Mandela se boek skou-treffer
2009-10-24 03:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die jaarlikse Frankfurtse Boekeskou bly ’n oorrompelende ervaring.
Dis nou te sê as jy hoegenaamd die voordeur haal. Organiseerders het hulself vanjaar uit alle oorde fel kritiek op die hals gehaal met hul uitnodigingspolitiek.
Kort voor die aanvang van die skou word twee kritiese skrywers se uitnoding na ’n simposium teruggetrek nadat China, vanjaar se eregas, stem dikmaak.
Die simposium het gehandel oor die Volksrepubliek se rol in die wêreld. Toe bewys hy dit sommer self. Armdrukker. Ná ’n paar ongemaklike amptelike kuggies van die Duitsers het die stilswye maar voortgeduur en is die problematiek van China se eregasstatus in koffiehoekies, feeskoerante, die enkele ou man met sy plakkaatjie en media-gespreksforums van die openbare TV-sender bespreek.
China se “optrede” by die boekeskou self is baie raak beskryf as ’n “(tweede) kulturele Olimpiese Spele” (Die Zeit). Oral kon jy sien: Ons is groot en ons is goed.
Reuse-installasies oor sy eeu oue druk-en-boekkultuur wat natuurlik van onskatbare waarde is; indrukwekkende statistieke oor boekoplae en verspreidings (275 668 verskillende boeke in die laaste jaar); tradisionele draakdanse en lewensgroot monnikbeelde wat toekyk.
Iets wat oningelyfde, naïewe boekeliefhebbers gewoonlik ontnugter, is presies hóé hard geld in die boekewêreld praat, veral in die stegies tussen groot uitgewershuise se uitstalruimtes. “Do we get three books for €17 mate?”of “We can do it cheap-cheap” of “Yah, well okay, fine, we’ll just leave out the sex ’cause I know you don’t want any sex, then we can sell” of “I can make it happen in three days”.
Kan jy doof bly vir die geraas, tref jou oog interessanthede soos die Demotix-agentskap wat met sukses ’n soort burgerlike fotografiese agentskap bedryf. Van sy bekendste beelde sluit in indrukke van gewone burgers gewapen met selfone oor die Irannese verkiesing toe die internasionale media toegang geweier is.
Dis waarskynlik die groot nuwigheid aan vanjaar se boekeskou – dat ander media soos rolprente, die digitale media en illustrasieforums ’n ruimte in die kreatiewe gesprek gevind het, ongelukkig wat film betref nog beperk tot die gasheerland en sy eregas.
Die belang van vertalers in die generering van nuwe boekmarkte en die ontsluiting van kulture is ook in die kollig geplaas. ’n Gruwelike veralgemening, maar weg van die lawaaierige handelsale vir die VSA en Brittanje, was die opwindendste plek vir ’n boekeliefhebber die saal vir: die res.
’n Projek wat hier baie aandag geniet het, is die Verenigde Arabiese Emirate se Kalima-projek wat vertalings van boeke in Arabies soos Stephen Hawkings se A Brief History of Time en Haruki Murakami se metafisiese novelle, Kafka on the Shore, gefinansier het. Dít het ’n interessante gesprek aan die gang gesit oor manipulasie en die selektiewe ontsluiting van kulture.
Die groter kompetisie wat die opkoms van “nuwe markte” soos China veroorsaak, gaan, so hoop Thomas Möhlmann van die Nederlandse Vertalingsfonds, hopelik deur die spesiale verhouding tussen Afrikaans en Neder- lands beredder word en nie die vertaling van werke uit Nederlands te veel striem nie.
Ondersteun deur dié fonds en die Vlaamse Literêre Fonds het heelwat vertaalde titels die laaste paar jaar in Suid-Afrika verskyn.
Dink maar aan Die Agterhuis van Anne Frank (’n vertaling deur Lina Spies), Bandelose Gedigte van Luuk Gruwez (vertaal deur H.P. van Coller), Die Lenige Liefde van Herman de Coninck (vertaal deur Daniel Hugo) en waarskynlik is ’n vertaling van Pieter Aspe se Het Vierkant van de Wraak op pad.
Die Duitsers het gejubel oor die Romeens-Duitse Nobelpryswenner Herta Müller, maar die boek wat die hardste op die fees gepraat het, was oudpresident Nelson Mandela se dagboek, Conversations with Myself. Die publikasieregte het ’n bie-oorlog op die fees veroorsaak en is deur The Bookseller Dailyat Frankfurt as “the hottest book” op die skou bestempel.
- Die Burger