Sy kortverhale bly flonker
2012-02-09 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
“Ek het grootgeword met diewe en moordenaars wat ontsnap het en dan in vervalle murasies of in Swartberg se klowe tussen ruie bosse wegkruip. Gange waarin iemand afstap en dan skielik die reuk van die dood kry, vrouens wie se hare in een nag heeltemal grys word, gesmoorde gille, dig toe vertrekke waarin klippe of klonte vars bloed op mense val, dit het nie net in my nagmerries bestaan nie. Maar daar was ook dié stories wat jou gevoelens verwar het...”
So vat ’n fiktiewe skrywer in Abraham H. de Vries se Skaduwees tussen skaduwees (1997) die Kannalandse oerbronne saam waaruit sy verhaalkuns sou ontstaan het. Op abstrakter vlak verwys hy daarna as die onbegryplike, die verskriklike, die onverwagte en (soms) droefheid.
’n Mens sou, denkende aan die werklike skrywer, wou byvoeg: partymaal ook ’n skaterlag, selfs vir lesers wat hy in ’n strik gelok het. Want vra jy hom byvoorbeeld versigtig, soos selfs sy ou vriend André P. Brink gedoen het, na die geleerde dr. Thelo, wat aand ná aand bogenoemde verhale met die skrywer se vader sou sit en uitwissel het, blyk dit dié het nooit bestaan nie. Net so min soos sy boek met die tergende maar dubbel fiktiewe titel Myth and Reality, the Karroo and the Camdeboo (Balkema, 1961), vertaal as So het hulle vertel!
Nou is die werklike De Vries 75, en is dit 55 jaar sedert sy eerste boek, Hoog teen die heuningkrans, opgevolg deur tientalle ander. En ook deur akademiese studies, polemieke oor landsake, dokumentêre rolprente, veldtogte vir die belange van medeskrywers en internasionale optredes.
Hy is steeds buitengewone hoogleraar by die Universiteit van Wes-Kaapland.
Die meestervertellers van die Klein- Karoo was inderdaad vir hom rigtingwysers, hoewel sy groot kundigheid oor literêre teorie steeds meespeel.
Uit die mond van een van hulle, sy groot vriend Izak Bruwer, kon ek self hoor van byvoorbeeld ’n liefdesdilemma waar die tweetjies se verhouding deur ouers van weerskante so ingeperk word dat hulle slegs in die naasliggende hoenderhokke kon ontmoet. Of van die dorpspan wat op pad terug van waar ook al steeds ’n laaste bier gaan drink het in Barrydale se hotel wat destyds aan twee susters behoort het. Die een het mos so ’n imponerende boesem gehad...
Dit is uiters gepas dat die KKNK vanjaar aan De Vries ’n Afrikaans Onbeperk-toekenning vir Lewensbydrae toeken. Dit is ook verblydend dat daarby na hom as “meesterkortverhaalskrywer” sowel as “kontreistorieverteller” verwys word. Die vernaamste rede waarom hy oor die jare so stief behandel is deur onder andere die toekenners van Akademie-pryse is waarskynlik dat die hoë letterhere en -dames daardeur verwar is dat hy twee oeuvres uitgebou het.
Allereers is daar die “ernstige” verhale, altyd nog die kern van sy werk, en waarvan verlede jaar ’n bloemlesing, Die behoue huis, verskyn het.
Daarteenoor staan die komiese kontreistories soos in Rooikoos Willemse is soek (2006), net mooi dit wat geleerdes afskrik. Wat die saak nog ingewikkelder maak, is dat De Vries soms glimlagstories as springplank gebruik na die groot temas van die wêreldletterkunde. Daarvan is die einste Rooi Koos, wie se bravade by dorpsrugby hom in ’n diepe eksistensiële krisis laat beland, ’n sprekende voorbeeld. Miskien is De Vries se grootste sonde juis dat hy “gevoelens verwar”.
Deurgaans het ’n mens by hom met ’n vakman te make op soek na nuwe maniere van vertel. Dit is daarom nie verbasend nie dat ’n jonger skrywer soos Etienne van Heerden juis De Vries se werk vir ’n doktorsgraad gekies het. Met sy studies oor die kortverhaal en die Groot Afrikaanse Kortverhaalboek het De Vries bowendien al ’n reusebydrae tot die Afrikaanse literatuurwetenskap gelewer.
Nog ’n sonde is hoeka dat hy by uitstek kortverhaalskrywer is. Dit is ’n genre wat by pryse ontereg gereeld laer as die roman aangeslaan word. De Vries se werk self laat al sien hoe ’n mistasting dit is. ’n Enkele bundel van hom, dikwels selfs ’n enkele verhaal, stel groter eise aan die leser en omvat meer as die meeste romans.
Daarom is die tyd ryp vir die instel van ’n jaarlikse Abraham H. de Vries-prys vir die Afrikaanse kortverhaal, by uitstek die genre vir die volgehoue verfyning van ons prosa. Intussen sal sy eie werk bly flonker vir wie dit ook al oopslaan lank-lank nadat berigte oor pryswenners vergeel het.
- Die Burger