Kaptein Hamerkophaai se hulpbronpakket
2010-05-12 12:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
HULPBRONPAKKET:
Kaptein Hamerkophaai
Kaptein Hamerkophaai
Deur Fanie Viljoen
HOE OM DIE HULPBRONPAKKET TE GEBRUIK
Hierdie gids bied jou hoofstuk-vir-hoofstuk lesplanne en aktiwiteite om jou leerders met die lees van elke storie te verryk. Die lesidees is geskik vir leerders in die Intermediêre fase, maar kan maklik vir graad 7-leerders aangepas word.
Jy sal by elke hoofstuk (a) vooraf-vrae vind, (b) ‘n woordeskatlys, (c) begripsvrae (met antwoorde tussen hakies), (d) ‘n skryfprikkel, (e) ‘n koerantaktiwiteit om die koerant in jou leereenheid te benut en (f) ‘n daaglikse redigering- of taaloefening wat jou voorsien van ‘n paragraaf uit die storie wat jou leerders moet regstel.
Die leerders kan dan hul werk vergelyk met die gepubliseerde storie om te sien of hulle alle foute uitgeskakel het. Die vrae en take is so opgestel dat die leerders dit kan gebruik presies soos wat dit daar staan.
Opvoeders kan die aktiwiteite aanpas sodat dit op die gewenste vlak vir die klas is.
Onthou om weekliks die voorlesing (mp3-formaat) van elke hoofstuk by www.dieburger.com af te laai!
Hoofstuk 1
Opsomming
Devon Hendriks is ‘n skaam en stil, Graad 7-seun. Hy word deur ‘n rooikopmeisie, Zelda, geboelie. Sy dwing hom om die domste vraag vir hulle kwaai juffrou, Juffrou Willemse, te vra. Hy is so bang vir Zelda dat hy al sy moed bymekaar skraap en vir Juffrou Willemse die domste vraag vra. Het Devon hom verbeel of het hy iets wat lyk soos deel van ’n seerowerhoed by die venster gesien?
A) Maak gereed om te lees/voorspel
Verduidelik wat boelies is.
Is dit net seuns wat boelies is, of sal dogters ook iemand boelie?
Hoekom raak kinders boelies?
B) Woordeskat of frases/ Woordeboek
Laat die leerders elke woord of frase in die hoofstuk opsoek en in sy konteks definieer. Hulle behoort alle onbekende woorde in ‘n woordeboek na te slaan en in ‘n sin te gebruik.
sweet
miswurm
sit ekstra krag in sy treë
spyt
vrot
durf
waag
kners
detensie
frommel
briesend
C) Begrip
1. Dink jy Devon is sportief en fiks? Verduidelik jou antwoord. (Nee, sy bene is lam en hy kan nie een keer om die atletiekbaan hardloop nie.)
2. Waarop sinspeel die skrywer as hy Zelda as Godzelda aanspreek? (Die film Godzilla.)
3. Aan die hand van watter frase kan ons aflei dat Zelda se asem nie lekker ruik nie? (Haar vrot vistoebroodjie-asem.)
4. Dink jy al die leerders is bang vir juffrou Willemse? (Ja, almal luister wanneer sy sê: “Een piep uit julle en die hele klas sit vanmiddag detensie.”)
5. Hoe weet jy dat Devon nie graag vir die juffrou ‘n dom vraag wou vra nie? (Devon wens ’n olifant wil liewer bo-op hom val. Hy sluk beangs.)
6. Dink jy daar is iets soos “’n dom vraag”? Gee ‘n rede vir jou antwoord. (Oop antwoord. Leerders moet hulle standpunt net goed motiveer.)
D) Koerantaktiwiteit
1) Zelda boelie vir almal en kry net wat sy wil hê deur mense seer te maak. Laat die leerders deur die koerant blaai en artikels soek van mense wat onregverdig optree teenoor ander of ander mense/diere sleg behandel.
2) Daar kom baie keer idiomatiese taal in die koerant voor. Laat leerders deur die koerant van die dag blaai en al die idiome of idiomatiese taal uitknip en op ‘n bladsy plak.
E) Skryfprikkel
1. Het jy al ooit ‘n belofte gemaak wat jy wens jy nie gemaak het nie of wat jou in die moeilikheid kon bring?
2. Watter dom vraag het jy al vir iemand gevra of gehoor iemand vra?
F) Daaglikse redigering/Taal
Wat beteken die volgende frases/idiome. Bespreek dit in die klas en laat die leerders voorbeelde gee van hoe hulle die frases sal gebruik.
