Liefdesdrama bly aangrypend
2012-01-27 21:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die teaterstuk Statements after an Arrestunder the Immorality Act was die dramaturg Athol Fugard se deurdagte en doelbewuste reaksie op foto’s wat in die laat jare sestig in die destydse Oosterlig gepubliseer is.
Dit was foto’s van twee angsbevange mense - ’n bruin man en ’n wit vrou - wat vervaard rondkruip in ’n half-donker vertrek in ’n kleindorpse biblioteek, op soek na die onmoontlike: wegkruipplek nadat hulle nakend saam betrap is. Dít natuurlik ’n oortreding van die berugte Ontugwet.
“Ek was só onthuts,” vertel Fugard. “Dit was ’n kragtige beeld van wat daardie samelewing aan ons gedoen het, hoe dit op ons ingewerk en wat dit aan ons siel gedoen het.”
Met onder andere Fugard en Yvonne Bryceland in die rolverdeling word dié drama die eerste keer in 1972 opgevoer vir die opening van die Ruimte-teater in Kaapstad, ’n plek wat Fugard noem “daardie ongelooflike teateravontuur wat die grondslag van so baie dinge was”.
Is dié drama egter nou, 40 jaar later, nog relevant? Fugard het homself dieselfde vraag afgevra toe hy deur die regisseur Kim Kerfoot genader is.
“Ek het gewonder waarom jy dié ou ding ophaal. Jy weet hoeveel dit vir my persoonlik beteken, maar ek kon nie help om te wonder wat dit vandag vir ’n gehoor sal beteken nie. Maar julle (die gehoor) het dit aangegryp en daarna geluister.
“Die reaksie op ’n toneelstuk is baie persoonlik, want die teater is eintlik ’n subtiele verhouding tussen vreemdelinge en jy moet aan daardie verhouding bou tot jy by daardie één magiese oomblik (van meelewing) uitkom.”
Die meelewing eergisteraand was tasbaar. Daar was omtrent nie ’n droë oog nie, en die drietal akteurs is lank en luid staande toegejuig.
Die drama verteenwoordig nie net Fugard aan die toppunt van sy skeppende vermoëns nie, maar hierdie spesifieke produksie is ’n sonderlinge teatervaring waar alles – regie, spel, teks en ontwerp – as’t ware in ’n volmaakte geheel saamspan.
Hoewel Malefane Mosuhli (Meester Errol Philander) en Jeroen Kranenburg (Speursersant Du Preez) albei spel van hoogstaande gehalte lewer, moet Bo Petersen (Frieda Joubert) uitgesonder word. Haar oë en hande gee Fugard se woorde vleuels.
Sy skitter veral in die toneel waar sy haar nakende lyf onbewoë van kop tot tone beskou, terwyl haar silhoeët bokant haar minnaar uittroon danksy Guy de Lancey se vindingryke beligting. Mosuhli se slotmonoloog ruk jou hart aan flarde en toon waarom Fugard die grootste lewende dramaturg van die 20ste eeu genoem word.
Statements after an Arrest under the Immorality Act gaan nie net oor ’n verfoeilike politieke stelsel nie, maar is ook die lykskouing van ’n intieme verhouding.
Bowenal wys dit hoe die mens sonder liefde gans verlore is.
- Die Burger