Bird bekyk stand van SA maatskappy
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Promise Land
Goodman-galery, Fairweather House, Woodstock
****
Galgtou of samehorigheids-knoop? Hoop en verydeling? In die spanning tussen die teenstrydighede van dood en lewe, goed en kwaad, belofte en werklikheid, en gister en vandag speel Stuart Bird se wêreld van idees hom uit.
Die uitstalling is getooi in motiewe wat eers alledaags lyk: elektriese drade, muurproppe, gevlegte veseltoue, spieëls en houtletters gemaak deur ’n vaardige skrynwerkershand.
Dié handvaardigheid spruit uit Bird se vakleerlingskap as interieur-restoureerder van kerke in Engeland, voordat hy sy meestersgraad in die visuele kunste aan die Universiteit van Kaapstad gekry het.
Sedertdien het konseptuele installasie-kuns sy fokus geword. Kennis van materiale en hoe die kunstenaar dit in simbole kan omtower, blyk uit hierdie tentoonstelling.
Sy kunswerk van veseltou of elektriese koord is egter veral van belang binne ’n nuutgemaakte konteks: in hierdie geval die politiek-ekonomiese landskap van Suid-Afrika, die land wat in 1994 gedoop is as Reënboognasie en waar die sprokiesbelofte van die reënboog se goudpot letterlik opgeneem is.
Die belofte van gelyke geleenthede vir almal wat “vanselfsprekend”, soos naïef aanvaar is, tot welstand en werk vir almal sou lei.
Hierdie droom het die afgelope twee dekades aan skerwe gespat, of is, in Bird se beeldetaal, aan ’n galgtou opgehang. En om ’n ander Bird-metafoor te gebruik, bloed het uit die blood knot begin vloei. Soos berigte van sosiale protes teen ’n onbeholpe en grootliks korrupte regering en sakesektor ons daagliks verseker.
In plaas van ’n feitelike nuusverslag, “skryf” die kunstenaar beeldend-vertolkend met sy beeldhoukundige tegnieke.
Anders gestel, Bird se visuele en woordspeletjies “vertaal” die sosiale situasie verbeeldingryk in visuele taal. Daardeur ontknoop die kunstenaar die sosiale spannings gesetel in verydelde hoop.
Só dring hy tot die gevoelslaag onder die oppervlakte van daaglikse bedrywighede na daar waar die onderbewuste geraak word, en die drif om op te tree, gestimuleer word.
Bird se installasies roep uit: “Moenie dat net die rykes ryker word nie. Gee ons ons deel. Herbedink die hele ekonomiese struktuur. Want kyk, hier is die rooi ligte onder die houtletters wat ‘struggle’ spel. Hier is die tou met ’n lus wat sê, ‘galg’, wat sê ‘dood is jy’.
“En as jy die lus nie herken vir wat dit simboliseer nie, kyk na die donker skadu wat dit gooi teen die galerymuur, of op die vloer. Kyk na die die rooi vloeistof onder die styfgespanne blood knot. Lees ‘bloed’. Slagting wat kom.”
Dís die stem wat ek hoor in die halfdonker tussen Bird se agt installasies. Stadig, want jy moet wag tot gevoel verby dink opbruis boontoe.
Die “stem” van die kunswerk word helderder. Speel-speel met woorde en letterlike vertaling van spreuke in beeldhoukundige vorms en voorwerpe prikkel die aanbieding jou wakker.
Jammer daar word nie rondleidings vir kabinetslede gehou nie. Kuns kan jou laat nadink oor knope en ontknopings.
Tot 25 Februarie.
- Die Burger