Tussenruimtes boei Botha
2010-07-13 21:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Om 23:30 flits ’n haas, oënskynlik so groot soos ’n Springbok, verby ou Nazi-barakke oor die veld. Dit is onaangenaam stil, al is die ligte aan. Die besoek aan die Noordsee-eiland Sylt is vir ’n gesprek met die kunstenaar Lien Botha in die Kunst:Raum Sylt Quelle. Dié kunssentrum, met sy susterprojek JOZI Art:Lab in Johannesburg, fasiliteer die besoeke van kunstenaars van oor die wêreld aan die eiland. In Junie was dit Botha.
Sylt, op die grens tussen Duitsland en Denemarke, is die kroonjuweel in die Germaanse landskap: wit hervestigde duine, wuiwende duingras, sprokiesagtige rietdakhuise, ’n oop ontspanne hemel, hase in holtes.
“Waar is al die mense?” vra Botha. Dit is die vooraand van die langste dag van die jaar (somersonstilstand) – ’n magiese aand op die paganistiese kalender. Dan kom ’n vrou kaalvoet deur die gewel-deurgang aan die sykant van die bruin barakke. Sy dra ’n wit romp wat voor haar uit in die wind fladder. In die ongemak van die laatskemer kon jy haar vir ’n spook aansien, maar “sy hou ’n selfoon pleks van ’n kers vas”, merk Botha op. Sy sweef onbewus van haar waarnemers voort tot Botha “Guten Abend” groet.
Vermoedelik, oënskynlik, dalk. Dít is die delikate, “ongemaklike ruimte” waar Botha se werk leef, soos Bronwyn Law Viljoen oor Botha se uitstalling Parrot Jungle (2009) geskryf het. Niks is ooit seker nie.
Botha fokus daarop om vlietende, skynbaar niksseggende oomblikke vas te vang, maar sonder om dit gevange te hou: pienk bloeisels op ’n teerstraat net voordat dit wegwaai; muurbeelde van voëls in vlug teen die wand vasgevang kort voordat hulle uit die skoot verdwyn. Deurgaans is daar iets aan haar werk wat dui op ingehoue asem, ’n huiwering voordat die oomblik in ’n volgende oorgaan. Dikwels tree werke in dieselfde of uit vorige uitstallings in gesprek met mekaar en word deel van ’n groot gesprek om die verlede sagkens oop te beitel.
Hier op Sylt dink Botha opnuut oor werk: “Ek ry op die bus en ek wonder oor hul geskiedenis. Wat was erger? Is ons s’n minder as hulle s’n? Maak dit saak? Omdat ons so ’n sterk verwantskap het met die Germane dink jy, wat is jou aanspreeklikheid? But, people move on. Die Jode wat gevlug het, kom terug. Ek kyk na die gefabriseerde woudjies en oorde wat hier uitmekaarval, en ek dink heeltyd, waar kon die mense wegkruip? Die diere kruip in bosse weg. Die hase het hul holtes. Waar kon húlle skuil? Nou soek ek skuiling agter die kamera.”
Aanvanklik het sy sonder verwagting begin “werk” en lang ente gaan stap om die balans in die omgewing te soek. “Die juistheid hier is onjuis,” sê sy. Sy kon haar nie eenvoudig deur die idilliese, mooi van die oppervlak laat “inspireer” nie, want dan sou sy die dieper fluisteringe van die omgewing miskyk. Wat het hier gebeur? Wie het hier geleef? Wie of wat het daarvan oorgebly?
Waar is die tekens wat die pad na hierdie ander werklikhede neffens die sigbare wys?
Om hierby uit te kom word gesprekke en wandelinge met haar onvermydelik ’n studie in die uitruil van sintuie – proe met jou vel, hoor met jou oë, voel met jou ore die verwagting in die stilte op ’n eiland soos dié.
Die balans het sy in die see teruggevind. Haar herontdekking die afgelope jaar van die woord – “beeld vat plek op, maar ure se soek, kan vir jou een woord gee, die regte woord” – het nuwe dimensie gegee aan die presisie waarmee sy die vlietende oomblik kies. Soos dikwels tevore, werk sy met die diptiek, hierdie keer ’n portret van agter geneem.
“Die idee het gekom van my oopgevlekte swart notaboekie waarop ‘Where is it?’ geskryf staan. Só. Met die woorde aan die een kant en die swart agterblad aan die ander,” demonstreer sy met haar hande.
“Die portrette van agter kyk weg. Waarnatoe? Wat wil jy nie sien nie? Maar dit kyk ook terug, want daar gaan altyd iets wees wat relate. Dis Angela se grys vlegsel (haar eerste werk daar) én die houtperd se stert.”
Die geskiedenis is hier allermins eenvoudig. Maar is dié potensieel sensitiewe opgrawing daarvan bloot ’n uitvloeisel van die omgewing hier, of dui dit eintlik op eie kwessies?
“In Suid-Afrika herevalueer ons elke dag. Elke dag gaan oor oorlewing. Waar ons bly (Bettysbaai) is jy so bewus van die oerwoud. Partykeer voel ’n mens soos ’n fout in die landskap en jy praat met jouself. Hier sluit drie lae glas (in die vensters) die landskap uit. Daar is so baie vrae, hier en daar, wat onbeantwoord bly. Ja, ek het seker my eie sak (kwessies) saamgebring.”
Wanneer ons later langs die Wattenmeer stap: “Die mense word gewaarsku om nie hier te swem nie. Die getye kom so vinnig in. Hier was al ’n paar drenkelinge,” sy sê na die wind en trap deur die modder. Dié wat agterna kom spring op hervestigde graspolletjies en bly uit gevaar.
- Volksblad