HULDEBLYK : Toerien se reikwydte merkwaardig
2009-09-09 23:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Laat alles breek:
die oog, die voel, die oor;
jy sal net skerper hoor
die lewerkies met dagbreek
(uit “Die Slaapgaan” in Parte speel, 1991)
Ná ’n lang en moeilike klim: ’n spierwit sneeuprotea in die mis van Krakadouw in die Sederberge, boulderhopping en abseiling in ’n Bolandse kloof, die uitwys van rooi disas in die lente by ’n waterval in Du Toitskloof, sy liefde vir swem in die branders van die Strand tot by Schoenmakerskop, en bowenal sy humorsin.
Dít is die dinge wat ek van Barend Toerien sal onthou. ’n Man om ’n berg mee te klim, en wat die blomme-rykdom in die landskap kon uitwys en benoem, al neuriënd en singend aan lirieke van wie weet waar: “Let’s go down to the watering hole, me with my stick and you with your pole..., “Mrs Otis regrets she’s unable to lunch today...” (laasgenoemde sou waarskynlik sy kommentaar vandag wees!). Soos hy ironiserend oor die New Yorkse sosiale skemerkelkie-kring geskryf het in “Soiree”: “How pleasant it (was) to know Mr T.” Veral in die laaste twee dekades (1983 tot 1994) van die 20ste eeu toe hy nog buitengewoon sterk was. Hy het rots- en berggeklim, ge-abseil en ge-boulderhop in ruwe Bolandse klowe met die bestes (Marie Snijders, Francois Pauw, Braam de Klerk) tot in sy vroeë sewentigerjare.
Waar hy by ’n aandvuur was, is altyd gelag en gesing, met stimulerende geselskap en voordra van verse. Met die ouer word, het ’n nuwe roetine gekom van televisie (veral vir sport en klassieke musiek), swem, koffiedrink en koerantlees in koffiewinkels, boekwinkels besoek (om die nuutste boeke daar te lees), en die skryf van sy outobiografie (net 40 bladsye gevorder na my wete voordat hy gestuit het op sy “onplesierige pa”). Op sy minuskule balkonnetjie wat oor die Bolandse berge uitkyk, of langs die see by Melkbaai se “lekker branders” het hy soms ’n gedig gefabriseer, soos in April 2009:
Laagwater. En die seun soek vondse met sy voete,
vroetel met sy tone deur die wier
en alikreukels, periwinkels,
met die glip van klipvissies oor die bloumossels.
Wat het van daardie kind geword
waar hy daar sit in die son
en stip staar na sy vingers rumatiekerig krom?
Klipvissies met slap stertjies
bly gly gewoonweg in die rotssplete rond
met laagwater.
Elke paar maande, met die koms van die winter, het hy, in die ewige pendulum van kom en gaan tussen daar en hier, weggeraak – Amerika toe (waar hy vroeër veertig jaar gewerk het by Unesco se biblioteek), na sy dogter se perdeplaas in Rocky Ridge. Daar het hy tuingemaak, hout gekap “vir die winter” en lange briewe geskryf. Met die koms van die lente in September sou die telefoon weer lui om te rapporteer “Mr T” is terug vir swem en Afrikaans, en die “lekker mense van hier”, veral sy ou bergklimvriende met wie hy nooit kontak verloor het nie.
Die reikwydte van Toerien se belangstellings en aktiwiteite was merkwaardig. As digter het hy homself nog onlangs met skerp insig raak getipeer as ’n “kleiner digter, ’n minor poet”, maar met trots, “ ’n belangrike minor poet”. Sy oeuvre bevat Gedigte (1961), 39 Gedigte (1964), Verliese en Aanklagte (1973), Illusies, Elegieë, Oorveë, Transfusies (1976), ’n Plek op die Land. Catskillverse (1985), Parte speel (1991), Christian Morgenstern: Houtjies van die Galg (Vertaal uit Galgenlieder) (1997), Die Huisapteek (2001) en ’n bloemlesing uit sy werk deur Louise Viljoen, Om te Onthou (2006).
Met ’n aweregse kyk op dinge en sterk humorsin in sy gedigte lewer Toerien veral as satirikus verskeie memorabele gedigte, soos die klassieke “Die Tante” (Gedigte), wat uitgebeeld word as verteenwoordigend van “al die tantes van die dorp” en ten slotte as die “vrou van Suid-Afrika”.
Ballingskap vorm ’n sterk tema in sy werk, soos in die sintuiglik erotiese loflied op Afrikaans in “Terugkoms” (in Verliese en Aanklagte): “Om die name te noem het ek gekom / om die heuning en kruie te eet van die name (...)”.
Toerien se perspektief is dikwels ontmaskerend, veral in politieke gedigte gefokus op die effek van die apartheidsbestel, soos “Steenwerp se Bruinmense” (Illusies, Elegieë, Oorveë, Transfusies).
Hy skryf ook sterk liriese natuurgedigte en erotiese liefdesgedigte, en in albei hierdie soort gedigte is die ligte woordspel en sterk metriese ritme opvallende elemente vanaf sy eerste bundel. Daar is ’n skerp stygende lyn in sy oeuvre wat eindig met Die Huisapteek, verse met ’n sterk verganklikheidsbewussyn, maar van ’n betowerende aardsheid en liefde vir die natuur.
Naas poësie is hy ook bekend vir sy poësie-vertalings van Bertolt Brecht in Parte speel en van Morgenstern se Galgenlieder (1905 tot 1908) in Houtjies van die Galg.
Daarnaas het hy ’n reisboek, Augustus in Moskou (1992), genealogiese werke oor sy familie in Toerien-stamboom (1979) en Toerien-familie/family (2002) oor Afrikaanse letterkunde in vertaling, Afrikaans in Translation. A Bibliography (1992) gepubliseer, en op 84-jarige ouderdom nog ’n historiese werkie, Die Wegraak van Frans Joosten (2004), plus baie resensies deur dekades heen, sowel hier te lande, veral in Die Burger as in Amerika, waar hy van 1948 tot 1983 gewoon het.
Die belangrikste hiervan was sy werk vir die gesaghebbende Amerikaanse tydskrif, World Literature Today. Vir duisende buitelandse lesers was hierdie hul eerste kennismaking met Afrikaanse letterkunde van formaat. Op die internet het Toerien veral ’n sterk teenwoordigheid naas skrywer, as resensent, veral van eersterangse Afrikaanse letterkundige werke op World Literature Today.
Barend J. Toerien: bergklimmer, digter, skrywer, wandelende literatuurgeskiedenis, humoris en lewensgenieter – ons sal hom mis.
- Helize van Vuuren is verbonde aan die nelson Mandela Metropolitaanse universiteit in Port Elizabeth.