The Hollies tel nie die jare, net mylpale in loopbaan van decades
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
JOHANNESBURG. – Hy is al beskryf as een van die beste tromspelers in pop en rock, maar die 70-jarige Bobby Elliott gesels met die rustige gelykmatigheid van jou gunsteling-oom.
Elliott slaan al sedert 1963 die tromme vir die Britse groep The Hollies, wat Suid-Afrika vandeesmaand weer besoek. Dit is ’n leeftyd, en Elliott het in hierdie tyd sy stokkies as sessiemusikant vir min ander groepe geswaai.
“Dit is ’n vreemde gevoel as ’n mens ná soveel jare terugkyk op die pad wat jy geloop het,” sê hy oor die telefoon uit Londen. Dit is dalk aan die ander kant van die aardbol, maar ’n mens kan jou amper verbeel hoe hy terugsit en onthou.
“As jy hier terugkyk, met The Hollies se 50-jaar-herdenkingstoer, besef jy die getal jare is irrelevant en sien jy net die mylpale. En eintlik voel dit alles soos gister – dit is nogal vreesaanjaend.”
Hy aanvaar die kompliment oor sy beste-ter-wêreld-tromspel met grasie.
“Weet jy, as ’n mens jonger is en mense maak ’n ophef van jou, kan jy maklik glo jy is die beste en niemand kan jou meer iets leer nie. Maar soos die tyd aanstap, besef jy dit is ’n groot fout.”
Hy noem die musiekbedryf “ ’n snaakse ou speletjie”.
“Dit bly maar ’n wipwaentjierit. Partykeer is jy heel onder en later besef jy hoe gelukkig jy is om nog te kan speel.”
Op sy ouderdom het baie van sy eweknieë al afgetree, dikwels ná ’n lang loopbaan in ’n werk wat hulle nie regtig wou doen nie, sê hy.
“Maar daar is niks anders wat ek eerder wou doen nie. Hierdie ding is soos ’n dwelm. Daardie beswyming as jy klaar is met ’n vertoning en die gehoor juig. Daar is niks wat dit klop nie.”
Hy en Tony Hicks van die groep bestuur The Hollies soos ’n onderneming, sê hy. “Ons is in beheer van die rigting wat die groep inslaan en ons kan kies wat ons wil doen.”
Maar nooit sou hy in die beginjare kon droom dat The Hollies so lank sou bestaan en steeds toer nie.
“As ek nou terugdink, besef ek ons het verwag om dalk vir so twee of drie jaar musiek te maak. Ons het begin in die dae toe Cliff Richard en The Beatles begin naam maak het.”
The Hollies was deel van die sogenaamde Britse Inval, toe Britse groepe in die 1960’s die Amerikaanse musiekbedryf begin oorheers het.
“Dit is ’n eer en ’n voorreg om nog hierdie liedjies uit te voer wat vir ons so baie beteken het,” sê Elliott. Ná soveel jaar kan ’n mens nie regtig van hierdie liedjies uitsonder nie. “Ek reken ‘Long Cool Woman in a Black Dress’ het vir ons baie beteken. En as ek so vinnig moet kies, sal ek ‘Away Away Away’ uitsonder van ons Butterfly-album (1967) as ’n liedjie wat dalk nie hoofstroomsukses behaal het nie, maar wat ek dink ’n goeie liedjie was.”
So deur die jare kon hulle altyd met redelike sekerheid voorspel watter snitte op ’n nuwe album treffers sou word.
Hy sê daar was ’n paar kere wat hy bewus was van “toorwerk”: oomblikke wat hy spontaan hoendervel gekry het.
Een só ’n oomblik was tydens die opname van hul album Holliesin 1974 in die ateljee van die ingenieur Alan Parsons.
“Toe die kitaarsolo in ‘The Air That I Breathe’ die eerste keer deur die Leslie-luidspreker kom, was dit pure betowering.”
The Hollies was in 1997 ook in Suid-Afrika. “Ons sien natuurlik baie daarna uit om weer in Suid-Afrika op te tree. Die gehoor kan uitsien na al die groot, ou treffers en ook ’n paar verrassings.”
- The Hollies is op 23 Februarie in Kaapstad se Grand Arena in die GrandWest-casino en op 25 Februarie in die Big Top-arena in Carnival City.