Juffrou Willemse kners op haar tande. – Dit beteken dat sy baie kwaad is.
Wat beteken die volgende idiome?
1.…maar eintlik het sy hom vir ‘n groter wolf gegooi.
2. Die appel van die ver van die boom nie.
3. Geld groei nie op my rug nie.
4. Hulle is voëls van eenderse vere.
5. Moenie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie.
Hoofstuk 2
Opsomming
Kaptein Hamerkophaai daag by Devon-hulle se klaskamer op en almal soek skuilplek. Kaptein Hamerkophaai soek egter vir Devon en red hom van ‘n vuishou van Zelda. Kaptein Hamerkophaai kondig aan dat hy deel gaan raak van hulle klas.
A) Maak gereed om te lees/voorspel
1)Wie is jou gunsteling kaptein van ‘n sportspan? Verduidelik watter take (jy dink) ‘n kaptein het.
2)Watter take sal ‘n kaptein van ‘n boot (seerowers) moet uitvoer?
B) Woordeskat of frases/ Woordeboek
Laat die leerders elke woord of frase in die hoofstuk opsoek en in sy konteks definieer. Hulle behoort alle onbekende woorde in ‘n woordeboek na te slaan en in ‘n sin te gebruik
staan versteen.
stotter
bewend
krakend
skuiling
slobberige
skrikwekkend
marionet
priemende
slinger
knersende tande
gebalde vuiste
kriewelende lyf
oorhandig dit plegtig
skeepsvaarder
C) Begrip
1. Watter woord sê dat Juf. Willemse bang is? (Sy staan versteen. Sy sê benoud.)
2. Kaptein Hamerkophaai stel homself voor as: Kaptein Bartholomeus Dias Dinges en Ietsie Hamerkophaai. Seerower, sakkeroller, stranddief, vrybuiter, bedrieër en plunderaar van formaat. Arrr!” Dink jy die kaptein is baie intelligent? Nee, hy onthou nie sy volle naam nie.
3. Wat beteken: “wee jou gebeente as ….” Moenie dit weer probeer nie.
D) Koerantaktiwiteit
1. Hoe dink jy sal die voorblad van Die SeeBurger lyk? Blaai deur verskillende uitgawes van Die Burger om ‘n idee te kry van wat alles op so ‘n voorblad moet wees. Ontwerp nou jou eie voorblad van Die SeeBurger.
2. Kaptein Hamerkophaai dink almal ken hom, want hy was al op die voorblad van die “Die SeeBurger”. Was daar al ‘n artikel oor jou of jou skool in die plaaslike koerant? Vertel vir ons van die artikel.
E) Skryfprikkel
1. Het jy al ooit vir ‘n vriend of jou broer of suster opgekom of het iemand dalk vir jou gehelp toe jy geboelie is? Skryf ‘n kort paragraaf van jou noue ontkoming en wie jou gered het of vir wie jy gered het.
2. Hoe dink jy lyk Kaptein Hamerkophaai? Lyk hy soos die illustreerder hom voorgestel het? Skryf ‘n brief aan die illustreerder en vertel vir hom waarvan jy in die tekening hou of wat jy sou verander het. Jy moet jou eie tekening van kaptein Hamerkophaai ook insluit.
F) Daaglikse redigering/Taal
Lees die volgende paragraaf twee keer deur en vul die ontbrekende woorde in.
Devon se hemp skeur net voor hy kaptein Hamerkophaai se (1) _________ wil volg. Hy trek deur die lug en beland reg bo-op Zelda se “Slange van Suid-Afrika”-projek. Die een waaraan sy al twee weke lank (2) ____________. Devon vergeet skielik van naar word, want dit voel of een van die kamtige dooie slange weer (3)__________ kry en nou teen sy rug opseil.
Hy tuimel van die projek af en gryp na sy rug. Zelda is skielik by hom met knersende tande en ’n (4) ____________ vuis. Sy mik en slaan! Maar ’n hand skiet voor haar in, vinnig soos ’n weerligstraal, en (5) __________ haar vuis vas.
“Dis nie hoe mens ’n slang vang nie!” (6) ____________ kaptein Hamerkophaai. “Laat ek jou wys hoe!” Sy haakhand skiet agter by Devon se geskeurde hemp in. Soos blits pluk hy die (7)___________ uit. Die slang se kriewelende lyf vou oor die ysterhaak. Sy rooi tongetjie flits. En, tjoef-tjaf, knoop kaptein Hamerkophaai die slang se (8)____________ dat hy soos ’n ballonbootjie lyk. “Vir jou,” sê hy, en oorhandig dit plegtig aan (9) __________. En in haar oor fluister hy: “Wee jou gebeente as jy my skeepsmaat weer probeer toetakel! Ek sal jou (10) ________________ soos hierdie slangetjie, reg so?”
