Tuiste vir Afrikaans in Nederlands
2010-10-13 20:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die Martinus Nijhoff-prys vir vertaling is die grootste prys vir ’n vertaler in Nederland. Dit gaan vanjaar aan Riet de Jong-Goossens vir haar literêre vertalings uit Afrikaans in Nederlands. Sy het metWillem de Vries oor vertaling en Afrikaanse letterkunde in Nederland gesels.
- Jou jarelange vertaalwerk getuig van ’n durende verbintenis tot Afrikaanse letterkunde. Hoe het dit begin? En bespeur jy in Nederland ’n veranderende houding teenoor Afrikaans en Afrikaanse letterkunde?
Die verbintenis het ontstaan deur my belangstelling in die politiek en vir die gedigte van Breyten Breytenbach. Toe ek algemene literatuurwetenskap gestudeer het aan die universiteit het Hans Ester (’n Nederlandse kenner van Afrikaanse letterkunde) vir ’n semester Afrikaanse letterkunde gegee. Toe ek vir my doktoraal-eksamen twee studiepunte kort, laat hy my twee verhale van E. Kotze vertaal. En toe was dit aan my verkoop.
Daar is wel ’n veranderende houding, maar heel duidelik sien ek dit nie. Kritici is die goeie literatuur goedgesind, maar daar is steeds ’n resensent wat elke Afrikaanse werk afmeet aan die aanwesigheid al dan nie van politieke punte. Gelukkig is dit ’n enkeling.
- Watter stories uit Suid-Afrika boei Nederlandse lesers veral?
Dit is moeilik om te peil, maar veral in die beginjare tagtig en negentig was dit veral die eksotiese, die magies realistiese wat mense aangetrek het. Ek dink hier aan Towerberg van Etienne van Heerden en die bundels van Riana Scheepers. Hierdie aspek het later minder belangstelling geniet.
- Is jy lugtig vir enige genre?
Ek is nie bang vir ’n bepaalde genre nie, maar wel vir romans met baie bruin Afrikaans. Dit is eintlik tog wel onvertaalbaar. Die sjarme van die taal kan nie in Nederlands oorgebring word nie. Ek is eintlik daarteen. Hoe pak jy dit aan? Gebruik jy die een of ander Nederlandse dialek? Of Surinaams? Ek het groot moeite gehad met fragmente in EKM Dido se Die ander ek. Gelukkig was dit maar ’n paar fragmente. In oorleg met die uitgewer het ek spreektaal gekies.
Watter Afrikaanse werke word binnekort in Nederlands uitgereik?
Ek meen die mees onlangse bundel van Riana Scheepers (Katvoet) is al uitgereik, maar ek het dit nog nie gekry nie. Wilhelmina, kampkind op Java van Mariël Leroux kom volgende jaar uit. Verder is ek nou besig om die speurverhaal van Karin Brynard, Plaasmoord, te vertaal, met die intrigerende Nederlandse titel Moord op Huilwater.
Ek vind dit ontsettend lekker om dit te vertaal. Ek lees graag speurverhale en die sosiale en maatskaplike implikasies daarin is nommerpas om die Nederlandse leser in te lig.
Daarna kom ’n pragtige boek: Afstande van Dan Sleigh. Ook daaroor verheug ek my.
- De sneeuslaper van Marlene van Niekerk is pas in Afrikaans gepubliseer en verlede jaar in Nederlands uitgereik. Daarin word grense tussen Afrikaans, Nederlands en Duits geperforeer. Was dit moeilik om dieselfde te laat blyk in Nederlands?
Oor die Afrikaanse uitgawe van De sneeuwslaper kan ek niks sê nie. Ek het dit nog nie gesien nie. Maar ek is nuuskierig. Die boekhet ’n ongewone komposisie en is in Nederland geskryf onder druk.
Ek weet nie presies hoe ek dit moet uitlê nie, maar die teks is in as’t ware ’n wordende staat na my gestuur, telkens ’n paar bladsye, waarna dit vertaal en teruggestuur is en dan in albei tale aangepas en verander is, en dan nog ’n paar keer weer.
Dit was ’n buitengewoon fassinerende en selfs euforiese skeppingsproses waarin Marlene en ek die grense van wat literêr en wat fout is, verken het. En die grens is heelwat smaller as wat jy sou dink.
Van Niekerk is vir ’n vertaler ’n baie besielende skrywer, al is haar tekste moeilik. Ek leer elke keer baie by haar. Ek wil egter nie beweer dat ander skrywers my nie inspireer nie.
Oor die algemeen het ek en die skrywer prettige kontak. Die plesierige herinneringe aan Katvoet is nog vlak in my geheue.
Wat die Afrikaanse Sneeuslaper betref: Ek vermoed dat dit heel anders as die Nederlands is. Te meer omdat die skrywer my gevra het om ’n paar volksliedjies op te soek wat nie in die Nederlandse weergawe is nie.
- Het jy ’n vaste manier van voorbereiding vir ’n vertaling of vra elke teks om ’n ander benadering?
Ek het uitvoerig nagedink oor my metode (as ek dit al het) en ek dink dat dit kom van tydens my studie van Frans – ek het ’n deeglike opleiding in teksontleding gehad.
Drie jaar lank moes ons elke week ’n teks ontleed en in toenemende grade van moeilikheid. Poësie sowel as prosa.
Die eerste vraag wat as ’n reël gestel is, was: Wat is die aard van die teks? En dan die opdrag: Motiveer jou antwoord.
Ongemerk word dit tweede natuur. In watter taal maak nie saak nie. Ek vang my self dat ek dit ook doen as ek ’n boek vir die plesier lees.
Dit is dikwels kleinighede wat die teks karakteriseer, ’n eie register skep en in die stemming bring.
Verder lees ek die boek een keer. Anders verloor ek my goeie ingewings. Die teks moet vars bly. Ná die eerste rofweg vertaling lees ek dit wel nog tien keer.
Ek het met ’n Belgiese kollega daaroor gepraat, ’n ervare vertaler van Duits en Engels, en hy doen dit ook so.
Die sukses van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland hang van die gehalte af. Buitelandse uitgewers is nie gek nie en finansieel gaan dit nie regtig baie goed nie. Dus koop hulle net goeie boeke aan. Daar bestaan meer as wat vertaal word, helaas.
My grootste hoop is dus vir talle opvallend goeie werke waaraan Nederlandse lesers plesier sal hê.