Aktrises weer saam vir terugblik op lewe
2012-01-27 21:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
“Om terug te kyk na waar ons was, om te sien waar ons nou ná 15 jaar is.”
Dís volgens Nina Swart die rede hoekom Skeer op Richmond nou weer opgevoer word. Dit sal op 3, 4 en 8 Maart by die Woordfees op Stellenbosch op die planke wees.
Die stuk is volgens haar veral gerig op vroue, en dis uit ’n vroulike perspektief saamgestel.
Dit gaan oor twee vroue wat een Desember van die Kaap na Bethlehem in die Vrystaat ry. Op Richmond slaap hulle oor, en in die hotel waar hulle bly, sit hulle die aand in die bad en skeer hul beenhare. Hier ontvou die verhaal.
Swart het die stuk aangepak toe sy haar honneursgraad in spraak aan die US gedoen het. Sy moes ’n mini-tesis skryf oor ’n produksie wat op ’n kunstefees sou werk. Die praktiese punt het sy behaal deur te bewys dat dit gewerk het.
“Ek het vir Saartjie Botha, in wie se koffiewinkel ek toe gewerk het, gevra om die bindingsteks te skryf vir die toonsettings van gedigte wat ons gebruik het.
“Laurinda (Hofmeyr) het haar toe al gedigte getoonset. Sy het die toonsettings op die verhoog vertolk. Die ander in die rolverdeling was ek, Stephanie Hough en Leonore Bredenkamp.”
Met ’n laggie vertel sy dat daar geen regisseur was nie.
“Ek het sommer so ’n bietjie hier en daar gesê iets moet só gedoen word. Ons het ook nie geld gehad nie. Wel, ons het nou nog nie geld nie, maar hierdie keer is ek die regisseur. Of eintlik net aan die stuur. In my rol is Frieda van den Heever. Ek wil nie eintlik meer toneel speel nie. Ek hou van regie en van my televisiewerk.”
Die stuk is toe gekeur vir die KKNK, hulle het het dit opgevoer en het “’n mooi resensie gekry, al was dit nie ’n lokettreffer nie”.
“Die gehoor kry deur middel van ’n verweefde metafoor (reis en verlossing) met klein poskaart-momente ’n blik op die twee vroue.
“Soms klink die beskrywing van hierdie soort stuk so ’n bietjie tjienkerientjee-agtig... Maar dit spreek baie kwessies aan.
“Elkeen van ons wat destyds betrokke was by die stuk, is steeds in die bedryf, al is dit op ander plekke in ons loopbaan. En om dit weer te kan doen, is net vreeslik lekker.”
- Die Burger