Skerp Isaacs skerts, woeker met talente
2011-06-18 00:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad - Shimmy Isaacs kan praat. Sy praat Kaapse Afrikaans, Worcester-Afrikaans, RSG-Afrikaans en sommer nog die Queen se Engels ook. Maar dis haar hande en haar lyf wat die meeste te sê het.
“Dis hoekom die Engelse, die Switsers, almal my verstaan. Ek raak seker so ’n bietjie van ’n karikatuur, maar dis die manier hoe ek myself die beste uitdruk.”
Sy is die enigste vrou in die gewilde Vodacom-komediereeks (Vodacom Funny Festival) in die Baxter.
“Dit het nog nie eintlik heeltemal ingesink dat ek op die verhoog is saam met al hierdie bekende mense nie. Die grootte van die komeet wat op my afgekom het, het my nog nie getref nie.
“My grappe en my stories is die manier waarop ek my liefde vir Suid-Afrika en my mense wys. Nee, wag, dit is eerder my plig, so amper of ek sendingwerk doen. Dis amper of ek op ’n geestelike journey is met wat ek doen.
“Ek wil hê ons moet trots wees op wat ons is. Ek celebrate my kultuur. Baie van my stories is kultuur-spesifiek en op die kleurlinggemeenskap gerig. maar dit sluit niemand uit nie.
“Maar ek is ook nou moeg van stukke oor tienerswangerskappe en tik. Ons is mos nou op ’n goeie plek. Ek wil suksesverhale vertel. My stories moet mense laat lag, maar ook laat dink.”
Sy vertel dat sy van kleintyd af “konsert hou”.
“Toe ek vyf jaar oud was, het my ma al gesê ek maak haar mal. Ek wou net perform.”
Dit het haar wel ’n tydjie geneem om regtig te begin perform. Sy het ’n honneursgraad aan Afda behaal en toe aan die Black Nexxus-teaterskool in New York studeer.
Hierna het sy klas gegee by Afda totdat sy in 2008 as vryskut begin werk het. Toe takel sy sommer al die genres en word skrywer, aktrise, komediant en vervaardiger.
“Ja, ek is eintlik baie smart.”
Dié stelling gaan met ’n borrellaggie en indrukwekkende handbewegings gepaard.
Die fotograaf begin haar foto’s neem en die kelner wil weet of Shimmy ’n model is. Nee, ’n aktrise. Dan wil hy weet hoekom hy haar nog nie op televisie gesien het nie. Toe hy hoor sy is eintlik op die verhoog, verklaar hy plegtig dat hy dalk nou liewer moet teater toe gaan as net om voor die televisie te sit. Dis duidelik die uitwerking wat hierdie energieke aktrise op mense het.
“Ek het baie energie. Ek is ’n baie intense mens. Gelukkig het ek die teater om van my energie ontslae te raak. Maar ek draf ook, klim berg...
“Partykeer wil ek darem so ’n bietjie wegbreek van al die malligheid. Ek is so op ’n high as ek van die verhoog af kom dat ek sommer deur die nag sal aanhou kuier. Ek absorbeer nog ander mense se energie rondom my ook. Nou probeer ek maar liewer stilraak, huis toe gaan om af te koel.”
Sy het lankal haar lewensfilosofie uitgewerk: Niks is vir ewig sleg nie; niks is te moeilik om te takel nie, moenie bang wees om ’n sprong te waag nie, sorg dat jy weet waar jou ankers (geloof en gesin) is – en les bes, doen wat jou hart vir sê.
Haar hart het haar pas na Amerika teruggestuur, waar sy ’n maand lank by Boston Glass in Philadelphia jeugwerk gedoen het. Sy het daar ook haar nuwe eenpersoonstuk geskryf.
Sy het reeds talle toekennings vir haar werk gewen, onder meer ’n Kanna op die KKNK vir Howzit my Bra. Sy het dit vir vroue met borskanker geskryf. In Augustus vanjaar gaan sy by die Kunstekaap se vroueweek optree. In September toer sy met Hoezit my Bra.
“Eendag wil ek nog ’n rolprent maak. Ek weet ek sal, want ek glo nie in bang wees of in mislukking nie.”
- Die Burger