaamde seksvideo-skandaal geskep met die naam “Joost van der Westhuizen skande!”.
Hierdie groep het byna soveel aanhangers as Vittone se aanhangersgroep met 393 lede.
Aanhangers toon beide hul steun en afkeur vir Van der Westhuizen en die skandaal op hierdie blad.
“Joost, plaas het jy erken en gevra vir vergifnis! Maar om jou boek aan jou kinders op te dra waarin jy erken dat jy hulle ma verkul het? Jy vererger als net deur nou geld uit die gemors te probeer maak... nee wat, jy is nie 'n man se toon nie!,” skryf een persoon.
Kommentaar het ook op Jacaranda 94.2 se webblad ná die afloop van die onderhoud ingestroom.
“Los hom Amor voordat daar nog hartseer kom,” skryf 'n luisteraar.
Selfs op Nuus24 se blad het Suid-Afrikaners hul opinies oor dié saga gelewer.
“Wow... Joost & Steve Hofmeyr in kompetisie!,” is een se opinie.
Intussen het die eerste uitgawe van Van der Westhuizen se boek, Joost: Man in the mirror, Maandag binne 24 uur uitverkoop.
Sarie, Suid-Afrika se top vrouetydskrif, bied in hul Desember-uitgawe 'n eksklusiewe onderhoud met Amor. Lees meer hier.
- Nuus24