Remix belig ragfyn skoonheid met hul produksie ‘Lovaffair’
2010-04-02 23:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dans
Lovaffair
Flipside by die Baxter
*****
Die baanbreker-dansgroep Remix vier hul tiende bestaansjaar en verras weer met ’n gekantelde vertolking teen ’n onverwagse invalshoek.
Hulle belig die ragfyn skoonheid van gebrokenheid en asimmetrie. Die produksie is moontlik gemaak deur ’n inspuiting van die filantropiese internasionale sakeman Roger Jungblut, uitvoerende hoof van die Youngblood Kultuurstigting.
Remix bestaan uit vyf permanente lede met verskillende vlakke van mobiliteit. Malcolm Black, wat aan Friedreich se koördinasiesteuring ly, beweeg sy bene deur hulle in die hand te neem en in die gewenste posisie te rangskik. Hy is die sexyste man op wiele. Hy versinnebeeld cool, hy lyk soos ’n grasieuse voëlverskrikker, soos iemand in die greep van die eerste, elegante fase van dronkenskap.
Hy praat soos ’n oorklanking wat nie mooi gelip-sinchroniseer is nie, in kontrapunt, met gedrae gravitas en terloopse poësie. Hy word opgehys, vlieg soos ’n engel en swaai gewigloos en eindelik regop hoog bo die verhoog.
Die ander lede is Lee-anne Meyer, Nadine Mckenzie, Andile Vellem en Marlin Zoutman. Vellem dans soos ’n derwisj en kommunikeer met verstommende welsprekendeheid in gebaretaal soos handballet. Zoutman beweeg lig soos ’n tolbos, soos ’n droom. Die dansers kombineer ballet, hip hop, improvisasie en vlieg.
Ina Wichterich-Mogane is die regisseur. Akteur en komponis Bongile Mantsai en vertolker Chuma Sopotela verleen ekstra dimensie. Hulle was altwee in die rolverdeling van die bekroonde Karoo Moose.
Die ruimte waarin die produksie afspeel, is magies: dit voel asof ’n mens soos Alice deur die spieël geklim het. Die gehoor sit agter die verhoog. Agter die dansers en akteurs staan die rye leë stoele van die Baxter-ouditorium wag.
Die produksie is ’n viering van lywe en liefde. Remix vermaak en voed op. Hulle maak opvattings oor geslag en gestremdheid op die kop staan. Hulle is vreesloos en in jou gesig. Hulle gryp die verbeelding aan.
Deborah Steinmair
Vandag om 14:00 en 20:00.
- Die Burger