Hoofstuk 3
Opsomming
Kaptein Hamerkophaai volg Devon na skool terug huis toe. Daar soek hy iets om te eet en help homself met die visse in die vistenk. Kaptein Hamerkophaai prakseer vir hom ‘n hangmat om in te slaap en maak homself tuis in Devon se kamer. Devon is baie bekommerd oor wat sy ouers van dié vreemde klasmaat gaan dink.
A) Maak gereed om te lees/voorspel
Wat sal jou ma doen as jy jou vuil hande of mond aan haar afdroogdoeke of tafeldoek afvee?
B) Woordeskat of frases/ Woordeboek
Laat die leerders elke woord of frase in die hoofstuk opsoek en in sy konteks definieer. Hulle behoort alle onbekende woorde in ‘n woordeboek na te slaan en in ‘n sin te gebruik
gevaarte
plons
smakkende lippe
bevrore
Eskimo
oseaan
vergesel
bestrom
droewige
prakseer
toevallig
bebaarde
C) Begrip
1 Sal die visse in die Arktiese see regtig gevries wees? (Nee.)
2. Hoe voel iemand as sy onderlip bewe? (Bang.)
3. Wie het so lekker gesnork toe Devon se ouers huis toe kom? (Kaptein Hamerkophaai.)
4. Waarvan het kaptein Hamerkophaai sy hangmat gemaak? (Die gordyn)
5. Wat dink kaptein Hamerkophaai is bloed in ‘n bottel? (Tamatiesous.)
D) Koerantaktiwiteit
1. Blaai deur die koerant en soek ‘n artikel wat handel oor kinder- of dieremishandeling.
2. Soek enige koerantopskrifte wat idiome bevat.
E) Skryfprikkel
Devon moes iets vir kaptein Hamerkophaai te ete gee.
Wat is jou gunsteling gereg/ete? Skryf die resep neer van jou gunsteling gereg en hoekom jy daarvan hou.
F) Daaglikse Redigering/Taal
Voeg die korrekte leestekens in die volgende paragraaf.
Devon krimp inmekaar. Sy ma-hulle is netnou terug. Hoe gaan hy verduidelik die seerower het hom van die skool af agtervolg
Het julle nie iets visserigs nie
Devon kyk na sy pa se vistenk. Fout!
Eerstegraats! brul kaptein Hamerkophaai.
Nee! skree Devon, maar dis te laat. kaptein Hamerkophaai se vuis plons in die water in
Hoofstuk 4
Opsomming
Kaptein Hamerkophaai sit trots in die klas met sy projek oor die sonnestelsel wat Devon vir hom gemaak het. Hy het ‘n ongelukkie gehad toe hy van die planete wou verander het, maar soos hy sê: “Ongelukkies gebeur”. Kaptein Hamerkophaai moet sy eerste toets skryf en weet nie wat om te doen nie. Daarom kyk hy by Devon af en Devon moet detensie sit omdat Juf. Willemse dink hy het afgekyk.
A) Maak gereed om te lees/voorspel
Watter sekuriteit het julle in en om die huis?
Watter ongelukkie het al met jou gebeur wat jy aan mense moes verduidelik het?
B) Woordeskat of frases/ Woordeboek
Laat die leerders elke woord of frase in die hoofstuk opsoek en in sy konteks definieer. Hulle behoort alle onbekende woorde in ‘n woordeboek na te slaan en in ‘n sin te gebruik
bewende vingers
opleiding
inbrekers
sonnestelsel
onverklaarbare
projek
frommel
sappige
sneuwel
senuagtig
humeur
vroetel
C) Begrip
1. Dis alles hierdie onbeskofte seerower se skuld. Is kaptein Hamerkophaai onbeskof? (Nee, hy weet net nie wat om te doen nie en is daaraan gewoond om dinge anders te doen.)
2. Wat noem kaptein Hamerkop vir Juf. Willemse? (Juf. Wurms)
3. Wat het kaptein Hamerkop met sy skoolprojek gedoen? (Hy het Saturnus probeer vervang met oorwas en toe twee ander planete ook beskadig.)
4. Dink jy Devon sou by kaptein Hamerkop afkyk om van die toets antwoorde te kry. (Nee, hy weet niks nie en Devon is ‘n baie gedissiplineerde persoon.)
