Kaartjieverkope oortref verwagtinge, misdaad dramaties minder
2010-04-13 01:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Oudtshoorn
Altesaam 47 691 meer kaartjies as verlede jaar is vanjaar vir die verskillende produksies van die Absa KKNK verkoop.
“Kaartjieverkope het alle verwagtinge oortref ten opsigte van binnemuurse teater- en musiekproduksies en hekgelde na die Rivierbuurt,” het mnr. Brett Pyper, uitvoerende hoof van die Absa KKNK, ná die 16de KKNK bekend gemaak.
Volgens voorlopige syfers is 164 450 kaartjies vanjaar verkoop, teenoor 116 759 verlede jaar.
“Dié aansienlike styging is grootliks danksy verkope van die nuwe dagpas, maar selfs as hierdie kaartjies buite rekening gelaat word, was kaartjieverkope vir feesproduksies vanjaar vir die eerste keer sedert 2005 hoër as die vorige jaar.”
Die dagpas na die Rivierbuurt het toegang verleen tot amptelike musiekverhoë en die Absa Kuns-en-vlooimark.
Volgens Pyper was die feesbestuur se oorhoofse doelwit vanjaar om die gehalte en verskeidenheid van die kunste-aanbod te versterk en te integreer.
“Ons voel dat vanjaar se fees uiters geslaagd in dié verband was, en dat die grootste uitdagings rondom die integrering van die buitefees, insluitend die musiekverhoë, met die grootliks binnemuurse produksies en uitstallings aangespreek is.”
Onder die uitdagings was die uitskakeling van musiekroofverhoë, waarvan die toegang nie na die KKNK se geldlaai gegaan het nie, en die uitbreiding van die verskillende genres van musiek.
Volgens Pyper het die nuwe bedryfsmodel in wese geslaag. “Ons het opnuut die potensiaal ontsluit om die inhoud van die feesprogram in al sy verskeidenheid met ons artistieke en strategiese doelwitte te belyn.
“Ons is opgewonde oor die moontlikhede wat nou reeds vir toekomstige feeste ontsluit is.”
Die finale syfers sal ná ’n direksievergadering op 6 Mei bevestig word. Die datums vir volgende jaar se kunstefees sal dan ook bekend gemaak word.
Die toegangsbeheerde Rivierbuurt het gekom om te bly.
Die terrein van die Rivierbuurt en Huisgenoot-Musiekplaas behoort aan die Hoërskool Oudts- hoorn.
Volgens mnr. Johan Claassen, hoof van die skool, is kontrakte vir drie jaar met die KKNK en Huisgenoot gesluit.
Volgens die Oudtshoorn-polisie het beheerde toegang tot die Rivierbuurt bygedra tot die dramatiese afname in misdaad.
In 2009 is letterlik honderde selfone gesteel, terwyl daar vanjaar net twee voorvalle van beweerde selfoondiefstal aangemeld is.
Een voorval van diefstal uit stalletjies, waartydens goedere ter waarde van sowat R25 000 gesteel is, het plaasgevind.
Vier stalletjies rondom die pretpark is beroof.
’n Verdagte, een van die sekerheidswagte wat buite die omheining diens gedoen het, is in hegtenis geneem en die meeste van die goedere is teruggevind.
- Die Burger