‘Combat’ wys hoe Nataniël kan goël
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Combat
Nataniël
****
Vroeg in sy loopbaan is Nataniël in die media as ’n “sexy kakkerlak” beskryf – ’n etiket wat hom darem nie bygebly het nie.
Met die bekendstelling van sy eerste verhoogproduksie wat nou die silwerdoek tref, het die verhoogkunstenaar erken hy haat kameras; dat hierdie HD-ervarings eintlik net bedoel is om insekte mee te verfilm en aan fliekgangers te vertoon.
Die waarheid is egter dat Combat in sy 2D-formaat op allerlei nuwe maniere bekoor, veral as ’n mens verlede jaar se Emperors Palace-vertonings in herinnering roep. Die nabyskote verseker dat die kyker die ragfyn, glinsterende besonderhede van Floris Louw se kostuums kan aanskou, die grasieuse dansbewegings kan ervaar sonder om jou nek te draai en die asemrowendheid van die innoverende verhoogontwerp in volle glorie kan sien.
Die regisseur Deon de Bruyn bring die essensie van die teaterproduksie sonder foefies na vore.
Dit plaas die fokus opnuut op die musiek en storievertelling. Wanneer Nataniël teen ’n donker agtergrond staan en sy kostelike verhale vertel, bekoor sy karakters, beeldspraak en kraakvars lewensuitkyk soos nog nooit tevore nie. Al pêrel daar sweet op sy bo-lip, word ’n mens net dieper en dieper in sy uiters magies-realistiese woordwêrelde ingetrek. Tonele wat in die produksie ’n mens na jou asem laat snak het, is hier met woema-trefkrag te sien – soos die son in “Close to the Sun”, Martin van Heerden en Ignatius van Heerden se akrobatiese tweepas, die slottoneel wat uit papier geskep is en selfs die rokerige boot-intro (“Sad to be Back”).
Die gehoor se gelag is getemper, so ’n mens loop nie stukkies van die monoloë mis nie. Dit gebeur dikwels dat mense so kliphard vir ’n sin lag dat woorde of sinne selfs nie gehoor kan word nie.
Bill Withers se “Ain’t No Sunshine” en Joe Niemand se “Into the Wind” is van die hoogtepunte, om nie “Hotstuff Executioner” of “Stuck”, albei uit Nataniël se pen, buite rekening te laat nie.
Die National Theatre se toneelstukke en die Met se operas is al op soortgelyke manier hier met teaterliefhebbers gedeel. Combat is ’n geskiedkundige oomblik, omdat dit ’n hoogs oorspronklike wêreldklas-musiekteaterproduksie uit eie bodem deur die fliekteaters aan wyer gehore bekend stel.
Dit is nie ’n fliek nie en ook nie ’n konsert nie, net 80 minute se towerkuns waarin Nataniël wys hoe hy met die musiek en die visuele kan goël soos min ander.
- Combat draai tot 9 Februarie in Ster-Kinekor Cavendish en V&A Waterfront, asook Nu Metro-bioskope in die V&A Waterfront en Canal Walk.