5. Watter straf ontvang Devon? (Hy moet detensie sit.)
D) Koerantaktiwiteit
Soek in die Netads (of in Die Burger) advertensies van ekstra hulp/klasse wat aan kinders met hul skoolwerk, gebied word. Dit kan remediërende klasse wees of persone wat tutors sal wees vir kinders (of ekstra lesse) in sekere vakke.
E) Skryfprikkel
Skielik is daar ’n groot gesig met ’n stokkiesbaard en ’n vieslike visasem hier reg langs hom. ’n Bolronde oog loer na sy toetsantwoorde.
1. Teken vir kaptein Hamerkop wat oor Devon se skouer loer om die antwoorde te sien.
2. Skryf ‘n paragraaf om kaptein Hamerkophaai se persoonlikheid te beskryf.
F) Daaglikse redigering/Taal
Die volgende sinne is nie in die regte sinskonstruksie nie. Lees dit deur en skryf dit dan in die regte sinskonstruksie.
1. skielik, Juffrou, haar, humeur, Willemse, verloor
2. wys, hom, Devon, moet, hy, omdraai, vir, dit
3. vragies, beantwoord, jy, moet, dis, paar, wat, ‘n, vir, my
4. klink, wat, nee, tyd, dit, na mors
5. deur, hulle, dik, staan, en, duk, saam
Hoofstuk 5
Opsomming
Kaptein Hamerkophaai red Devon uit detensie en sien die seuns rugby speel. Hy wil saam speel en hardloop op die rugbyveld. Devon probeer keer, maar kaptein Hamerkophaai gooi Devon oor sy skouer en daar hardloop hulle met die bal oor die rugbyveld.
A) Maak gereed om te lees/voorspel
Wat gebeur tydens detensie? Watter straf sal jy kry as jy wegloop of nie opdaag nie?
Dink jy kaptein Hamerkophaai weet baie van sport?
B) Woordeskat of frases/ Woordeboek
Laat die leerders elke woord of frase in die hoofstuk opsoek en in sy konteks definieer. Hulle kan saam met ‘n maat die betekenisse in die woordeboek opsoek.
benoud
woordeloos
verbasend
kriewel
karnuffel
seremonie
vasberade
karkasse
boeglam
uitgelate
akkoord
sierlike
C) Begrip
1. Hoekom wil Devon nie gered word nie? (Hy gaan in die moeilikheid beland.)
2. “Dis wat almal sê, totdat hulle koppe afgekap word. Daarna sê hulle nogal verbasend min.” Wat beteken dit? (Hulle is dood en kan nie iets sê nie.)
3. Dink jy kaptein Hamerkophaai het ‘n goeie selfbeeld? Wat beteken dit. (Ja, hy sien homself as ‘n emmer vol sonskyn. Hy is ‘n positiewe/vrolike mens)
4. Wat bedoel kaptein Hamerkophaai as hy skreeu “Akkoord”? (Hy stem saam, hy weet wat om te doen).
D) Koerantaktiwiteit
Ontwikkel ‘n aktiwiteit uit die koerant wat leerders wat op detensie sit, moet doen. Onthou: dit moet hulle ‘n uur lank besig hou.
E) Skryfprikkel
1) Vertel van ‘n insident waarin jy ‘n vriend gered het of iemand wat in jou plek in die moeilikheid beland het.
2) Skryf vyf redes waarvoor jy dink ‘n kind detensie moet sit.
F) Daaglikse redigering/Taal
Gee rymwoorde vir die volgende woorde.
bv. vet – pret
Kaptein –
haai –
seemaat –
red –
duik –
straf –
moeg –
hand -
Hoofstuk 6
Opsomming:
Vrydagoggend kom daar ‘n vreeslike geraas van die skoolswembad se kant af. Daar was ‘n seerowerskip in die skoolswembad en in die swembadwater het dit gewemel van die haaie. Devon se klasmaats was orals. Zelda het vir Devon beetgekry, maar gelukkig het kaptein Hamerkophaai tot sy redding gekom.
A) Gereed om te lees/voorspel:
Toe Devon weer sien, sit hy en die kaptein bo-op die rugbypaal. Die kaptein het sy hand uitgesteek en die bal reg bo-op die paal geplant. “Ons wen!” het hy geroep. En toe blaas die bal af…
Hoe dink jy het die ander spelers en afrigter reageer toe hulle die situasie aanskou? Wat sou jy gedoen het as jy die afrigter was?
B) Woordeskat of frases:
Bespreek die volgende woorde en gebruik dit dan in sinne: Gebruik die sinne in seerowersinne:
takelwerk
kanon
wemel
prettighede
klouter
benoud
gemene
fakkel
lont
Leerders kan kaptein Hamerkophaai se skip teken en hierdie byskrifte bysit. Hulle kan ook ekstra byskrifte (woorde) byvoeg.
