Nuwe musiekspel huldig SA ikoon
2009-09-08 23:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Nelson Mandela se lewe word gehuldig in ’n nuwe musiekspel wat in Oktober in die gesogte Koninklijk Theater Carré in Amsterdam geopen word – met nege musikante van Khayelitsha wat daarin gaan optree.
Die musiekspel Amandla! Mandela se wêreldpremière is op 24 Oktober en die speelvak duur tot 8 November, waarna ’n internasionale toer van die produksie vir nog sewe maande onderneem word.
Luidens ’n persverklaring is dit ’n produksie van die Nederlandse teatervervaardigers Bos Theater, en betrek dit Suid-Afrikaanse en Nederlandse akteurs, musikante, dramaturge en vervaardigers.
Die nege musikante is lede van Khayelitsha United Mambazo, ’n Afrika-manssanggroep wat in die V&A Waterfront sing om hul brood en botter te verdien. Hulle is tans in Amsterdam vir repetisies.
Amandla! Mandela vertel in Nederlands die verhaal van Mandela se lewe en hoe hy die wêreld verander het. Dit bestaan uit “feestelike Suid-Afrikaanse musiek en dans, en handel oor hoe een man die inspirasie is vir miljoene mense geword het”, aldus die Carré se webblad.
Die verhaal begin met Mandela as ’n jong seun onder die invloed van Xhosa-stamhoofde, daarna sy 27 jaar op Robbeneiland tot waar hy as die eerste swart president van Suid-Afrika ingehuldig is. “Die musiekspel vier sy ideale met musiek en sang uit die land waarvoor hy alles gegee het,” luidens die publisiteitsmateriaal.
Altesame 30 kunstenaars sal op die verhoog optree. Koen van Dijk is die regisseur.
Khayelitsha United Mambazo het in 2006 op die Darlingse Voorkamerfees opgetree toe Wim Visser, kreatiewe direkteur van die Carré, en Inge Bos van Bos Theater hulle hoor sing het.
Die twee Nederlanders het daarna die koor besoek en saam met hulle gewerk, en was beïndruk met die sangers se “musikale vermoëns, verhoogpersoonlikhede en uitsonderlike Suid-Afrikaanse sjarme”.
In middel-2008 is die groep deur Bos Theater genooi om met die oog op die musiekspel ’n oudisie te doen. Hule moes improvisasies doen, ’n melodie komponeer met bestaande lirieke, en moes toneelspeel. Die oudisies het ’n halwe dag geduur.
Khayelitsha United Mambazo is in 1991 op die been gebring om spesifiek Afrika-manskoormusiek, of “Isicathamiya”, uit te voer. Hulle sing sedertdien by die Waterfront, waar hulle hul CD’s aan toeriste probeer verkoop.
“Die lede woon almal in die informele woonbuurt Indlovini in Khayelitsha, en hul salaris vir hul oorsese optredes sal hul in staat stel om vir hulle huise te koop,” lui die persverklaring.
Khayelitsha United Mambazo is ook sedert 2006 betrokke by die Ubuntu Bamadoda-program van die gemeenskapsontwikkelingstigting Olive Leaf.
Die sangers tree deur hul musiek as mentors op vir jong seuns van die gemeenskap.
Luidens die persverklaring kan hierdie geleentheid ’n internasionale loopbaan vir Khayelitsha United Mambazo beteken.
- Die Burger