Gonzales-Torres bring sterk boodskap oor verlies
2010-01-30 06:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Elke week skryf ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar in dié rubriek oor sy/haar eie werk en ’n gunsteling-kunswerk.
EIE WERK
Ek fokus in my kuns om die balans tussen vorm, materiaal, persoonlike betekenis, moontlike interpretasie en politieke relevansie te bewerkstellig op dieselfde wyse as die bekende Kubaans-Amerikaanse kunstenaar Felix Gonzales-Torres (1957-1996), wie se werk ek hier gekies het as my gunsteling.
Ek vind egter gereeld (tot my spyt) dat een aspek ’n ander domineer. Van die uitdagings wat ek aan myself al gestel het, sluit in om 5 000 verskillende skakerings bruin in akrielverf te vermeng (Die Afstand Tussen Ons I), om KKNK-besoekers te oorreed om hul troetelname vir my per selfoon as teksboodskappe te stuur (LVJ & MJB XXX), en ’n lewensgroot gehekelde figuurstudie te maak (Die Kus).
Ondanks die aanvanklike uiteenlopendheid van my werk, bestaan ’n paar konstante aspekte: my voorliefde vir tydsame vlyt-tegnieke en portretstudies.
Die konstant ontwykende skoonheid van Gonzales-Torres se werk herinner my gereeld aan die krag en die berusting wat die regte kunswerk op die regte tyd en plek aan ’n individu kan gee, en gevolglik sal ek seker nooit rus vind nie in my strewe na hierdie ideaal.
MY KEUSE
Gonzales-Torres se ongetitelde werk (wat soms ook Placebo genoem word), bly een van my gunsteling-werke as gevolg van die poëtiese krag wat dit oproep met ’n verstommende ekonomie van vorm.
Die werk bestaan uit duisende lekkers wat afsonderlik in silwer sellofaanpapier toegedraai is en in ’n netjiese blok gerangskik is.
Besoekers aan die museums en galerye waar die werk al uitgestal was (die werk is tans in die versameling van die Museum of Modern Art in New York), was aangemoedig om van die lekkers te neem.
Die netjiese blok lekkers het gevolglik met die verloop van tyd gedisintegreer, weggekwyn soos die liggaam van Gonzales-Torres se lewensmaat, wat aan MIV-verwante komplikasies oorlede is (en aan wie die werk opgedra is). Die werk is ’n toonbeeld van subtiliteit, die swaar boodskap van verlies is versteek agter die speelse hoop lekkers en agter die streng formaliteit van die rangskikking wat herinner aan die gepoleerde metaal en hoekigheid van die minimalistiese beeldhouers van die sestiger- en sewentigerjare.
Die werk kan op verskeie maniere geïnterpreteer word, wat dit toeganklik vir ’n groter gehoor kan maak (en sodoende meer effektief kommunikeer sonder om didakties te wees).
Die ligspel van reflektiewe sellofaan kan ’n formele estetiese waardering ontlok, die belangrikheid wat die werk aan die toeskouer heg om dit te “voltooi” (deur van die lekkers te neem), is ’n interessante kommentaar op die modernistiese neiging om die kunswerk as ’n onafhanklike “geheel op sigself” te sien, terwyl die emosionele sy van die werk ongetwyfeld aandoenlik is aan die hand van die kunstenaar se persoonlike inspirasie vir die werk.
- Pierre Fouché, van Kaapstad, werk tans aan ’n projek saam met sy kunstenaar-eggenoot, Werner Ungerer, wat in Maart uitgestal gaan word op die groepsuitstalling Swallow my Pride in die galery Blank Projects. Hy en Hentie van der Merwe werk ook aan ’n groepsuitstalling, van fantasie-kuns, getiteld The Menippean Uprising, vir September.
- Die Burger