Naledi-wenner na Kaap
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Mike van Graan se toneelstuk Brothers in Blood word eersdaags in die Kunstekaap-arena opgevoer. Hierdie stuk het in 2009 die Naledi-prys vir die beste nuwe plaaslike toneelstuk en vir beligting ontvang nadat dit in die Markteater in Johannesburg opgevoer is.
Die stuk speel af in die negentigerjare. Dit is die tyd van People against Gangsterism and Drugs (Pagad), toe pypbomme ontplof het en moord op dwelmbase aan die orde van die dag was. Universele temas soos vreemdelingehaat word ondersoek, en daar word gekyk na hoe onkunde oor ander se agtergrond en vooropgestelde idees oor ander se kultuur wanopvattings in die hand werk.
Volgens Van Graan het nog niks van die essensie van die inhoud verlore geraak nie. Hy het wel geringe veranderinge in die teks aangebring.
“ ’n Mens leer uit nabetragting,” meen hy. “Nadat ek die stuk ’n paar keer gesien het, het ek gesien waar verbeteringe aangebring kon word.”
Die verhaal handel oor vyf mense wat elkeen diegene naaste aan hulle wil beskerm en verdedig. Daar is ’n skoolhoof van Athlone, Abubaker Abrahams (weer vertolk deur David Dennis), en sy dogter, Leila. Daar is Brian Cohen, ’n dokter wat op die Kaapse Vlakte werk, Fadiel Suleiman, ’n vlugteling uit Somalië, en Lionel Fredericks, ’n lekeprediker wat in ’n arm gemeenskap werk.
Afgesien van Dennis is die rolverdeling nuut. Oudisies is reeds gehou en die akteurs se name sal later aangekondig word. Omstandighede bring hierdie karakters in ’n intense drama saam.
“Alles speel af teen die agtergrond van verskillende godsdienste. Dit is wel ’n riskante tema, maar ek glo daaraan dat kontensieuse sake op die verhoog aandag moet kry,” het hy gesê. “Ek takel reeds sedert 1994 moeilike sake. My werk sal altyd konfronterend wees.”
Van Graan is tans die inwonende dramaturg van die Kunstekaap. Een van sy stukke sal jaarliks hier opgevoer word. Nog een van sy stukke, Green Man Flashing, sal ook later vanjaar te sien wees.
- Brothers in Blood word van 27 Maart tot 14 April in die Kunstekaap-arena opgevoer. Bespreek by Computicket.
- Die Burger