Joost: Dit was ’n web van leuens
2009-11-02 00:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Omtrent alles wat van sy kant oor die omstrede Joost-seksvideo aan die publiek en die media opgedis is, was “ ’n konkoksie van leuens”, het die oudrugbyspeler Joost van der Westhuizen gister gesê.
“Alles wat ek tot nog toe oor die video gesê het, was ’n web van leuens en vals voorstellings waaruit ek naderhand nie meer geweet het hoe om te kom nie.”
Dit sluit die leuenverklikkertoets in wat hy glo geslaag het en die bestaan van ’n “dubbelganger” wat in die video te sien sou gewees het.
Woensdagaand om 20:00 gaan Van der Westhuizen regstreeks op televisie in die joernaalprogram Kwêla op kykNET gaan uitstort oor die seksvideoskandaal, berig Thinus Ferreira.
Nadat die video aan die lig gekom het, het mnr. Mike Bolhuis, destyds Van der Westhuizen se persoonlike adviseur en spesiale ondersoeker, sy kliënt onder meer ’n leuenverklikkertoets laat doen wat glo aangedui het dit is nie die oud-Bokkaptein in die video nie.
Bolhuis het gister erken hy het vir die persoon wat die toets gedoen het, gevra “om vir Joost te help”.
“Die toets was ge-rig,” het Bolhuis gesê.
Van der Westhuizen het gesê hy het “natuurlik geweet die toets se uitslag is vervals, want ek het dan gelieg oor die feit dat dit nie ek in die video is nie”.
“Soos met al die ander goed, vra ek ook verskoning oor dié leuen,” het Van der Westhuizen gesê.
Binne ure ná sy bekentenis die naweek het SuperSport besluit om sy dienste as vryskut-aanbieder, ontleder en uitsaaier “onmiddellik en finaal” te beëindig, het mnr. Clinton van den Bergh, mediawoordvoerder van SuperSport, gister gesê.
Dit was volgens Bolhuis “Joost se idee dat ons die storie van ’n dubbelganger gebruik”.
Bolhuis het gesê Van der Westhuizen het “van dag een af aan my erken dat dit inderdaad hy in die video is. Joost was egter desperaat en het aan my gesê hy is bereid om enigiets te betaal om, soos hy dit gestel het, die gemors uit sy lewe te kry.”
Van der Westhuizen het gesê hy kan hom beswaarlik indink dat hy so ver sou gaan as om mense om te koop.
“Maar ek vra steeds onvoorwaardelik om verskoning vir al die leuens wat ek laat versprei het oor die video.”
Sy vrou, Amor Vittone, was nie gister vir kommentaar beskikbaar nie. Haar ouers, mnr. Dario en mev. Denise Vittone, wat volgens gerugte sterk teen haar huwelik gekant is, wou gister geen vrae oor hul skoonseun se erkennings beantwoord nie.
Bolhuis het gesê hy hoop Van der Westhuizen gaan ook bieg oor die ander vroue met wie hy deurmekaar was.
“Ek is dankbaar dat Joost uiteindelik besluit het om eerlik oor die video te wees. Ek wens hom alle voorspoed toe.
“Maar ek hoop dat hy nou van die kans gebruik sal maak om ter wille van sy huwelik volledig te bieg, ook oor die ander vroue met wie hy verhoudings aangeknoop het en wat ons ondersoek aan die lig gebring het,” het Bolhuis gesê.
- Die Burger