Skrywer sterf twee maande voor debuut
2012-02-04 04:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Skaars twee maande voor sy langverwagte literêre debuut in boekvorm sou verskyn, is ’n Johannesburgse skrywer verlede naweek onverwags aan ’n hartaanval dood.
Jacques Pretorius (38) se So lig soos klip verskyn einde Maart en is ’n verhaal oor ’n jong polisieman. Dit word deur sy uitgewers, Tafelberg, as “uitdagend” en “uiters verontrustend” beskryf.
Pretorius, wat teologie en filosofie aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg) studeer het, het sy eie maatskappy gehad, maar die afgelope jaar meestal aan sy boek bestee. Sy vrou, Christelle Snyman, met wie hy in Oktober getroud is, sê: “Die boek was só ’n groot verwesenliking van Jacques se droom, en ek is só hartseer dat hy nie die volgende een sal klaarmaak nie. Ek sal alles in my vermoë doen om te help dat die boek ’n sukses is.”
Die verteller in So lig soos klip is ’n polisieman wat in die brandende townships van die jare tagtig diens doen. Dit is ’n lewe op die randjie van die afgrond, en daarom is sy eerste lewensbeginsel: Hou altyd die laaste patroon vir jouself. Dit is met sy opleiding in sy bewussyn ingestamp – Reël Nommer Een.
Met die polisie as surrogaatpa is hy ook ideaal toegerus vir die jagtog van sy lewe: Die soeke na die ideale vrou. Hierdie private jagtog van hom is net so meedoënloos soos die polisielewe.
Soos die openbare geweld in die townships toeneem, groei in hom ’n intieme geweld, net so donker... en net so vernietigend.
–