C) Begrip:
1. Kaptein Hamerkop het vir Devon gese dat hy van seerowersport sal hou: Noem 3 voorbeelde van seerowersport. (Swaardgevegte, touklim, aartappelskil).
2. Hoekom was Devon bang toe hy die haaie in die swembad gesien het?
(Hy het geweet daar mag nie haaie in die swembad wees nie en dat hy in groot moeilikheid gaan kom as die onderwysers daarvan uitvind.)
3. Zelda het vir Devon uitgedaag tot ‘n swaardgeveg, waarmee moes Devon veg? (‘n mop)
4. Hoe het kaptein Hamerkophaai Devon uit die moeilike situasie gered?
(Hy het gemaak asof dit Devon se verjaarsdag was.)
D) Koerantaktiwiteit:
Die kinders het die seerowersport vreeslik geniet. Soek berigte oor sportsoorte in Die Burger - prente, advertensies en woorde kan ook gebruik word.
E) Skryfprikkel:
1)Verbeel jou jy was een van Devon se klasmaats en jy was self op die seerowerskip wat in die skoolswembad was. Skryf ‘n kort paragraaf waarin jy vertel wat jy alles gesien en gehoor het.
2) Jy is ‘n joernalis wat die seerowerskip in die skoolswembad gesien het. Skryf ‘n artikel vir Die SeeBurger waarin jy presies beskryf wat alles gebeur het.
3) Skryf ‘n paragraaf oor jou gunsteling sportsoort. Jy hoef dit nie self dit te beoefen nie.
F) Daaglikse redigering/taal
Skryf die volgende paragraaf oor en verbeter die vyf spelfoute:
Devon weet nie van watter boefery sy praat nie. Hy weet net hy moet nou koes, want haar swaard peil reg op hom af. Buk! Die swaard swiep oor sy kop. Hy sal moet terugveg, al weet hy seuns bakly nie teen meisies nie. Watter kant van die mop gebreik mens? Die stok of die slobberige, wolerige deel?
G) Nog ‘n idee:
Vertel vir jou klasmaats hoekom jy dink alle kinders aan sport moet deelneem.
Onthou: Sommige kinders kan nie sport doen nie, al wil hulle hoe graag (bv. kinders in rolstoele). Dink aan ‘n paar aktiwiteite wat hierdie kinders kan doen vir oefening.
Hoofstuk 7
Opsomming:
Devon het ‘n gat in die skooldak geblaas met die kanon. kaptein Hamerkop het gemaak asof dit Devon se verjaarsdag is. Devon het vir kaptein Hamerkop presies vertel wat hy van hom dink. Devon het ook vir kaptein Hamerkop gesê dit was eintlik Zelda se skuld dat hy aangekom het. Toe kaptein Hamerkop dit hoor, was hy baie ontsteld en het beveel dat die plank gebring word…
A) Gereed om te lees/voorspel:
Aan die einde van die sesde hoofstuk, het Devon ‘n kanon geskiet. Daar was ‘n harde knal en daar kom toe ‘n bol swart rook vanuit die skool se dak…
Wat dink jy was die oorsaak van die bol swart rook wat uit die skool se dak getrek het?
B) Woordeskat of frases:
1. Wat beteken die volgende idiome?:
Hy gaan detensie sit tot hy valstande moet kry
Hy voel soos ‘n meermin uit die water
Die kwaad loon sy meester.
2. Wat beteken die volgende byvoeglike naamwoorde:
Verontwaardig
beteuterd
onbeheersd
boos
ontnugtering
Kan jy aan nog byvoeglike naamwoorde dink wat vir kaptein Hamerkophaai, Devon en Zelda beskryf?
C) Begrip:
1. Seerowers eet amper enigiets, maar daar is iets waarvoor kaptein Hamerkop vreeslik gril, weet jy waarvoor kaptein Hamerkop gril? (Slaaisous)
2. Hoe weet ons dat Devon regtig kwaad was vir kaptein Hamerkop. (Hy het ‘n mop teen kaptein Hamerkop se bors vasgedruk en hom boos aangegluur).
3. Kaptein Hamerkophaai was baie kwaad toe hy uitgevind het dat Zelda die rede was hoekom hy daar was. Hoe wou hy vir Zelda straf? (Sy moes die loopplank loop. Dit is waar iemand geblinddoek word en op die plank oor die see moet loop totdat hulle in die see val. Gewoonlik is daar ook haaie in die water).
