Du Plessis en Høeg ontlok dieselfde mate van passie.
2012-02-09 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op

Ek het nie ’n gunstelingskrywer nie, maar eerder ’n gunstelingtipe roman.
Ek geniet enige genre, solank die hartstog oorborrel, ek verras word met die onverwagse, die karakters blywend is en die storie nie versmoor word deur korrekte taal en intellektuele aandagtrekkery nie.
Die boekklub waaraan ek behoort, lees Jonathan Franzen se Freedom, die tipe roman wat ek net nie eens op vakansie kan lees nie.
Met alle respek, dit is die mees emosielose, langdradige vertelling van interpersoonlike verhoudings wat ek al teëgekom het.
Margaret Atwood kan jou ook martel met ’n gebrek aan emosie, maar dan oorrompel sy jou met een sin, een paragraaf propvol emosie en die marteling is skielik die moeite werd.
’n Roman wat my wel gaande gehad het, is Smilla’s Sense of Snow.
Die Deense skrywer Peter Høeg het sy speurverhaal menslik gemaak deur die skep van Smilla – ’n enigmatiese karakter, vol foute en bravade.
Sy verhaal van verlies en identiteit is interessanter gemaak deur dit te meng met ’n speurverhaal wat grens aan wetenskapsfiksie.
Bowenal het hy met gewone taal die mees onvergeetlike beelde geskep.
Een van die paragrawe wat my bybly is:
“There’s a widespread notion that children are open, that the truth about their inner selves just seeps out of them. That’s all wrong. No one is more covert than a child, and no one has greater cause to be that way. It’s a response to a world that’s always using a tin-opener on them to see what they have inside, just in case it ought to be replaced with a more useful type of tinned foodstuff.”
Vir my is Smilla se Afrikaanse eweknie P.G. du Plessis se veelbekroonde Fees van die Ongenooides.
Met sy intense karakters het Du Plessis die Anglo-Boereoorlog toegankliker gemaak vir ’n leser wat absoluut niks van die oorlog geweet het nie.
Deur die Anglo-Boereoorlog die verhoog te maak waarop die familie-intrige afspeel, het hy meer diepte aan die verhoudings verleen.
’n Blywende beeld is die volgende:
“Die eerste nag van Magrieta se weduweeskap het sy nie geslaap nie. Ook nie uitgetrek of gaan lê nie. Die kers, in sy bloublaker langs haar bed, het laat in die nanag begin flikker, die laaste entjie pit het in sy staanplek losgesmelt en omgeval, ’n borreltjie vet geskiet, en die vlammetjie self het skielik klein geword en in die was verdrink. Toe’t sy verder in die donker gesit tot die rooidag in die gordyne begin kom het. Maar van die kers en die oggend het sy min geweet.”
- Die Burger