Karakters dryf hierdie hardgebakte verhale
2011-11-03 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Elmore Leonard is ’n cool ou dude wat oor ander cool dudes skryf; ’n alumnus van dié pulpskool wat luisterryke voorgangers soos Lester Dent, Dashiell Hammett en Raymond Chandler opgelewer het – behalwe dat Leonard sy skryftande op Westerns geslyp het. Hombre, Valdez is Coming en Three-Ten to Yuma is steeds klassieke Wilde Weste-vertellings, en wie hou nie van ’n goeie skiet-skop-en-donder nie?
Met sy skuif na hardgebakte misdaad het Leonard die beproefde spelreëls vir die genre uitgedaag en die moderne misdaadroman geskep, met ’n styl wat gekenmerk word deur, wel, die gebrek aan styl, sonder enige narratiewe inmenging deur die skrywer. (Die absolute teenpool van byvoorbeeld Hunter S. Thompson se gonzo-skryfwerk, waarin die skrywer ’n sentrale deel van die storie is.)
Met Leonard as “onsigbare” skrywer is sy karakters dus aan hulself uitgelewer – en die leser aan die karakters. Ons sien elke toneel deur hul oë, leer hulle ken veral deur hoe hulle práát, en ter wille van ritme en vloei- ende dialoog huiwer hy nie om taalreëls te oortree nie. Omdat karakters (in plaas van tema of intrige) sy boeke dryf, stel hy hoë eise aan hulle. Slaag een teen bl. 100 nog nie die dialoog-oudisie nie, is sy nut in die verloop van die verhaal uitgedien. Dan het sy skepper min genade en kry hy ’n koeël in die kop, verkieslik ’n skoot bokhael.
“This guy’s not the main character, he’s running out of gas; I don’t even like him anymore, his attitude; he’s changed,” sê Leonard in ’n onderhoud hieroor.
Dié wat slaag, word onvergeetlik (Jack Foley, Raylan Givens, Karen Sisco, Chili Palmer) – almal met geraamtes in die kas, want dié soort is interessanter, prettiger, as vervelige, vrome ou seders. Maar sy geknakte riete is, volgens die skrywer, nie geharde misdadigers nie, meestal ’n “gewone” ou wat opstaan, koffie drink, hom kwel oor al sy skuld, wonder of hy sy ma moet bel – en dan besluit om ’n bank te beroof. Want dis soos hy is. En alles gebeur met ’n goeie skeut humor– uit die hoek van die mond, geen oogknip na die leser wat sê oukei, nou’s dit tyd om jou te verkneukel nie.
In afwagting op Raylan (sy 45ste roman), wat in Februarie op die rakke sal wees, is Leonard een van daardie skrywers wat my nog lank gaan verplaas na wat Saul Bellow die quiet zone noem, wanneer jy ’n goeie boek geniet, gestroop van pretensies.
- Die Burger