D) Koerantaktiwiteit:
Seerowers sal amper enigiets eet. Soek voorbeelde van kossoorte vanuit Die Burger wat hulle by ‘n seerowerfees sal geniet. Knip die prente uit en maak ‘n collage.
E) Skryfprikkel:
1. Dink aan ‘n paar slim planne wat jy sal beraam as dit jy was wat op die plank moes loop? Skryf dit neer.
2. Kaptein Hamerkophaai eet amper enigiets. Skryf vir ons die resep neer van een van sy gunsteling disse. Onthou: jy moet die bestanddele en metode neerskryf. Jy moet ten minste 6 bestanddele gebruik. (Wees kreatief!)
3. Watter konsternasie dink hy het tussen kaptein Hamerkop en die meermin gebeur? Skryf ‘n kort paragraaf.
F) Taalgebruik:
Gee die meervoude van die volgende woorde:
seerowervlag
skeepmas
seerowerskip
kaptein
skoolswembad
swaardgeveg
verjaarsdag
kanon
G) Nog idees:
1. Vind uit oor verskillende soorte haaie en watter die gevaarlikste is. Vind uit watter spesies het al uitgesterf en watter tans bedreig word. Bring prente en inligting klas toe vir ‘n klasbespreking.
2. Gaan doen navorsing oor seerowers en vind uit op watter ander maniere hulle ook mense doodgemaak het.
Hoofstuk 8
Opsomming:
Kaptein Hamerkop het vir Devon beveel om Zelda se hande met tou vas te bind. Sy moes op die plank loop. Zelda het ondertoe getuimel. Devon, die kaptein, die skoolhoof en juffrou Willemse was skielik sopnat. Devon is swaar gestraf. Zelda steek haar hand op en vra: “Is juffrou seker seerowers moet ook skoolgaan?”
A) Gereed om te lees/voorspel:
Kaptein Hamerkop het beveel dat die plank gebring word.
Hoekom dink jy het kaptein Hamerkop die plank laat kom? Wat, dink jy, wou hy daarmee maak?
B) Woordeskat of frases:
1)Wat beteken die volgende idiome in die leesstuk?
*Sy sal besonders lig hiervan afkom.
*Homself uit die voete maak.
*Ons moet nog mette maak met die konkelaar.
*Haar doppie gaan nou klap.
2)Soek in die leesstuk ‘n woord wat “skelm” beteken (konkelaar)
3) Bespreek die volgende woorde en gebruik dit dan in sinne:
binnensmond
vermakerig
pruil mond
C) Begrip
1.Wou Devon vir Zelda vir die haaie voer? Hoe weet jy dit? (Hy het gese: Ek is seker ons kan ‘n ander plan maak met haar / Hy hou glad nie van haar nie, maar om haar vir ‘n spul honger haaie te voer, is ‘n bietjie te erg.)
2. Wie moes Zelda se hande vasbind met tou? (Devon.)
3. Hoekom het Zelda se onderlip en bene gebewe? (Sy was baie bang).
4. Hoekom het die haaie nie vir Zelda gebyt nie? (Dit was opblaashaaie.)
5. Die skoolhoof het vir Devon gestraf, wat moes hy pouses doen? (Hy moes die klaskamers se asblikke leeg gemaak het en gesorg het dat alle kougom onder die lessenaars verwyder word.)
6.Daar het ‘n papiertjie op Devon se tafel beland. Hoe het hy geweet Zelda die papiertjie na hom toe gegooi het. (Hy het haar krom en skewe handskrif dadelik herken.)
7.Wat was die oorsaak van die swart rook bo die skool se dak? (Devon het die skool se dak weggeblaas met die kanon.)
D) Koerantaktiwiteit:
1. Soek berigte in die koerant wat met haaie te doen het bv. haai-aanvalle.
2. Kyk hoeveel idiome jy in die koerant kan vind. Plak dit op ‘n papier en skryf die betekenis daarvan langs elke idioom neer.
E) Skryfprikkel:
1. Verbeel jou jy was in Devon se skoene. Skryf ‘n brief aan die skoolhoof waarin jy vir hom presies verduidelik wat gebeur het en dat dit eintlik nie jou skuld was dat die skool se dak weggeblaas is nie.
2. Skryf ‘n kort storie van die keer toe jy deur ‘n seerower ontvoer is. Jy moes ook die plank loop, maar toe jy in water val, het ‘n dolfyn jou na ‘n eiland toe geneem. Vertel ons wat jy alles gedoen het om te oorleef en hoe jy van die eiland gered is.
