Wagner warmbloedig en seëvierend vertolk
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapse Filharmoniese Orkes
Kaapstadse stadsaal
***
Die tweede simfoniekonsert in die orkes se huidige somermusiekfees is ingelei met ’n warmbloedige vertolking van Wagner se Ouverture tot Tannhäuser, onder leiding van die Japanse dirigent Yasuo Shinozaki.
Die luisterryke Pelgrims-motief, wat effektief met die sinnelike Venusberg-musiek afwissel, het weer seëvierend in die slot verskyn.
Die koperblasers moes hard werk en het onvermydelik die viole, wat te min vir Wagner is, oorheers.
Hierna is Jeanne Zaidel-Rudolph se Pendulum vir klavier en orkes, met Malcolm Nay as solis, gespeel. Zaidel-Rudolph is die eerste vrou in Suid-Afrika wat ’n doktorsgraad in komposisie verwerf het. Die werk is in 2010 in opdrag van Samro gekomponeer en met Nay as solis in Johannesburg uitgevoer.
Die drie dele met sterk kontrasterende stemminge duur 22 minute.
In die programaantekeninge hoop die komponis dat die werk vir homself sal spreek. Vir my was dit inderdaad so. Die klankpalet is ruim, daar is groot melodiese en ritmiese vindingrykheid, en ’n dinamiese polsslag in veral die twee buitense dele.
Die ruiker blomme wat sy ná die uitvoering van haar verbeeldingryke, mooi werk gekry het, was baie gepas.
Onder Shinozaki se energieke leiding is Beethoven se glorieryke Simfonie no. 5 ná die pouse met krag en visie vertolk. Die spel was intens met ’n wye, maar nooit oordrewe, omvang in klanksterkte: van fluistersag tot gloeiende fortissimo’s. Die gehoor het die dirigent en die orkes lank en staande toegejuig.
- Die Burger