Reaksie op skryfbeurs gaan oor persepsies van Rabie, Wallace en Brink
2009-12-10 04:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Zelda Jongbloed begin haar rubriek oor André P. Brink (“André P. Brink behoort sy prys terug te gee”, DB, 7 Desember) met die volgende woorde: “ek ken die skrywer André P. Brink nie, maar het respek vir hom en bewonder hom as skrywer”.
Wel ek gaan my stuk begin soos volg: Ek ken hom persoonlik en ek bewonder hom as skrywer, teoretikus, polemikus en veral as figuur wat deur die jare met onverdrote ywer teen ongeregtigheid / leuens / waansin standpunt ingeneem het.
Die impak van ’n werk soos Kennis van die Aand is waarskynlik nog nie geregistreer nie op die gemoed van ’n hele geslag wit, Afrikaanssprekende jong mense wat polities wakker geskud is.
Sy werk as teoretikus en vertaler verdien hoë lof, net soos sy reisbeskrywings. Nou onlangs het hy oor Algerië geskryf en met verbluffende insigte ’n wêreld voor die leser laat oopwaaier. Veral sy interpretasie van Camus was voortreflik, hoewel ek nie gehou het van sy snedige verwysings oor Sartre en De Beauvoir nie.
Die hewige reaksie oor die prys wat aan hom toegeken is, werk dus met die impak wat hierdie skrywer as ’n simboliese figuur deur die jare opgebou het.
Die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs is dan ’n ander simboliese lading. Hierdie twee figure het eweneens gestaan vir ’n opstand teen ongeregtigheid / apartheid / grypsugtigheid / die establishment.
Natuurlik sal Brink se beursaansoek skitterend wees. Die man was immers ’n professor; hy ken die teoretiese jargon en hy is ’n skerpsinnige leser. En natuurlik sou hy kom met ’n indrukwekkende aansoek oor ’n relevante roman vir die hier en nou oor dit wat agter ons lê.
Maar dit is nie die punt nie.
Dit gaan hier om persepsies, naamlik dit waarvoor Brink staan en dit waarvoor Rabie / Wallace staan. (Gaan lees maar Jacques Lacan om dit alles te begryp.)
Natuurlik staan dit nêrens dat die prys aan ’n bruin skrywer toegeken moes word nie. Ek het weer die reglement sorgvuldig gelees en een sinnetjie het my wel opgeval: “vry van die bekommernisse om ’n inkomste te genereer”.
En ek dink dit is hierdie sinnetjie – in die mond van Steward van Wyk in ’n onderhoud op LitNet – wat die gemoedere hoog laat loop.
’n Jong, nie-gevestigde skrywer is waarskynlik nie in die posisie waarin ’n afgetrede en gevestigde skrywer met internasionale aansien is nie. Trouens, ek was van die begin af die mening toegedaan dat die beurs opgedeel moes word sodat ’n Ronelda S. Kamfer en ’n Danie Marais hiervoor in aanmerking sou kon kom. Of ’n Willem Fransman en ’n Tom Dreyer.
As oor hierdie simboliese kwessies vooraf duideliker besin was, had ons nie nou ’n geval van “drie kaalkoppe eet tesame” nie.
Hierdie is maar net Johanna se storie om met Rabie saam te praat.
Ek het nie aansoek gedoen nie, ek gun elke diertjie syn plesiertjie.
Maar dit is jammer dat die prys nou vir Brink bederf is én dat die prys wat bedoel is om skryfkuns te bevorder, nou só beklodder word.
Het ’n gevestigde skrywer, vra ek myself af, áánmoediging nodig?
Natuurlik behoort die meriete van die aansoek ’n belangrike rol te speel, maar dit is ’n ongelukkige voorval as die ander implikasies nie deeglik beskou is nie.
Sou ’n jong André P. Brink vrede gehad het as W.E.G. Louw so ’n beurs bo ’n Sestiger verower het?
Hy sou beslis sout en peper gestrooi het..
Joan Hambidge is professor in die Afrikaanse letterkunde en skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.
- Die Burger