3. Nadat Zelda haar vraag vir juffrou Willemse gevra het, gaan die klaskamerdeur oop. Skryf ‘n kort storie waarin jy presies verduidelik wat jy gesien het en wat als daarna gebeur het.
F) Taal:
Voltooi die volgende paragraaf deur die ontbrekende woorde in te vul:
Devon is terug in juffrou (1) __________ se klas. Hy sê nie ’n woord nie. Hy kyk nie eens op nie. Nie eens die (2) __________ water langs sy skoene pla hom nie. Hy dink net aan die straf wat die (3) __________ hom opgelê het. Van (4) __________ af moet hy ’n uur lank detensie sit, vir die res van die jaar. (5) __________ moet hy al die klaskamers se (6) __________ leegmaak. En hy moet sorg dat alle (7) ___________ onder die (8) _____________ verwyder word.
Hoofstuk 9
Opsomming:
Ander seerowers daag by die klas op. Devon en kaptein Hamerkophaai het onder die lessenaar ingeduik. Kwartiermeester Tierhaai het die lessenaar in stukke gebreek. Dit was kaptein Hamerkophaai se aartsvyand. Hy het sy swaard uitgepluk en die boonste deel van kaptein Hamerkop se hoed morsaf gekap. Chaos het in die klas losgebars.
A) Gereed om te lees/voorspel:
Aan die einde van die agste hoofstuk, het Zelda vir juffrou Willemse gevra: “is juffrou seker seerowers moet ook skoolgaan?” Die kinders het gewag vir haar reaksie en toe was daar ‘n harde klop aan die klaskamerdeur…
Wie dink jy het aan die klas se deur geklop?
B) Woordeskat of frases:
Soek die betekenis van die volgende woorde:
aartsvyand
pruttel
chaos
neul
woestaard
C) Begripskontrole:
1.Wat in die leesstuk se vir ons dat kaptein Hamerkop bang was toe die seerower by die klaskamerdeur ingebars het? (Sweet loop onder sy oogklap uit en sy haakhand bewe.)
2. Daar het ‘n lang, geel wurm op die vloer langs Devon geval. Waar het dit vandaan gekom? (Dit het uit een van die snye van die seerower se gesig gekruip.)
3. “Chaos bars in die klas los” Wat het aanleiding gegee tot die chaos in die klas? (Toe die kinders besef dat Zelda ook ‘n seerower gekry het, vra alma look Moet seerowers skool toe gaan” en vir elke vraag, het ‘n seerower by die klas opgedaag. Die kinders het toe onder mekaar begin stry watter seerower is wiesin)
D) Koerantaktiwiteit:
Vind berigte in die koerant oor bakleiery/gevegte (in skole). Kyk hoeveel berigte julle kan vind en bespreek in groepe hoe hierdie geweld in skole stopgesit kan word.
E) Skryfprikkel:
Iemand in die klas het gese: “Seerowers het almal slegte maniere”.
Skryf ‘n kort paragraaf waarin jy vir ons meer van seerowers se slegte maniere vertel. Gebruik jou verbeelding.
F) Daaglikse redigering:
Gee elke keer die teenoorgestelde (antoniem) van die woorde tussen hakies:
“Kwartiermeester Tierhaai, (1. gaaf) om jou te ontmoet,” pruttel die man. “Wat doen julle (2. bo) die tafel? Papbroekig? Lamsakkig? Kleinmoedig? (3. Braaf)? Ek sou ook wees, want hierdie jollifikasie is verby! Arrr!” Hy rits die woorde af sonder ophou, sonder om asem te skep.
’n (4. Kort), geel wurm kruip uit een van die snye op sy gesig en val langs Devon op die vloer. Devon gril. Zelda, daarenteen, lyk heel ingenome. Sý het immers die kwartiermeester hierheen gebring met haar (5. slim) (6. antwoord).
G) Nog ‘n idee:
Hoe dink jy kon juffrou Wilemse die chaos in die klaskamer gestop het? Wat kon sy gesê of gedoen het?
Hoofstuk 10
Opsomming:
Devon wou gaan wegkruip op die seerowerskip toe kaptein Hamerkop hom keer. Kaptein Hamerkop het toe ‘n blink plan gekry: hulle sleep die kanon na die skoolsaal toe. Kaptein Hamerkop vaar baie goed met sy swaardgeveg teen die Kwartiermeester totdat hy hom in ‘n hoek vaskeer...
A) Gereed om te lees/voorspel:
Aan die einde van hoofstuk nege, was daar chaos in Devon se klas. Hy het uit die klas gevlug. Hy was oppad na die seerowerskip in die swembad, toe ‘n hand hom gryp…
Wie dink jy het vir Devon gegryp?
