Breytenbach se 70ste só gevier
2009-08-20 23:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Op 16 September, die dag waarop die digter Breyten Breytenbach vanjaar 70 word, word deur verskeie programme in die Breytenbach-sentrum in Wellington gevier.
Breytenbach se jongste digbundel, oorblyfsel/voice over, sal op 16 September in die sentrum se teaterkafee, Die Bôrdienghuis, bekend gestel word. Hierdie bundel noem Breyten ’n “collage”, getransformeerde “variasies” van Magmoed Darwiesj se werk. Darwiesj (1941–2008), ’n Palestynse digter, was ’n vriend van Breytenbach. “Onmiddellik ná sy sterfte het ek hierdie reeks begin skryf as fragmente van ’n voortgesette gesprek met hom,” skryf Breytenbach.
“In die daaropvolgende weke sou ek noordwaarts reis – eers na Katalonië en daarna verder tot in Friesland. Vertaling, om oor te gaan van die een taal in ’n ander, is ook ’n reis. Ek beskou hierdie fragmente as lofbetuiging”.
Die akademikus Louise Viljoen en die digter Charl-Pierre Naudé sal by die bekendstelling oor die bundel gesels. Op 19 September bied die Breytenbach-sentrum in samewerking met die ALV en die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch ’n dagseminaar aan waar bydraers tot ’n spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Letterkunde oor Breytenbach se werke referate sal lewer. Ampie Coetzee, Willem Anker, Willie Burger, Helize van Vuuren, Heilna du Plooy en Hermann Giliomee is van die sprekers wat in hierdie program sal optree.
Kort dokumentêre rolprente deur Cloete Breytenbach oor Breyten in gesprek met Koos Kombuis, André P. Brink en Ampie Coetzee, asook ’n gesprek met Breytenbach in Katalonië, sal deel wees van die dagseminaar.
Die vieringe sluit die aand van 19 September af met ’n woordkunsproduksie, Verse in my Vingers, wat deur Juanita Swanepoel saamgestel is. Skakel 021 873 2786 met navrae en vir besprekings.
- Die Burger