Marais wen Ingrid Jonker-prys
2009-10-21 23:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Die digter Loftus Marais is pas met die Ingrid Jonker-prys bekroon vir sy debuutwerk Staan in die Algemeen Nader aan Vensters van 2008.
Hy ontvang R3 000.
Marais het onlangs die Universiteit van Johannesburg-debuutprys ontvang en tevore die Eugène Marais-prys, wat hy met Ronelda S. Kamfer vir haar debuutbundel Noudat Slapende Honde deel.
Verlede jaar was die wenner Megan Hall met Fourth Child.
Marais het in reaksie op die prys gesê: “Toe ek my UJ-prys twee weke gelede ontvang het, het daar op die gedrukte programmetjie gestaan: ‘Oorhandiging van UJ-debuutprys: Marthinus Beukes. Antwoord: Loftus Marais’. Dit was nogal vir my mooi, om die speech ’n antwoord te noem, want dit maak dan van die prys ’n vraag. En ek dink ’n debuutprys is veral ’n vraag. Dalk: ‘So, boetie, en wat gaan jy nóú maak?’
“Meer as enigiets ervaar ek pryse, en veral die Ingrid Jonkerprys, as ’n aanmoediging, as amper ’n belofte oor toekomstige werk wat ander mense namens jou maak. En wat jy seker sal moet nakom. Maar die Ingrid Jonker-prys is ook anders as ander pryse – dit is ander digters wat dit vir jou gee. Dit beteken natuurlik baie dáárom.
“En dis ook die ene waaroor ’n mens fantaseer vanaf jou eerstejaar- kreatieweskryfwerkkursus. Dis die ene met die naam, met al daai romantiese assosiasies wat mens, try as you might, nie kan afskud nie.”
Die komitee het in ’n persverklaring op www.book.co.za Marais se bundel, uitgegee deur Tafelberg-uitgewers, aangeprys vir die gesofistikeerdheid en vernuf daarvan, asook vir “die ironie wat terselfdertyd ontdaan is van sarkasme”.
Luidens die persverklaring van die Ingrid Jonker-trust het een beoordelaar die spreker as ’n “geïnspireerde flâneur” gesien wat aan ’n veronderstelde gespreksgenoot die absurde in die alledaagse uitwys. Dieselfde beoordelaar bestempel ook hierdie poësie as sterk intellektueel en vormvas, en as “heilige spot”.
Nietemin, soos ’n ander beoordelaar dit stel, is dit ’n bundel wat tot Jan Alleman uitreik vanweë die leesbaarheid van die gedigte. Die bundel word ook aangeprys vir die vernuwing wat dit in die Afrikaanse digkuns bring, luidens die persverklaring.
Die beoordelaars het ook daarop gewys hoe moeilik dit was om ’n wenner te kies, en beskou Kamfer se Noudat Slapende Honde (Kwela, 2008) as ’n baie sterk naaswenner.
Haar poësie, sê een van die beoordelaars, word gekenmerk deur belydenis, maar dan ’n belyding wat ’n gat deur die bladsy brand.
Nog ’n beoordelaar stel dit so: “ ’n Totaal onderbeligte deel van die Afrikaanse taaldemografie praat deur haar in ’n besondere sterk stem op ’n manier soos nog nooit tevore nie.”
Die Ingrid Jonker-prys word elke jaar aan ’n debuutbundel toegeken, om die beurt vir poësie in Afrikaans en Engels. Die prys sal op 28 November op die jaarlikse Versindaba op Stellenbosch aan Marais oorhandig word.
Die beoordelaars was Trienke Laurie, Petra Müller en Charl-Pierre Naudé.
- Die Burger