B) Woordeskat of frases:
Soek die betekenis van die volgende woorde:
prewel
verdryf
kakofonie
kateder
Wat beteken die volgende idiome?
*So maklik kry jy nie die oorhand nie.
*Stuit hom in sy spore
*Die skrik op die lyf te jaag.
*Hy kry die oorhand
C) Begrip:
1.Wat wou Devon op die seerowerskip gaan doen het? (Hy wou gaan wegkruip het.)
2.Hoe weet ons dat kaptein Hamerkophaai net so bang soos Devon was? (Hy het gese sy broek bewe net soos Devon sin.)
3. Wat beteken:“Julle doodsklokke het gelui, seerowers.” (Julle gaan nou sterf).
D) Koerantaktiwiteit:
Die Kwartiermeester het nie baie van die selfoon wat die seuntjie vir hom wou gee gedink nie. Hy het gedink dit het geen waarde nie. Soek in die koerant enige advertensies, herstelwerk, ens van selfone.
E) Skryfprikkel:
1) Die bewende kinders en onderwysers het in rye voor drie oop skatkiste gestaan. In hulle hande het horlosies, hangertjies en oorbelle geblink. Vertel vir ons wat jy alles in jou skatskis sou wegsit as jy een moes begrawe.
2) Skryf ‘n paragraaf waarin jy vir ons vertel van ‘n keer wat jy so bang was dat jou broek gebewe het.
F) Daaglikse redigering:
Skryf die volgende sinne oor en voeg die nodige lees-en skryftekens in:
Wat skrik jy so devon die Deugdelike kaptein roep devon verlig
Wie anders kan dit dan wees Toe ek sien jy sluip weg het ek besluit om jou te volg. Jy het gelyk na ’n man met ’n plan. Arrr! Net soos dit ’n seerower betaam devon skud sy kop.
Hoofstuk 11
Opsomming:
Devon het kaptein Hamerkophaai se lewe gered toe hy met sy swaard voor kaptein Hamerkophaai ingespring het. Kwartiermeester Tierhaai se swaard spat uit sy hand. Devon het net een keer gegrom: “Arrr!” en toe het die kwartiermeester op vlug geslaan. Devon het in een oomblik in almal se held verander. Almal wil Devon se hand kom skud. Devon was nog nooit so gelukkig nie.
A) Gereed om te lees/voorspel:
Aan die einde van hoofstuk tien, het die kwartiermeester vir kaptein Hamerkophaai in ‘n hoek vasgekeer, sy swaard gelig, ‘n laaste keer gegrom en met sy swaard gekap.
Wat dink jy het gebeur?
Dink jy hy het vir kaptein Hamerkophaai doodgemaak?
B) Woordeskat of frases:
Wat beteken dit volgende idiome:
Sweet perel op sy voorkop.
Vrees broei in sy oe
Devon wil uit sy vel spring?
C) Begrip:
1. Wie het kaptein Hamerkophaai se lewe gered? (Devon)
2.Hoekom tik die sekondes stadig verby? (Hy is so bang)
3.Hoe het Devon almal se held geword? (Hy het kaptein Hamerkop se lewe gered en die Kwartiermeester weggejaag.)
D) Koerantaktiwiteit:
Kyk na verskillende name in die koerant. Watter van hierdie name dink jy sal goeie “seerowername” wees? Knip dit uit en plak dit op ‘n bladsy.
E) Skryfprikkel:
Devon is ‘n ware held, want hy het kaptein Hamerkophaai se lewe gered. Skryf vir ons wie jou held is en waarom hy/sy jou held is.
F) Daaglikse redigering:
Voltooi die sinne deur die ontbrekende woorde in te vul:
Uiteindelik is Devon en kaptein Hamerkophaai alleen in die grote 1 __________. Die kaptein tel vir Devon van sy (2) __________ af. Hy is (3) ___________ baie stil.
Iets is verkeerd, weet Devon dadelik. Die kaptein lig sy (4) ___________. Haai, sien Devon nou eers, hy het dan twéé (5) _______! Hoekom dra hy die oogklap? Devon wil nog vra, toe (6) _________ die (7) __________ op kaptein Hamerkophaai se (8) _________.
G) Nog ‘n idee:
Seerower-rolspel. Leerders kan in groepe enige insident van die storie vir die klas opvoer. Hulle kan aantrek soos die karakters. Hou sommer ‘n seerowerpartytjie as almal klaar is. Neem foto’s daarvan en e-pos dit na kleinb@dieburger.com. Wie weet – dalk kom die klas se foto’s in die koerant?