Digkuns as feesmaal opgedis
2009-11-13 01:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die vyfde Versindaba vind vanjaar op 27 en 28 November plaas in die Oude Libertas-amfiteater in Stellenbosch en dit beloof om selfs nóg meer omvattend en luisterryk te wees as in die verlede.
Luidens ’n persverklaring van die organiseerders, Louis Esterhuizen en Marlise Joubert, is 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees.
Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga.
Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hul verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.
Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste.
Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ’n kunsuitstalling in die Oude Libertas-ouditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder.
Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden.
Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Die uitstalling open amptelik op Vrydag 27 November om 17:00.
Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking “Met Woord & Kwas”, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ’n Uitstalling, en die spesiale voordragprogram “Geskilderde Woorde” deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellermann.
’n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Schola Cantorum-kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer.
Nog musieknommers wat die aandag gaan trek, is David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach waarmee die fees weer afsluit. Om nie eens van Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is, te praat nie?.?.?.
Vir die poësieliefhebber met ’n voorkeur aan meer intellektuele pitkos, is daar paneelbesprekings, onderhoude en lesings by die program ingesluit.
Die Dana Mouton-gedenklesing, wat elke jaar ’n hoogtepunt vorm, word vanjaar deur Diana Ferrus gelewer.
Ander sprekers is Willem Fransman wat Peter Snyders se werk in oënskou neem, Joan Hambidge wat bestek neem van die sogenaamde Tagtigers en hul bydrae tot ons digkuns, asook Antjie Krog wat vertel van hoe sy tot die digkuns “ontnugter” is.
Twee paneelbesprekings wat die belangstelling behoort te wek, is dié oor kinderverse, met ’n spesiale program deur leerders van Somerset College, asook ’n bespreking van die bruin stem in Afrikaanse digkuns onder voorsitterskap van Steward van Wyk.
Die volledige program, gepaardgaande met alle ander toepaslike inligting, kan op die Versindaba se webblad by http://versindaba.co.za gelees word.
Kaartjies kan by by Computicket en Protea Boekwinkel op Stellenbosch aangeskaf word.
Skakel 0021?882 9100 vir meer besonderhede of stuur ’n e-pos na ls.protea@mweb.co.za.