7de Laan laat aap toe per ongeluk uit die mou
2009-11-11 00:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Wat wag in 2010 op die mense van Hillside, behalwe 7de Laan se reuse tiende verjaardag?
Die vervaardigers van die immergewilde SABC2-sepie het gister ’n ligte glipsie gemaak deur per ongeluk te ver vooruit vir die land se TV- en vermaakskrywers te laat weet wat gaan gebeur.
In die eerste nuwe 7de Laan-episode van 2010, op Maandag 4 Januarie, begin die program met Gita se baba, wat ook vir die eerste keer in episode 2 126 van die sepie skop.
’n Dag later sal kykers die dramatiese oomblik sien wanneer Altus en Paula erken hoe hulle oor mekaar voel, en die liefde blom behoorlik. Altus “hunker behoorlik na Paula’’ in die eerste week van die nuwe jaar, volgens die vervaardigers. Diaan Lawrenson, wat vroeër vanjaar haar rol as Paula gegroet het, is weer terug by die Danie Odendaal-produksie.
Verder “versprei Zinzi ’n nuwe skinderstorie wat Emma gaan ontstel’’ en “Gita onthul haar planne met die Heights’’.
Die vervaardigers is doodstil oor wat hulle beplan, maar daar sal binnekort koorsagtig agter die skerms aan 7de Laan se tiende verjaardag begin werk word. Dit word in April gevier.
Dit behoort ’n partytjie vir die hele produksiespan, sowel as spesiale TV-episodes en storielyne in te sluit wat gedurende April 2010 uitgesaai sal word.
Die mylpaal-viering vir ’n plaaslike TV-produksie behoort al die sepie se vorige partytjies, soos die viering van die 2 000ste episode, ver te oortref.
Die sepie se eerste episode is op 4 April 2000 op SABC2 uitgesaai en het oor die jare van twee episodes per week tot vyf gegroei. Die jongste kyksyfers toon 7de Laan is met 1,92 miljoen kykers naas Stokvel die gewildste program op SABC2.
- Die Burger