Antwoord voorsien in die vraag na zef
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PRETORIA. – Dit is sulke tyd...
Die zefrappers Die Antwoord se tweede album is aan die kom.
Die Antwoord het in 2010 die ganse wêreld laat regop sit met hul internettreffer “Enter the Ninja”, en hul debuutalbum,$0$, het kort daarna verskyn.
Die reaksie was enorm. Toe die musiekvideo’s van “Enter the Ninja” en “Zefside” op Die Antwoord se webblad beskikbaar gestel is, het die webblad in een maand meer as 41 miljoen trefslae gekry en die bediener het omgeval.
Die Ninja, Yo-Landi Vi$$er en DJ Hi-Tek het met hul “rap-zefrave”-musiekstyl die grense van Afrikaanse musiek verskuif en herskryf, want geen beeldspraak of woord was nou meer te kru om te sing nie.
Dit was egter veral internasionaal wat hulle oornag aftrek gekry het. “Enter the Ninja” het die BBC se Radio One-treffersparade gehaal en Die Antwoord was die eerste Suid-Afrikaanse groep wat na ’n gewilde musiekfees in Kalifornië in die VSA genooi is.
Die Antwoord se internasionale deurbraak het gekom nadat die Amerikaanse musiekwebblad Boing Boingoor hulle berig het.
Die New York Times se kunsredaksie, asook publikasies in Frankryk, Brasilië, Brittanje, Taiwan en België, het al oor Die Antwoord berig.
Die “Enter the Ninja”-video is ook deur MTV in Europa uitgesaai.
Die duo het verlede jaar vir hul internasionale sukses ’n Suid-Afrikaanse musiekprys in die sak gesteek.
Nou is hulle terug met die album Ten$ion en die groot vraag is natuurlik of hulle die sukses sal ewenaar.
Vi$$er verskyn op die omslag van die nuwe CD met ’n bebloede hart, en bloed drup oor haar lippe.
Volgens die webblad van die Universal-platemaatskappy sal dié album van volgende Vrydag op die rakke wees. Volgens Universal is ’n toer ook in die vooruitsig.
Vir hul internasionale aanhangers, is die snitte van Ten$ion reeds op hul webblad beskikbaar deur middel van die digitale platform iTunes.
’n Kykie na die titels van die 13 snitte verraai dat Die Antwoord nie intussen Sondagskoolmusiek begin maak het nie. Dit sluit in “I Fink U Freeky”, “Hey Sexy”, “Zefside Zol”, “Fatty Boom Boom”, “Never Le Nkemise 1 & 2”, “F*k julle n**iers” en “P**lie”.